Verpleegster vang baba op Kaapse busstasie

Argieffoto

Irene Kabongo, ʼn professionele verpleegster, het nooit gedink sy sal haar mediese kennis tydens haar busrit op pad terug huis toe moet aanwend nie, maar dit is presies wat Donderdagaand gebeur het toe een van die passasiers op die bus in kraam gegaan het.

Kabongo het kort voor 20:00 by die MyCiTi-stasie by Woodbridge Island in Kaapstad op die bus geklim nadat sy vroeër die dag vir ʼn werksonderhoud gegaan het. Sy het langs ʼn swanger vrou op die bus gesit wat haar meegedeel het dat sy nie lekker voel nie.

Luidens ʼn verklaring van die Stad Kaapstad het die vrou aan Kabongo gesê sy is op pad Somerset-hospitaal toe omdat sy kontraksies ervaar. “Ek het haar gevra oor die gereeldheid van die kontraksies en besef dat sy enige oomblik sou begin om geboorte te gee. Ek het die noodnommer op die bus gebel en ons het by die Milnerton-stasie afgeklim,” vertel Kabongo.

Tyd vir hospitaal toe jaag, was daar nie. Kabongo het die 33-jarige vrou op ʼn kombers gemaklik gemaak terwyl Anele Damgazele, ʼn veiligheidswag by die stasie, hand bygesit het.

“Die baba was reeds aan die kom. Ek het vir die wag gevra om die noodhulpkissie te gaan haal sodat ek ʼn skêr en verbande in die hande kon kry. Ek dra altyd my handskoene by my, so ek het hulle aangetrek.”

Net daar op die kombers by die stasie, met Kabongo se behendige hulp, het die klein babadogtertjie die eerste lewenslig gesien.

“Toe die baba uit was, kon ek die naelstring knip en ek het by hulle gebly totdat die ambulans opgedaag het. Van daar af is ma en baba na die Somerset-hospitaal geneem.”

Die nuwe ma, wat sedertdien as Unathi Nzintha geïdentifiseer is, was vol lof vir die vreemdeling wat haar in haar uur van nood bygestaan het. Sy sê sy het besluit om die nuweling Blessing te doop. “Ek wil haar Blessing noem, want dit was ʼn seën dat daar op daardie oomblik ʼn verpleegster langs my kom sit het toe ek haar nodig gehad het. Sy was ongelooflik en het alles perfek gedoen,” sê Nzintha.

Blessing weeg 2,4 kg en is gelukkig en gesond.

Vir Kabongo was die oomblik net so onvergeetlik. “Ek is trots en so bly dat ek die kennis gehad het om ʼn lewe te kon red,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Alias ·

Mooi storie! Die opskrif pla my dat daar is treinstasie Woodbridge, Milnerton nie. Dit moes ‘busstasie’ wees.

Mariné Lourens ·

Dagsê Alias

Dankie vir jou kommentaar. Dit moet inderdaad busstasie wees. Ek vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Wessel ·

Dus neem ek aan dit is ook korrek om soos mens van ‘n stasiemeester, of dan eerder ‘n treinstasiemeester te praat, ook van ‘n busstasiemeester te praat.

Bea ·

Blessing… is die regte naam… gelukkig was die verpleegster daar op die regte tyd en plek… well done aan jou goeie werk…Irene

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.