Vernietigende brand tref Suiderstrand

Die area ná die brand. (Foto: Twitter)

Deur Pierre Massyn

ʼn Grootskaalse ramp is ter nouernood afgeweer toe ʼn brand Sondag ongeveer 10:00 op Suiderstrand naby Agulhas uitgebreek het.

Vrywillige brandvegters het op alle fronte verbete teen die vlamme geveg, maar kon nie verhoed dat een grasdakhuis deur die vlamme verswelg word nie. Inwoners van Seemansweg spekuleer dat dit  ʼn braaivleisvuur was wat skynbaar net langs die parkeerterrein gemaak is, wat buite beheer geraak het.

Die sterk suidoostewind het die vlamme in die rigting van Lagoonweg aangedryf waar die grasdakhuis op die hoek van Lagoonweg en Seemansweg die vuur ten prooi geval het. Die huis direk langs die afgebrande huis het kort vantevore ʼn teëldak van sy eienaar, Delene Visser, gekry, wat ongetwyfeld die huis se redding was.

Wat verblydend is, was hoe totale vreemdelinge mekaar in die krisisuur bygestaan het. Dit was geen ongewone gesig om mans, vroue, seuns en dogters van die een brandpunt tot die volgende sien hardloop om die aanstormende vlamme te probeer blus nie. Hiér het ʼn groepie water gespuit en emmers water gegooi, dáár het ander desperaat met nat handdoeke die vlamme probeer doodslaan. Huise in Seemanstraat wat bedreig was, is Mi Casa, Su Casa en die huis direk wes van die parkeerterrein.

In een stadium het die vuur oor Lagoonstaat gespring, maar die vlamme is gelukkig geblus voordat die vuur na Blue Bay kon versprei. Twee manne het deur die digte rook verby die brandende huis in Lagoonstraat gestorm nadat verneem is dat die bejaarde inwoners van Loodswaai, oom Flippie Lourens en tannie Esmé, in hul huis vasgekeer was. Dit het egter geblyk ʼn vals alarm te wees. As ʼn voorsorgsmaatreël is Loodswaai en die ander huise in Lagoonstraat se aanliggende fynbos, waar tuinslange beskikbaar was, natgespuit.

Die area ná die brand. (Foto: Twitter)

Die onbaatsugtige optrede van die vrywillige helpers het ongetwyfeld gehelp om groter skade te voorkom en die vlamme wat soms tot twee verdiepings hoog opgespring het, minstens gedeeltelik te beheer, totdat die geel Bell Huey-helikopter teen ongeveer 11:35 sy verskyning gemaak het. Die bedrewe vlieënier, Mike Bothma, het met groot vliegvernuf met sy meganiese naaldekoker wat meer as R10 000 se brandstof per uur verorber, 1 000 liter water op ʼn slag geskep en dan “bomme” op strategiese plekke gelos waar die vlamme die ergste was. Dit was egter te laat om die grasdakhuis te red, maar ander huise in Lagoonweg, veral die houthuis Daisy, is wel gered.

ʼn Besoeker, Jacques Lourens, van Pondokkiestraat in Suiderstrand wat self ʼn helikoptervlieënier is, vertel dat dit nie in enige man se broek sit om ʼn helikopter in die rook te maneuvreer, water te skep en dan strategies te “plant” nie.  Intussen het spanne van SANParke en die noodbystandspersoneel van Struisbaai, wat Danie Viljoen ingesluit het, op die toneel verskyn en soos een man teen die vlamme baklei. Daar was selfs ʼn bakkie van ʼn besoekende boer met ʼn tenk en ʼn pomp op die toneel. Toe die brandweerwa van Bredasdorp teen 11.50 op die brandtoneel gedaag, was dit duidelik dat die vuurkordon in sy spore gestuit was en die huise aan die westekant van Lagoonweg buite gevaar.

Daar word hulde gebring aan die talle onbekende en onbesonge helde wat vrywillig rook ingeasem het en roet op hulle gesigte gekry het. Hierdie brand wat maklik in ʼn volslae katastrofe kon ontaard het en die hele park in puin kon laat opgaan het, het weer eens die noodsaak van ʼn gebeurlikheidsplan vir elke dorp aan die Suidpunt onderstreep. Inligting oor waterpunte, persele met swembaddens, versamelpunte en koördinering, wat alles deel van ʼn oorkoepelende noodplan behoort te vorm, behoort dringend geformuleer te word. Daar behoort ook streng wetstoepassing teen die ongeoorloofde skiet van vuurwerk, asook teen die boosdoeners wat gereeld onwettig op die strand vuurmaak, veral naby die skeepswrak, te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.