Vermy probleme met skooltoelatings

Gauteng-skoolregistrasie-2016

Argieffoto

Dit is amper tyd vir Gautengse ouers om hul kinders vir gr.1 en gr.8 se skooltoelating te registreer vir 2018.

Volgens Hugo Vermeulen, hoof van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit Helpende Hand, gaan vanjaar se aanlyntoelatingsproses dit nog moeiliker maak vir Afrikaanse ouers om hul kinders suksesvol by hul skool van keuse geplaas te kry.

“Ouers moet dus nie in ʼn gemaksone verkeer nie en dubbel seker maak dat hulle betyds die regte stappe volg. Die registrasieproses begin die dag ná 1 Mei, Werkersdag, en baie ouers is dalk nog in ʼn vakansieluim of nie by die ʼn plek met internettoegang nie,” het Vermeulen gesê.

Ten einde ouers te help het die SOS ʼn ses-stap-plan vir Afrikaanse ouers opgestel:

  1. Kry so gou moontlik die skool van keuse se aansoekvorms en maak seker jy het gewaarmerkte kopieë van alle dokumente gereed.
  2. Handig die voltooide papieraansoek (met alle meegaande dokumente) persoonlik so gou as moontlik, tussen 18 April en 12 Junie 2017, by die skool van keuse in en verkry ʼn bewys daarvan. Indien jy versuim om hierdie dokumente voor 12 Junie in te handig gaan jou kind nie geplaas kan word nie en sal jy later ʼn skool moet aanvaar wat vir jou gekies word.
  3. Sorg dat jy Dinsdag 2 Mei van 08:00 by ʼn rekenaar met internettoegang is om aanlyn te registreer by dié webadres.
  4. Ruim dus genoeg tyd in om die hele aanlynproses sorgvuldig en deeglik op hierdie dag te voltooi of so gou moontlik daarna. Voltooi al die velde en maak seker dat jou registrasie suksesvol deurgegaan het na die aanlynplatform. Hierdie aanlynaansoek moet voor 12 Junie gedoen word, maar doen dit eerder so gou moontlik op of ná 2 Mei.
  5. Maak seker van jou bewys deur middel van ʼn SMS asook ʼn brief tussen 24 en 28 Julie van die Gautengse departement van onderwys.
  6. Ouers het sewe skooldae, tussen 1 en 10 Augustus, om die skoolplasing te aanvaar of te verwerp volgens die proses wat die departementele brief sal aandui.

“Ouers moet kennis neem dat die aanlyntoelatingstelsel nêrens die opsie vir Afrikaanssprekende ouers laat om hul taalvoorkeur aan te dui of te gebruik nie. Die SOS voorspel dat baie Engelssprekende ouers juis hierdie gaping in die stelsel sal gebruik om by Afrikaanse skole aansoek te doen en só op die ou end die skool se beheerliggaam te forseer om Engelse leerlinge in te neem,” het Vermeulen gesê.

Volgens die SOS gaan skoolhoofde ʼn uiters belangrike rol speel om akkurate plasings te doen volgens hul skool se toelatingsbeleid. “Skoolhoofde gaan daarom alle moontlike ondersteuning nodig hê, ook van ouers,” het Vermeulen gesê.

Die aanvaarding van die skoolhoof se plasings moet eers deur die Gautengse onderwysdepartement goedgekeur word – dit op sigself is vir die SOS ʼn bron van kommer.

Ouers wat probleme of klagtes het word versoek om direk by die skool waar hulle aansoek gedoen het te gaan aanklop om hulp. Dié skole is die beste in staat om ouers te help aangesien hulle die proses op die aanlynstelsel kan volg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

afrikaans ·

Jan van Riebeeck in Kaapstad, Kloofstraat, kan die ouers gerus kontak. Afrikaansssssssss

Wes-Kaap ·

Goeie genugtig maar ek is dankbaar ons woon in die Wes-Kaap! Toelatings het reeds 6 Februarie geopen en einde Maart gesluit en alles is klaar afgehandel. Ons het ons vorms die 6de Feb afgegee en is op die 7de per epos ingelig dat ons kind voorlopig toelating het vir Gr8 en dat dit in Junie finaal bevestig sal word.

Mica ·

Kan jy moontlik vir my sê hoe laat die aanlyn registreer opmaak? Is dit 12am of 8am?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.