Vermy vandag dié Pretoria-strate

Polisiebeamptes tydens ʼn vorige optog in die strate van Pretoria (April 2017). Foto: Maroela Media

Talle strate in die Pretoria-sakesentrum sal vandag geaffekteer word deur ʼn optog van ʼn groep genaamd “All Tshwane Vat Alles Employees”.

Nonhlanhla Mgiba, woordvoerder vir die Tshwane-metropolisie (TMPD), het bevestig dat daar formeel toestemming gegee is aan dié groep om die optog te hou.

Maroela Media het vroeër berig dit blyk egter asof die optog deel vorm van die ANC-Jeugliga se sogenaamde #TshwaneShutdown wat vir Vrydag beplan word, hoewel die aansoek vir die optog as die “All Tshwane Vat Alles Employees”-groep ingedien is.

ʼn Kennisgewing, onder die ANC-Jeugliga se naam, wat wyd op sosiale media versprei word, dui aan dat die protesaksie gehou sal word om te eis dat 11 000 “Vat Alles-werkers” weer aangestel word, 10 000 veiligheidswagte wat afgedank is weer aangestel word, dat daar aan kerke “die grond gegee word wat aan hulle belowe is”, dat hoë verhuringstariewe verminder word en dat “die teistering” van informele handelaars stopgesit word.

Daar is ook gister ʼn pamflet versprei waarin ondernemings en skole in en om die Pretoria-sakesentrum gewaarsku word om vir die dag te sluit. Volgens die pamflet sal ondernemings wat wel kies om hul deure vir die dag te open dit “op eie risiko” doen.

Die pamflet het daartoe aanleiding gegee dat die Stad Tshwane ʼn beroep op die minister van polisie en die nasionale polisiekommissaris gedoen het om die inwoners van Pretoria te beskerm. Mgiba het wel gesê TMPD-beamptes sal ontplooi word om die optog te monitor.

Strate wat geraak word

Volgens die TMPD sal die optoggangers om 08:00 by Burgerspark in die Pretoria-middestad bymekaarkom en van daar af na Lilian Ngoyi-straat beweeg en regs draai in Madibastraat tot hulle Tshwane House bereik. Van daar af sal hulle na die Uniegebou beweeg en dan terug na Burgerspark deur Leydsstraat, Pretoriusstraat, Nelson Mandela-rylaan, Nana Sita-straat en Thabo Sehume-straat.

Die optog sal na verwagting om 16:00 tot ʼn einde kom. Motoriste is aangeraai om bogenoemde strate te vermy en van alternatiewe roetes gebruik te maak.

Mgiba het gesê TMPD-beamptes sal ontplooi word om die optog te monitor. Lede van die publiek kan Vrydag enige onwettige aktiwiteite by 012 358 7095 of 012 358 2124 aanmeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Blits ·

As dis so danig n vreedsame optog is, hoekom moet mense dan hulle deure sluit en wegbly uit di strate?? dan is dit mos alles behalwe vreedsaam.

In so n geval moet die weermag en die polisie ontplooi word om die inwoners te beskerm teen die optoggangers wat nie werk het nie, dis waarvoor hulle betaal word.

dit word gesien as n proses of manier om die land te destabiliseer en mense se lewens word bedruig en so ook hulle eiendom, dis terrorisme.

Cherokee ·

Blits, ek het so blitsig deur die bitsige kommentare geloer en toe by myself gedink dat jy die woord destabiliseer in jou laaste sin kon verander na diaboliseer. Sinvolle kommentaar, dankie.

Elsa ·

Het die oproeriges nie werk nie, of is DIT hulle werk? Tyd dat opgetree word en gestuit word, dit bring net nog probleme…

toy ·

Blits ek stem saam jou. Daar is niks vreedsaam daaraan dan nie.

Lientjie ·

Hulle se vanoggend op Bosveld en MM dat hulle ook Uniegebou toe gaan, maar Jakaranda se weer nee hulle gaan nie Uniegebou toe nie, so wat is die regte inligting dan nou?? Kan iemand vir my se asb, want ons Madibastraat verby die Uniegebou????

wielie ·

Jitte maar die mense het baie tyd om te mors! Wens my baas wil my gaan laat “optog” .

Anna ·

Gegewe dat die regering alles in plek het vir die afkondiging van ‘n noodtoestand, moet so ‘n toestand geskep word om dit in werking te kan tree. Die effek van sodanige noodtoestand is nie goed vir die landburgers nie – ontwapening is maar een van die magte wat gegee word. Volgens wat ek verstaan, word daar spesiaal van buitelanders gebruik gemaak om die amok te veroorsaak. Never a dull moment in South Africa!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.