Verpleër vas wat glo geld vir gratis dienste eis

(Foto: pixabay)

Die Valke het ʼn verpleër in hegtenis geneem wat glo geld geëis het om ʼn aborsie te doen, terwyl die prosedure gewoonlik gratis by staatsinstellings is.

Die provinsiale departement van gesondheid het gevra dat streng stappe gedoen word teen dié verpleër by die SEAD-kliniek in Bethal in Mpumalanga. Die man is vroeër vandeesweek in hegtenis geneem.

Die vrou wou glo ʼn aborsie by die kliniek ondergaan en is aangesê om R700 daarvoor te betaal. Sy het die voorval by die polisie aangemeld, wat ʼn lokval vir die verpleër gestel het. Die vrou is met die geld, wat intussen gemerk is, terug na die kliniek. Nadat die verpleër die geld geneem het, het die Valke toegeslaan en hom in hegtenis geneem.

“Die verpleër se optrede is uiters teleurstellend. Die departement se werk is om die publiek gratis te bedien. Daar is geen beleid dat mense moet betaal om ʼn swangerskap te beëindig nie,” het Sasekani Manzini, LUR vir gesondheid in Mpumalanga, gesê.

“Ek wil die pasiënt wat die voorval aangemeld het, vir haar dapperheid bedank. Die gebeure is onaanvaarbaar en stappe moet gedoen word as die betrokke werker skuldig bevind word. Ons kan nie toelaat dat onwettighede in ons gesondheidsorgfasiliteite gepleeg word nie.”

Manzini het ook ʼn beroep op mense gedoen om soortgelyke voorvalle aan te meld.

Thandiwe Ndaba, ʼn inwoner van Bethal, sê egter sy het haar bedenkinge dat oënskynlik niemand anders by die kliniek van só ʼn eis vir betaling geweet het nie. “Ek dink iemand daar het geweet, maar dit nie aangemeld nie omdat hulle óók iets by die beskuldigde gekry het. Die mense moet verantwoordelik gehou word, anders gaan verpleërs aanhou met dié soort misdaad.”

Sy het gesê die gesondheidsdepartement onderskat mense se intelligensie, en maak nou bloot ʼn ophef omdat iemand in hegtenis geneem is.

Beatrice Zulu, nog ʼn inwoner, het gesê die LUR was skoonveld toe ander vroue gedwing is om vir ʼn gratis diens te betaal.

“As dié misdaad onder die neus van die kliniekbestuurder gebeur het, wat gaan nog aan waarvan ons nie weet nie? Dit is duidelik dat die stelsel ons in die steek laat, want wanneer ons kla, doen niemand iets aan die probleme nie.”

Die departement en kliniek het intussen ook met interne ondersoeke na die voorval begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

McG ·

Vierde splash die week….
INITIATIVE kry nuwe betekenis hier.
Korrek – wat gaan nog uit die bos spring

Millies ·

Kla eerder albei aan van moord op ‘n onskuldige baba as om haar te loof vir haar dapperheid…

Lolla ·

Die vrou het niks verkeerd gedoen nie. As die aborsie binne ‘n sekere aantal weke gedoen word is dit binne die SA wet op aborsies, so dit is hoekom sy in die 1ste plek na die kliniek toe is, want dit is wettig.

Maria ·

Vergewe my ek teengekant vir aborsie rede is meeste gevalle of hoeveel pretasie dra nie verantwoordlikheid vir die dade nie mos plesier dan hulle maar weer…..so gaan dit aan.
Dit is vir my n moord mens moet so hard wees om reg te kry om lewendig mense dood te maak wat nie gevra om rond te slaap nie

Hanna Hoekom ·

Hier aan die buitewyke van Pretoria Wes is n klein onderneming wat herstel aan klere doen asook besnydenisse. Ja, hulle knip en verstel letterlik enige iets! Dit word so (in Engels) op hul deur en vensters geadverteer. Wonder hoe wettig hierdie besigheid is.

Dan ·

Welgedaan Millie & Maria, ek stem saam.
Hanna Hoekom, lag ek nou lekker – maar dit is feite. Net in SA!! Ongelukkig is dit ‘wettig’, maar nietemin is alles wat wettig is nie noodwendig REG nie. Gesondheidsorg is ‘n droom, seker nog een wat skelm drink in parlement wat sit en lugkastele bou – op hul eie korrupsie geld. Een word – belaglik.

Sterk staan my Volk!

Werner ·

Aborsie is moord, of dit nou vroeg of laat gedoen word, dis MOORD en klaar. Sodra daar ‘n hartkloppie is, en Aborsie word gedoen, is dit MOORD.
So sal elkeen eendag verantwoording doen vir hul dade, selfs hulle wat die MOORD daad wettig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.