Verna Vels oorlede

Verna Vels Foto: FAK

Verna Vels Foto: FAK

Verna Vels, die skepper van Liewe Heksie, is Donderdagaand in haar huis in Johannesburg oorlede, berig RSG.

Verna Barbara Robertson Vels (81) het ʼn dapper stryd teen kanker gestry.

Die FAK het vroeër in sy erkenning aan Vels se kultuurbydrae tot Afrikaans gesê sy het in 1973 geskiedenis gemaak: sy was die eerste vrou wat as SAUK-organiseerder in ʼn streek (destydse Natal) aangestel is.

In 1974 het sy in Johannesburg as organiseerder van Afrikaanse joernaalprogramme begin werk, wat kinder- en jeugprogramme ingesluit het. In die twee jaar voordat televisie amptelik op 5 Januarie 1976 op die lug gegaan het, was sy betrokke by programvervaardiging, aankope en beplanning. Programme soos Kraaines en Wielie-Walie ontstaan onder haar leiding.

Die Liewe Heksie-stories is aanvanklik as radioverhale aangebied en die eerste een is in 1961 op die kinderprogram Siembamba uitgesaai. Die eerste boek het in 1965 by Human & Rousseau verskyn. Liewe Heksie het in 1978 haar debuut op televisie in ’n reeks van 26 programme gemaak en ’n tweede reeks het in 1981 gevolg.

Later het nog etlike radioreekse oor die geliefde karaktertjies van Blommeland gevolg met 10 Liewe Heksie-boeke, 52 TV-episodes, agt plate en etlike CD’s.

Verna se stem is in die Liewe Heksie-reeks vir Blommie Kabouter, Liewe Heksie en Klein Kwaaitjie gebruik. Klik hier om meer te lees.

Sy was ook skrywer van talle ander jeugverhale en verwerkings vir radiodramas. Sy is op 13 Junie 1933 in Reitz in die Vrystaat gebore.

'n Toneel uit Blommeland

‘n Toneel uit Blommeland

Liewe Heksie is in 2012 in Maroela Media se veldtog aangewys as die Grootste Afrikaner van Alle Tye in die fiktiewe kategorie.

Intussen stroom huldeblyke in vir Verna, van bekendes en onbekendes.

Ivor Price skryf op Twitter: “Jammer om te hoor dat Verna Vels, die skepper van Liewe Heksie, haar stryd teen kanker verloor het. Haar stories bly egter volksbesit.”

Dowwe Dolla: “My hart baıe seer. Verna Vels oorlede. #lieweheksiesema”

Karen Hart: “Liewe Verna Vels, rus sag. Dankie vir Liewe Heksie, die nare Geelheks en die gifappeltjies, Koning Rosekrans en Kwaaitjie Kabouter. Jy het my kindertyd in ‘n fantasiewêreld omskep en was deel van my eerste leeservarings. Ek het hierdie mooi herinneringe met my saamgeneem die grootmenswêreld in waar fantasie en kinderdrome die werklikheid baie draagliker gekleur het.”

Francois Coertze: “Slaap sag Verna Vels. Dankie vir die oooeee Blommie en Karel kat verlede. Ek dink Borrie en Kerrie sal vir ewig hul streke uitleef in my verbeelding. Glo ook Karel Kraai gaan vir Sarel Seemonster net so mis… RIV Tannie Verna…”

Hennie Jacobs: “Rus sag Verna. Ons gaan jou baie mis…”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Griet ·

My kleuters het Liewe heksie net so baie geniet soos ek het as ‘n kind. Dankie Tannie Verna, rus sag.

Bibi ·

Rus in vrede Verna Vels. Ek was en is nog steeds ‘n groooot Liewe Heksie aanhanger. Jy sal beslis onthou word.

Griet ·

My kleuters het Liewe heksie net so baie geniet soos ek het as ‘n kind. Dankie Tannie Verna, rus sag.

Elizabeth ·

Sy het ‘n kind se siel verstaan al had sy nooit haar eie – sy het ons soveel genot verskaf met al haar stories! Sy laat ‘n groot gemis in die Afrikaanse kinderlektuur-wêreld. Mag jy rus vind weg van alle pyn.

