Verna ontslaan; klein Mienke steeds in waakeenheid

Verna Mulder en baba Mienke (Foto: Facebook)

Verna Mulder, baba Mienke se ma, is Woensdagaand uit die hospitaal ontslaan nadat sy verlede Vrydagmiddag ʼn hartstilstand ondervind het.

Ryno, Verna se man, het Donderdag aan Maroela Media gesê dokters is steeds onseker wat aanleiding tot dié toestand gegee het.

Volgens hom het dokters Verna aangeraai om ʼn kardioloog te besoek wat ʼn meer akkurate prognose oor haar toestand sal kan gee. “Die dokters sê haar hartklop is soms té hoog en soms té laag. Dit is nooit net reg nie. Ons het verlede Vrydag aanvanklik bekommerd geraak omdat haar hartklop te laag was, en sy het die hartstilstand ondervind toe haar hartklop later Saterdag weer deur die dak geskiet het,” het hy gesê.

Die egpaar wag tans vir ʼn afspraak by die kardioloog en sal eers daarna meer oor die toestand kan hoor.

Ryno sê dit gaan egter reeds baie beter met Verna se gesondheid. “Ek is baie dankbaar dat dit nou weer beter met haar gaan. Ek het dit voorheen gesê en ek sal dit weer sê: Die hospitaal is nie ʼn plek vir jou vrou en jou kind nie. Dit maak mens seer om hulle daar te sien. Nou is dit nog net ons dogtertjie waarvoor ons ook bid.”

Volgens hom is klein Mienke steeds in die waakeenheid. Sy is vroeër in die hospitaal opgeneem waar sy vir verskeie kwale behandel is wat onder meer voeding deur ʼn drup in haar nek insluit omdat sy elke keer opbring wanneer sy iets eet. Haar voetjies is ook in gips geplaas om dit reguit te hou.

Baba Mienke (Foto: Facebook)

“Ons was die afgelope naweek so besig met die gebeure dat ons nie by Mienke se dokters uitgekom het nie. Daar is nog nie ʼn finale antwoord oor hoe haar toekoms nou lyk nie en ook nog geen sprake oor wanneer sy ontslaan sal word nie. Ons sal vandeesweek met die dokters praat om te hoor of hulle wel bekommerd is oor haar gesondheid,” sê hy.

Die Mulder-gesin wil steeds weldoeners bedank wat die gesin in hul gebede opdra. Verna het Woensdagaand laat op Facebook gesê sy is dankbaar om dié pad te stap met ʼn sterk ondersteuningstelsel.

“Ons is so blessed met ʼn groep ondersteuners soos julle. Ek is baie bly om vanaand weer in my eie bedjie te kan slaap, [hoewel ek] hartseer is om Mienke in die hospitaal te los. Ek weet egter hulle kyk mooi na haar [in die hospitaal],” het sy geskryf.

Maroela Media het vroeër berig klein Mienke is op 25 Augustus verlede jaar na die hospitaal gehaas toe sy glo aan melk verstik het. Volgens mediese personeel was sy ʼn geruime tyd sonder suurstof. Sy is vir etlike weke in die hoësorgeenheid van ʼn Johannesburgse hospitaal behandel. Die gesin het vroeër gevra vir gebede en vertel dat hulle vasklou aan hul geloof.

Die gesin het vroeër gevra vir gebede en vertel dat hulle vasklou aan hul geloof. Die Facebook-blad Please Pray for Mienke gee daagliks meer inligting oor Mienke se vordering. Vir meer inligting besoek Please Pray for Mienke op Facebook.

Van die dag van Mienke se ongeluk het ek na haar laggies verlang… as daar 1ding is waarvoor die mamma elkedag gebid het was om net weer my pop te sien smile… my hart breek in n duisend stukkies om my pop so te sien, elkedag probeer ek dit net "fix" en besef net weer dis nie n quick fix nie…. vandag is ek ontslaan uit die hospitaal, en terwyl ek weer by mienke sit bid ek en vra ek vir God om my te wys dat als okay gaan wees…. en terwyl ek vir mienke oorlaai met liefde sien en voel en beleef ek vir die 1ste keer n ware Glimlag!!!! Dankie Heer… ????????

Posted by Verna Rheeders Mulder on Wednesday, February 28, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lollie ·

Sterkte! Ons bly bid! Julle is in baie mense se gebede. Mense wat weet van julle maar wat nie fb en Maroela het nie. Klou maar net aan julle geloof en God sal die res doen.

Ada ·

Ai ek dink so aan julle, wat ‘n pragtige mooi poppie is sy tog!!
Mamma jy is net so mooi!!!!
Sterkte vorentoe.

Hendrik van George
dis so ‘n hartseer verhaal- maar gaan lees gerus op die internet oor Baba Mienke.
Groete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.