Verpligte inenting by UK kry voorlopig groen lig

(Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die Universiteit van Kaapstad (UK) het voorlopig ʼn voorstel om inenting teen Covid-19 vir alle studente en personeel verpligtend te maak, goedgekeur.

Solidariteit Jeug het nou regsadvies ingewin met die moontlikheid om dié besluit te betwis.

Dit volg nadat ʼn opname onder personeel en studente wys dat hulle die universiteit se sentiment deel. Altesame 83% van professore en akademici van dié universiteit het in September reeds ten gunste van die besluit gestem.

Die universiteit se genootskap van uitstaande akademici, wat uit meer as 90 professore bestaan, het ook vroeër vandeesmaand die saak gesteun. Dié genootskap het selfs gesê dat diegene wat hul jaarlikse funksie in November bywoon, eers ʼn bewys van hul inentingstatus moet lewer.

In hul ondersteuningsbrief het die genootskap gesê daar is bewyse dat die inentings doeltreffend is in die voorkoming van Covid-19-verwante sterftes en dat die voordele van die inenting baie meer is as die moontlike risiko’s.

Vervolgens het die universiteitsraad die voorstel om Covid-19-inenting verpligtend te maak, verlede week bespreek en voorlopig goedgekeur. Dié reël sal vereis dat alle personeel, as ʼn voorwaarde vir werk, en studente, as ʼn voorwaarde vir registrasie, ʼn bewys moet lewer dat hulle ten volle teen die virus ingeënt is.

Die raad meen hierdie reël moet teen 1 Januarie volgende jaar reeds in werking tree.

“Die UK-raad het hierdie komplekse aangeleentheid volledig bespreek, asook die verskeie uiteenlopende sienings daaroor in ag geneem,” sê prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier van die universiteit.

“Hoewel die reël as beginsel voorlopig goedgekeur is, het die raad dit goedgedink dat die universiteit se bestuur ʼn paneel moet saamstel, wat die operasionele prosesse moet ontwikkel om die reël op kampus toe te pas. Die paneel sal ook die riglyne moet opstel vir diegene wat vrygestel is om ʼn bewys van hul inentingstatus te lewer.”

Solidariteit Jeug het intussen gesê hy sal met sy regspan vergader, met die moontlikheid om die universiteit se besluit te betwis. Hulle beskou dié besluit as diskriminasie teen studente wat nie ingeënt is nie.

“Ons geniet sekere fundamentele regte in Suid-Afrika soos die reg op liggaamlike integriteit en die reg op vryheid van godsdiens, oortuiging en mening. Voorts het studente ook ʼn reg op onderrig. Al hierdie regte kan nie bloot deur ʼn universiteitsraad ongedaan gemaak word nie,” sê Paul Maritz, hoof van Solidariteit Jeug.

“Hierdie kwessie is nie bloot ʼn debat oor die wenslikheid van inenting al dan nie, maar veel eerder oor Suid-Afrikaners se reg om sélf besluite te kan neem oor wat in hul liggame mag ingaan.”

Maritz sê die UK is ʼn openbare universiteit en moet derhalwe vir alle Suid-Afrikaners toeganklik wees. “Die universiteit het geen reg om op so ʼn blatante wyse te diskrimineer teen diegene wat nie ingeënt is nie.”

Solidariteit voer verder aan dat dit verregaande is dat die UK hom probeer skaar by die resultate van ʼn opname onder studente en personeel aangesien só ʼn opname geensins gewig dra in die neem van sulke besluite nie.

“Menseregte kan nie weggestem of in ʼn opname weggewens word nie. Die Grondwet maak nie voorsiening vir twee aparte stelle menseregte in ons land, een vir ingeëntes en een vir die nie-ingeëntes, nie,” sê Maritz.

“Dit lyk asof daar nie ʼn enkele persoon aan die universiteit sal mag studeer of daar mag werk indien hulle nie ingeënt is nie. Dit is absurd. Mense wat nie ingeënt is nie, bly steeds mense en het derhalwe menseregte. Geen universiteit kan Suid-Afrikaners van hul menswees ontneem nie.”

Die universiteitsbestuur sal tydens die raad se laaste vergadering in Desember die paneel se vordering bekend maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Rooikopheks ·

UK, as julle die leiers moet wees in die veldtog vir inenting kan ek net sê, wel gedaan. Dis ook in julle reg om so ń besluit te neem.

Alida ·

Puik besluit, UK! Julle het beslis my steun. My kind studeer tans nagraads by UK en dit sal my as ouer baie meer gerus laat voel as al die studente en lektore ingeënt is.

Andre ·

Besluit geneem met al die kennis wat hulle besit. Seker dan reg so.

Stephen ·

En daar vat die uni-raad almal se regte weg om self te besluit of hysy ge-ent wil word weg. Ons bly tog in n sosialistiese demokrasie…. Maar tog het Cyril gesê dit bly jou keuse as individu….. Druk julle inentings. So dis die begin van die einde vir vrye keuse.

