Vermoorde was glo fluitjieblaser in omstrede Vrede-suiwelprojek

Argieffoto

Die man wat Vrydag dood op die plaas Knelvlei buite Vrede in die Vrystaat aangetref is, was glo een van die fluitjieblasers wat die beweerde korrupsie in die opspraakwekkende Vrede-suiwelplaasprojek aan die lig gebring het.

Maroela Media het vroeër berig Philemon Ngwenya se liggaam is Vrydagoggend op die plaas aangetref. Brig. Sam Makhele, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ʼn nadoodse ondersoek moet nog die oorsaak van Ngwena se dood bevestig, maar dit lyk asof ʼn stomp voorwerp betrokke was.

Die DA het egter in ʼn verklaring gesê Ngwenya is glo in die kop geskiet.

Patricia Kopane, die DA se premierskandidaat van die Vrystaat, beweer Ngwenya was een van die beoogde begunstigdes van die omstrede Vrede-suiwelprojek. “Mnr. Ngwena was uitgesproke oor die twyfelagtige ooreenkoms en in nuusberigte van Augustus vanjaar het hy erken begunstigdes is ‘bitter’ en dat hy ‘nie eens R2 by die projek’ gekry het nie,” het Kopane gesê.

“Onlangs is daar opnames versprei van ʼn persoon in Vrede wat ʼn beroep doen dat al die begunstigdes [van die projek] doodgemaak word. Die opname is na die polisie aangestuur.”

Makhele wou egter nie dié bewerings bevestig nie. “Die saak word hanteer soos enige ander moordondersoek en daarom word alle moontlikhede oorweeg en alle leidrade opgevolg. Om die slagoffer aan sekere sake of omstandighede te koppel oor ʼn verklaring wat die DA uitgereik het, kan die ondersoekspan se aandag aflei van ander aspekte waarop gefokus moet word,” het Makhele gesê.

Hy meen indien Ngwenya wel ʼn begunstigde van die Vrede-suiwelplaasprojek was en indien sy dood hiermee verband hou, sal dit tydens die polisie se ondersoek aan die lig kom.

Makhele wou ook nie bewerings bevestig dat Ngwenya op ʼn ander plek vermoor is en dat sy liggaam ná sy dood na die plaas geneem is nie. “Ons ondersoek begin op die plek waar die liggaam gevind is. Resultate van forensiese ondersoeke mag dalk daarop dui dat die moord elders plaasgevind het, maar ek kan nie die ondersoek vooruitloop en sê dat dit wel die geval is nie.”

Kopane het ʼn beroep op die polisie gedoen om spoedig die ware motief vir die moord vas te stel. “Indien die motief verband hou met die suiwelplaasprojek, sal dit nie die eerste keer wees dat iemand sy lewe verloor terwyl hy besig is om die verrotting in hierdie projek te ontbloot nie. Moses Tshake, ʼn ouditeur in die Vrystaatse departement van landbou, is ontvoer, gemartel en doodgemaak nadat hy in 2013 na bewering betalings bevraagteken het wat verband hou met die Vrede-suiwelplaasprojek.”

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, het in Februarie vanjaar haar verslag bekendgemaak oor die suiwelprojek. Sy het ondersoek ingestel na bewerings dat die Guptas glo miljoene rande van die Vrystaatse regering gekry het uit dié projek. E-posse wys glo hoe miljoene rande na Gupta-maatskappye oorbetaal en gebruik is om onder meer vir die veelbesproke Gupta-troue te betaal.

Die joernalistieke ondersoekeenhede amaBhungane en Scorpio beweer R84 miljoen wat deur die Vrystaatse regering aan die suiwelprojek toegeken is, het in die Guptas se hande beland.

Die DA en die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet het intussen die OB se verslag in die hof betwis. Hulle versoek die hof om die verslag as ongrondwetlik te verklaar en ter syde te stel, omdat Mkhwebane versuim het om politici soos Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat, en Mosebenzi Zwane, destyds die LUR vir landbou, in haar verslag te noem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rooikop ·

Wanneer word die skuldiges dan nou gearresteer ??????????? Ons almal weet wie hulle
is maar niks gebeur nie.,…………… nou is die fluitjieblaser vermoor ……………..

christa ·

so word christene vevolg en dood gemaak. Mense wat staan vir geregtigheid is altyd die teiken vir die wereldslinge.

Joey ·

@Christa, en hoe weet jy wat sy geloof was? Jy kan nie net so aanname maak nie.

Katvis ·

Is ‘n vluitjieblaser nie veronderstel om anoniem te wees nie?

Netso ·

Waardeloos is ñ lewe in Suid Afrika! Elke gesprek, net een lang gekla. As jy ñ toekoms vir jou kleingoed soek, kry julle stert uit daar?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.