Veroordeelde moordenaar sit langer na nóg moorde  

Shaun Oosthuizen 41) [Foto met vergunning van Laevelder]

Shaun Oosthuizen, die man wat reeds drie lewenslange vonnisse uitdien vir die moord op bejaardes, is Maandag tot ʼn bykomende lewenslange vonnis en 30 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan nog ʼn moord skuldig bevind is.

Oosthuizen is vroeër tot drie keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moorde op Hetta Potgieter (85), Barbara Esme Fenton (74) en Engela van Wyk (86).

“Oosthuizen het nadat hy tot lewenslange tronkstraf gevonnis is aan die ondersoekbeampte beken dat hy ook ander slagoffers in Sunnyside en Roodepoort vermoor het,” het kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, gesê.

Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat Oosthuizen in Desember 2015 by ʼn ouetehuis in Sunnyside ingebreek en Emma Goosen (93) beroof het. Sy is in ʼn kas gedruk waar sy dae lank deurgebring het voordat sy gevind is. Sy is kort daarna dood.

In Augustus 2018 het Oosthuizen en ʼn medebeskuldigde Lillas Merry (77) in haar woonstel in Roodepoort oorval. Sy is beroof en vasgebind waarna sy versmoor het.

Oosthuizen is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Merry en tot 15 jaar tronkstraf op elk van die twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

Moordtog tydens borgtog

Potgieter se liggaam is in Julie 2018 in die badkamer van haar selfsorgeenheid in die Macadamia-versorgingsoord in Mbombela aangetref. Haar hande was vasgebind en daar was ʼn voorwerp om haar nek gebind. Oosthuizen het Potgieter aangerand, vasgebind en verwurg. Hy het haar verder van ’n bedrag van R10 000 beroof en van die toneel gevlug.

Hy is kort ná die moord in hegtenis geneem, maar op borgtog vrygelaat waarna hy sy moordtog in Alberton in Gauteng voortgesit het.

Oosthuizen het Fenton op 1 September 2018 in haar huis in Alberton verwurg en is hierna deur die Valke vasgetrek.

Van Wyk is op 24 Junie 2018, skaars ’n maand voor die moord op Potgieter, by die Rus ’n Bietjie-ouetehuis in Springs beroof en vermoor.

Genl.maj. Zodwa Mokoena, hoof van die Valke in Mpumalanga, het die ondersoekspan geloof.

“Ons waardeer die samewerking tussen die ondersoekers en die regbank om te verseker dat hierdie hartelose misdadiger, wat bejaardes geteiken het wat nie hulself kon verdedig nie, uit die gemeenskap verwyder word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Lillian ·

Hartelose, gemors wat weerlose ou tannies vermoor vir wêreldse besittings …

Kerrie ·

Gee asb tronkstraf aan die persoon wat hom borg toegestaan het na al die eerste klomp moorde.

Angel ·

Jy kan dit weer se , hoekom borg as hy alreeds n bedreiging is vir die samelewing .

Jean ·

Hulle mors net geld om nog hofsake te hou vir die man, sy vonnis gaan gelyklopend wees so dit is ‘n tyd mors storie die.

Anna84 ·

As die vark nie borgtog gekry het nie, sou hy nie nog verder kon moor nie. Die staat is net so skuldig in die moorde as gevolg van die vrylating!!

Pensionaris Sedgefield ·

Geen gevolge vir die landdros wat ‘n moordenaar borgtog gegee het sodat hy verder kan moor nie?

Misky ·

Sekere aanklagte teen iemand, behoort nie eens in aanmerking te kom vir borg nie. Hier is nog ‘n bewys daarvan. Dankie tog hy is uit die samelewing verwyder.

Waarnemer ·

Hoe is dit enigsins moontlik vir n moordenaar(verhoor afwagtend of nie) borgtog te gee?

Manie ·

Die man is nie rehabiliteerbaar nie en sal dit weer en weer doen. Permanante verwydering uit die gemeenskap vir wie hy ‘n gevaar inhou is die enigste oplossing.

Toy ·

Sjoe ek kan nie dink jy leef met jouself saam na jy mense so harteloos vermoor nie.

Linda ·

Hoeveel moorde moet n persoon pleeg voor hy as ‘n reeksmoordenaar geklassifiseer word? Duidelik is dit wat die man is!

Wat op dees Aarde ·

Verkragting, bedrog en moord verdien nie borgtog nie. Leer ons nie uit Bushiri, Zuma, Van Vuuren en Oosthuizen nie?

Maritza ·

Word op borgtog vrygelaat om verder te moor. Wat ‘n “wonderlike” regstelstel het ons nie

alice ·

Daar moet ernstig ondersoek ingestel word hoekom of waarom hierdie mense borg kry. Stel maar nog ‘n kommissie aan vir hierdie soort van sake.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.