VaalDonkie ·

Die ergste ding vir my is hoe entoesiasties my medeburgers is om my te dwing om ‘n ding te doen. Die tannie wat so by die gordyne uitloer is vir my erger as die polisiebeamptes wat in hul bakkies rondry en mense soek om te beboet. Want hulle los jou gewoonlik uit nadat jy die boete gekry het, maar daai tannie los jou nie as sy jou eers het nie.

En ek praat nou uit ondervinding uit. Ek het laasjaar gedurende dag 100 van “21 days to flatten the curve” met my buurman staan en gesels en die tannie het ons loop aangee by die SAPS. En nou gewaar ek haar elke nou en dan daar by haar gordyntjie waar sy ons beloer.

Dr Pieter ·

Ons individuele regte is baie belangrik, maar wat van die reg van die studente en personeel om beskerm te word teen die draers van die virus wat weier om ingeënt te word?
Ons is vinnig om kapsie te maak wanneer die regte van misdadigers bo die regte van die gemeenskap op veilige bestaan aangetas word.
Maar nou moet die veiligheid van die gemeenskap opgeoffer word ten gunste van individue wat hulle nie wil beveilig nie en hulle kollegas en dosente in gevaar stel?
Hoeveel onderwysers en dosente moet sterf voordat ons die lig sien?

Filistyn ·

Moenie stress nie dr Pieter, as jy die jab vat is jy mos “veilig” . . .

VaalDonkie ·

Kyk, COVID is nie ‘n grap nie. Wat wel ‘n grap is, is hoe maklik mense bereid is om klein Hitlertjies te raak as hulle bang is.

Ek is self ‘n risiko geval vir erge probleme sou ek COVID opdoen, maar ek dink nie dit regverdig om die hele land te forseer om die stekie te vat nie. En dan wanneer almal behalwe ek die stekie gehad het, om vir MY kwaad te wees omdat ek almal kwansuis in gevaar stel nie.

My ma het ‘n aneurisme ontwikkel kort na haar inspuiting. Ek wil graag dit vermy. Want ek het ‘n vrou en kind en drie grootouers om voor te sorg. Ek isoleer eerder vir nog ‘n jaar of twee tot die ding oor is as wat ek die kans vat dat ek ‘n hartaanval, beroerte, of bloeiende aneurisme kry nie.

dr. Petronella ·

Ek verstaan net nie die skielike dringendheid by sekere regerings, universiteite en indiwidue om alle mense in te spuit nie. Nie eers die polio-inenting, die pokke, masels, waterpokkies, ens is met so n dringendheid benader nie! En bygesê, lgs. is ware entstof. Ware entstof word eenmaal in n leeftyd gebruik en nooit weer nie, want teenliggaampies word deur die mens se immuniteitstelsel gevorm.

‘n Vriendinin in Duitsland het al die 3e inspuiting gekry! Dan is dit NIE n ware entstof nie!! Ook word mense as proefkonyne gebruik!

Wat het dan van natuurlike ingebore menslike immuniteit geword?

Daar is selfs n entstof teen kroniese bronchitis en longontesteking wat lewenslank hou.
Alle mense wat covid gehad en herstel het, behoort nou immuun te wees. Waarom dan aanhou en aanhou daarteen spuit?

Frank ·

Soveel onsekerhede, soveel opinies beide kante van die spektrum. Iets is mos nie reg nie????

Irma ·

@ dr Patronella, jy verwys in jou laaste paragraaf na die entstof wat beskerming bied teen longontsteking en brongitis. Dit is die Pneumovax entstof . ‘n Mens hoef slegs een dosis van hierdie entstof vir beskerming te neem. Toe ‘n dokter vir my voorgestel het dat ek die Pneumovax entstof neem, het ek sonder enige huiwering dit geneem. Die Covid 19 inspuiting is egter ‘n heel ander storie en ek bly maar huiwerig om dit te neem. Jy vra ook tereg hoekom moet daar tot 3 spuite geneem word om eers dan beskerming te kan kry teen Covid 19 dit terwyl ‘n mens slegs een dosis van die Pneumovax entstof hoef te neem vir beskerming teen ‘n spesifieke siekte .

Rooikopheks ·

Polio is nie ń inenting nie, dis ń slukstof, en babas kry inentings teen masels, pampoentjies en duitsemasels ń paar keer ń paar weke uitmekaar uit. Hulle word nie gebore met immuniteit daarteen nie. En niemand wat jaar na jaar die griep inspuiting kry het immuniteit opgebou teen griep nie. Covid-19 is ń nuwe virus, wat meer mense doodmaak as die gewone griep virus, Om jouself en jou kinders en kleinkinders te beskerm, kry die inenting.

Casper ·

Soos die Vigs virus breek die corona virus jou immuunstelsel af e vernietig jou rooibloedselle.Die virus veroorsaak ‘n ergere siektetoestand waaraan jy sterf.Longinfeksies,long ontsteking en nierkwale is die mees algemene.Dit is hoekom ou mense uiters vatbaar is vir die siekte.