Claudia Malan ·

Rus in vrede Tannie Verna Vels. Baie dankie vir jou liefde vir afrikaans en vir liewe Heksie.

Elaine ·

Die stryd wat jy gesty het is nou verby. Rus in vrede Verna, (Liewe Heksie). Ek wens ek kan die hele reeks van Liewe Heksie iewers kry, want ek was mal daaroor en is nog steeds al is ek ook al n ouma.

Cobie Le Grange ·

Rus sag Verna Vels, u is verlos van alle pyn en veilig waar u nou is. Sterkte aan al u familie en vriende in die moeilike tye! Liewe Heksie was altyd baie lekker om te kyk!

Sameerah Frost ·

Hoe lekker was dit nou om Liewe Heksie te kyk. Danksy programme soos dit het ek van kleins af n liefde vir afrikaans ontwikkel. Baie dankie vir jou bydra Verna Vels. Rus in vrede want jyt jou merk gemaak.

Hanlie ·

Ek sien haar as een van SA se grootste afrikaanse skrywers vir kinders. Sy het aan ons as jong kinders stories gebring waarin ons kon verdwaal van lekkerkry. Vandag geniet my kinders haar stories netso….ek was in st 4 “gelukkig” om oooeeee Blommie te kon speel.
Rus Sag Tannie Verna!

Belinda Ellis ·

Rus in vrede Tannie Vera ek en my kinders en nou ook my kleinkinders het liewe Heksie so baie
geniet mag jy vrede kry

veronica ·

My hart is baie seer!! Wonderlike herrineringe van my kinders se kleutertyd en gelukkiger dae!! Jy sal altyd deel van my mooiste herrineringe bly Verna! Rus Sag!! En vrede aan jou geliefdes wat agter bly!

Devan ·

Haar boeke en plate sal ek altyd onthou. Dit is danksy Verna dat ek my liefde vir my taal het en tans onderwysafrikaans swot. Jy sal gemis word. Rus in vrede.

sussan korff ·

het saam met my kroos, na Liewe Heksid gekyk en geluister….Dankie Verna..jy het ware skatte nagelaat

marianne ·

Ek het as kind liewe heksie saam met my sussies gekyk, dit het ons weggevoer! RIP

Borrie Potas ·

Rus sag tannie Verna, ekt die eer gehad om jou 1keer te kon ontmoet so 5jaar gelede. Liewe Heksie sal altyd een van my gunsteling kinder stories bly, en my kinders sal ook daarmee groot word, verseker!

Werner Kemp ·

Dit is met n skok, om Vrydagoggend te moes hoor oor RSG, van ons volk se geliefde Liewe Heksie tannie, wat oorlede is. Sy was n merkwaardige vrou, met vele talente. Sy sal beslis gemis word deur baie. Mag sy veillig rus. Aan haar familie wil ek net se, innige meegevoel aan u, mag julle in hierdie tyd ware troos en berusting van die Here ontvang.

gerty van huyssteen ·

Mis die ou dae waar deure nog oopgestaan het,,kinders buite kon speel,en dan inkom vir Liewe Heksie kyk,hul onthou nou nog goed en is trots op hul ouderdom om dit te deel en saam gesels Ai Verna jy was Legende vir Afrikaans,,kindertjies en Ons grootmense was so mal oor jou program..Duisende het dit gekyk Derduisende mense.Trots op jou, Afrikaans is so mooie taal.Boekies gelees Ai waar is die dae nou?? Ek mis daai tye vreeslik baie..Dit was die beste jare van my kinders se lewens..

Jaco Jansen Van Vuuren ·

Vandag kyk mens na episodes van Liewe Heksie en wonder hoe het ons so lief geword vir n pop spel, ken nie die antwoord nie maar ons het. Dan kyk ons na die gemors wat vandag vir kinders aangebied word op tv en dan besef ons hoe baie ons geleer het uit die Heksie reekse.

Vandag se kinder programme is net geweld en die kinders leer niks daaruit nie behalwe dit dit reg is om te slaan en te moor, nee wat gee my enige dag Liewe Heksie. Rus sag Verna

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.