Vername oudregter eis Hlope se kop  

Oudregter Johann Kriegler.

Een van die land se mees gerespekteerde oudregters, regter Johann Kriegler, dring daarop aan dat die Wes-Kaapse regterpresident, regter John Hlophe, dadelik deur die regterlike dienskommissie van die regbank verwyder word.

Kriegler, die eerste voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie en een van die eerste regters van die Konstitusionele Hof, is tans voorsitter van die suksesvolle burgerlike waghondorganisasie Freedom Under Law.

Kriegler het vanoggend in ʼn artikel op die nuusplatform Daily Maverick sterk standpunt ingeneem teen Hlophe en die regterlike dienskommissie se slap hantering van die talle dissiplinêre klagtes teen hom en ander regters. Kriegler het ook hoofregter Mogoeng Mogoeng behoorlik uitgetrap en die huidige huismoles in die Wes-Kaapse hooggeregshof betreur.

Die jongste klagte teen Hlophe is verlede week by die regterlike dienskommissie – wat regters moet aanstel en dissiplineer – ingedien deur die adjunk-regterpresident van Wes-Kaapland, regter Patricia Goliath.

Sy het ʼn omvattende reeks ernstige klagtes teen Hlophe ingedien, waaroor Maroela Media reeds in besonderhede berig het, onder meer dat hy minstens twee ander Wes-Kaapse regters fisiek aangerand het.

In sy artikel wys Kriegler uit dat dit die tweede keer is dat Hlophe deur ʼn senior mederegter by die regterlike dienskommissie verkla word omdat hy regters probeer beïnvloed en omgepraat het om hul onpartydigheid oorboord te gooi en Zuma te bevoordeel in uiters belangrike hofsake.

Die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe. (Foto: judgesmatter.co.za)

Die vorige keer dat Hlophe verkla is oor soortgelyke beweerde gedrag was 12 jaar gelede. Toe het twee regters van die Konstitusionele Hof, regters Bess Nkabinde en Chris Japhta, elkeen ʼn klag ingedien dat Hlophe (wat geen rol in die Konstitusionele Hof het nie) hulle ten gunste van Zuma probeer beïnvloed het.

In sy artikel wys Kriegler uit dat die saak nou al 12 jaar sloer, met die regterlike dienskommissie wat volgens Kriegler nie sy werk doen nie.

Kriegler voer pront aan dat daar solidariteit met en bevoorregting van Hlophe blyk te wees. Hy lê die blaam voor die deur van Mogoeng as voorsitter van die regterlike dienskommissie. Dié kommissie bestaan uit senior regters en politici, asook senior verteenwoordigers van elke vertakking van die regsberoep.

Kriegler wys daarop dat daar met die vorige pro-Zuma-klagte 12 jaar gelede van owerheidskant met Hlophe ooreengekom is dat hy met verpligte verlof sou gaan totdat die saak afgehandel is.

Binne agt maande, en met die saak allesbehalwe afgehandel, het Hlophe weer by die Wes-Kaapse hooggeregshof opgedaag en sy pligte hervat, met geen optrede teen hom deur die regering of die regterlike dienskommissie nie.

Kriegler meen dat hierdie gedrag jeens Hlophe tans opnuut deur Mogoeng en die regterlike dienskommissie herhaal word.

Toe die Kaapse balieraad Mogoeng verlede week versoek het om te vra dat al vier regters wat deur Goliath se klagskrif geïmpliseer word op verlof geplaas word totdat die saak afgeloop het, het Mogoeng geweier. Dié regters is Hlophe, regter Gayaat Salie-Hlophe, wat met Hlophe getroud is, die regter wat glo deur Hlophe aangerand is en Goliath self.

Boonop het die regterlike dienskommissie ʼn verklaring uitgereik waarin te velde getrek word teen enigeen wat vra dat Goliath se klagte spoedeisend afgehandel word.

In ʼn kwalik bedekte implisering dat Freedom Under Law nie sal skroom om weer die regterlike dienskommissie die verleentheid van ʼn hofnederlaag weens pligsversuim aan te doen nie, dring Kriegler aan op sterk optrede – dadelik.

“Die giftige situasie in die Wes-Kaapse hooggeregshof moet dadelik aandag kry. Die beginpunt moet wees om regterpresident Hlophe te verwyder, hetsy deur kollegiale oortuiging of kragtens die Grondwet. Die probleem veroorsaak deur regter Hlophe moet vir eens en vir altyd opgelos word.

“Elke dag wat verloor word deur ʼn gebrek aan optrede ondermyn openbare vertroue en optimisme nog meer,” sluit Kriegler af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SomeOne ·

regter kriegler, maak ‘n voorbeeld van hloph en
moegeng moes ook al lankal nie meer op die regbank gewees het nie

Pieter J ·

Ek wonder of daar nog iemand in SA is wat dink die regbank is betroubaar en onafhanklik. ń Mens moet werklik oningelig, naief of baie dom wees as jy dit glo.

Niklaas ·

Hierdie Hlope regter of wat hy okal is , het duidelik ontsettend baie mag . Hy is kort kort oor misdrywe in die nuus , maar daar is geen sanksies of strawwe. Onaantasbaar , blyk dit vir my

Sarel ·

Maar sit sit hy soos iets aan ‘n wolkombers. Laat mens dink nê

henndrik ·

Ek wonder net, is die regbank regtig nog on(politiek)partydig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.