Verpleër kry 182 jaar vir reeks verkragtings

hof-hamer

Argieffoto

’n Voormalige verpleër is Donderdag tot vyf keer lewenslank en ’n bykomende 182 jaar in die hooggeregshof in Middelburg, Mpumalanga, gevonnis.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, sê die verpleër, Mpho Gift Moima (36), het skuldig gepleit op 14 aanklagte van verkragting, vier aanklagte van roof met verswarende omstandighede, vier aanklagte van ontvoering, drie aanklagte van die rig van ’n vuurwapen, een aanklag van poging tot moord en een aanklag van seksuele aanranding.

Moima was ’n verpleër by die Kgobokwane-kliniek in Mpumalanga.

Nyuswa sê al die misdade is tussen Februarie en Maart 2018 gepleeg in verskillende gebiede in Siyabuswa, Mpumalanga.

“Moima sou vroue wat laat in die aand op straat loop, teiken. Hy sou hulle nader en met ’n vuurwapen op hulle gerig in sy voertuig indwing. Hy sou hulle dan na die bosse neem en geweldadig verkrag,” sê Nyuswa.

Vyf van die 14 slagoffers was minderjarig ten tyde van die voorval.

Nyuswa sê Moima het in een voorval in Februarie 2018 drie slagoffers van Woolkraal-HOP-huise na ’n bos geneem.

“Hy het hulle opdrag gegee om hul klere uit te trek en hulle een vir een verkrag. Hy het soms sy slagoffers van hul besittings, soos selfone en kontant, beroof. Van die slagoffers is erg deur Moima aangerand en herhaaldelik verkrag.”

Nyuswa sê Moima is vasgetrek nadat die polisie inligting opgevolg het oor ’n selfoon wat van een van die slagoffers geroof is. Moima is toe met DNS-monsters aan die ander verkragtings verbind.

In die hof het Moima skuldig gepleit omdat die getuienis teen hom “oorweldigend” was.

“Ter strafverswaring het die aanklaer, adv. Eric Sihlangu, getuienisse van verskeie slagoffers gelei. ’n Verslag oor die slagoffers het aangedui hoe die verkragtings hul lewens beïnvloed het. Mediese verslae is ook ingedien,” het Nyuswa gesê.

Sy sê Sihlangu het die hof herinner aan die Suid-Afrikaanse samelewing se noodkreet teen geslagsgebaseerde geweld en gevra dat swaar vonnisse vir sulke misdadigers opgelê word.

Die hof het Moima vyf lewenslange vonnisse opgelê vir elke aanklag van verkragting van ’n minderjarige slagoffer en tien jaar gevangenisstraf op elke aanklag van verkragting van ’n volwasse slagoffer. Altesaam 15 jaar gevangenisstraf op elke aanklag van roof met verswarende omstandighede, vyf jaar gevangenisstraf op elke aanklag van ontvoering, twee jaar gevangenisstraf op elke aanklag van die rig van ’n vuurwapen, ses jaar gevangenisstraf vir poging tot moord en nog vyf jaar gevangenisstraf vir seksuele aanranding.

Die hof het verder beveel dat Moima se naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word, en hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stofdonkie

Gelukkig is hy onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit, mens wil nou nie hê hy moet ‘n vuurwapen in die tronk besit nie?

Sarel

Klink na ,’n kwaai vonnis maar word dit aaneenlopend uitgedien is hy weer op straat binne minder as 20 jaar
Help my reg as ek verkeerd is asb

Cherokee

Die eerste sin in die voorlaaste paragraaf lees nie reg nie. Vyf lewenslange vonnisse vir elke aanklag? Dit mòes so gewees het, maar dit is waarskynlik een lewenslank per aanklag.

Anel

Is dit nou aaneenlooend of gaan hy die 182 jaar uitdien tot hy dood is?

Niklaas

En net na 2030 weens goeie gedrag op parool uit. Dit werk mos so hier in ons land.