Anel ·

Dit is komunisme. Punt, oor en uit. Druk julle universiteit. Dit sou in elke geval ook nooit my keuse van universiteit wees nie.

JohanR ·

Soe word ingeent of jy kan nie in 2022 daar studeer nie? Waaneer het ons ‘n kommuniste staat geword…..was dit 1994? Wat gaan UK doen vir 2022 as AL die studente gesamentlike weier on ingeent te word? Geen studente, geen geld! Julle het klippe gegooi in die apartheid jare…..gooi weer klippe!

MakersMark ·

Soe werk dit nie. Daar is studente met verstand wat wil studeer. Hulle sal ingeent word. Die ander KIES om nie aan die reels te voldoen nie en moet met die gevolge van hul keuse saamleef.

Johan ·

Jy praat van reels wat geen waarde het nie behalwe om n klomp baie bang oumense die illusie van veiligheid te gee. As die inenting so goed werk hoekom ent daardie oumense nie hul in nie, dan is hul mos beskerm Maskermal? Of werk dit nou weer om een of ander onverklaarbaare rede nie so nie.

Andrew ·

dit is nie n verassing nie. Die libs volg amerika net, volg die geld. Discovery en santam het dit probeer en gevaal, ons is nie amerika nie. Nou wil ek weet, wat wil julle maak met al die mense wat nie gaan vax nie?

Cherokee ·

Die woord is faal.. vaal is ‘n kleur. So gryserige ene.

Frank ·

Mag ek asb baie ongelig klink, maar hoekom so besluit neem? Of jy ingeent is of nie, jy kan nog steeds Covid kry en oordra? Of hoe slaat ek die bal nog steeds mis? Wat presies kyk ek mis? Help asb!!!

Lourens CFG ·

Frank, dit is juis die deurmekaar storie.
Die wat ingespuit is, is vrek bang vir die wat nie ingespuit is nie.
As ek ‘n inenting kan kry waar ek ná die ent gerus kan wees, en nie verder hoef te bekommer nie, is ek heel voor in die ry.
Ek is nie teen inspuitings óf in-entings nie, maar hierdie “jab”, nee dankie, hou verby.
As almal my wil stenig daaroor, “tough”, dit is mý keuse.

Althes ·

Ek is self ingeënt, maar het ook besef dat dit op skerp diskriminasie neerkom indien verpligte inenting toegepas word. Juis omdat die spesialis my nabye familielid afgeraai het om nou in te ent.
Dis weereens ñ bewys dat elke mens uniek is en so behandel moet word.
Ek het ook ñ nabye familielid verloor wie baie jonk was, geen gediagnoseerde onderliggende siektes gehad het nie, ingeent was en enkele dae later gesterf het in ñ hospitaal met Covid.

Danie ·

As jy jou veiligheidsgordel aan het as jy bestuur kan jy nogsteeds dood verongeluk, maar jy sit dit nogsteed aan want dit verminder jou kanse. Waarom dan bang wees om die spuit te vat?

Johan ·

Danie wat het my veiligheidsgordel met jou uit te maak en hoekom geen erkenning vir natuurlike immuunstelsel nie? Wat van die MILJOENE wat reeds c19 oorleef het?

Fritz ·

Hoe meer plekke inenting vereis, hoe duurder word die onwettige inenting op die swartmark.

MakersMark ·

Uitstekende besluit en initiatief. Mense moet maar besef inentings gaan meer en meer vereis word in algemene publieke lewe. En reg so ook. Lewe vir anti vaxxers gaan effens meer “ongemaklik” raak. Elke mens kan kies wat reg is vir hom/haar maar lewe saam met die gevolge.

agnes ·

Dis reg. Lewe saam met die gevolge as jy wel ingeënt is. Alles Plastiese entings. Nie vir my nie dankie. Jy sal maar bly inent tot die dood toe want hierdie Plastiese inenting hou net vir n paar maande, stekte!

Althes ·

Daar is wel mense wie se spesialiste hul aanraai om nie die vaccine te kry omdat hul immuniteit te swak is. Gaan daar nou teen daardie mense gediskrimineer word?

Danie ·

Indien die mense n mediese verslag gekry het deur hulle dokter sal daar mos nie n probleem wees nie. die probleem is dat elke 2de een “n mediese kondisie” as verskoning wil gebruik sonder dat hul eers by n dokter was.

Papsak ·

Ek sal my glad nie laat in ent nie vir niks nie waar is ons menseregte nou heen of wil hulle alles oor vat wil hulle nou ons lewens regeer klomp koministe se ek jou ja of jy in geent is of nie virus sal jy kry so waarom almal vors vir die gemors

Cherokee ·

Hoe meer plekke inentings vereis, hoe duurder sal die swartmark ‘inentingssertifikaat’ word.

Dirk Mostert ·

Laat die 83% hul inent. Dan behoort hulle veilig te voel. Los die ander 17% uit.

agnes ·

Niemand kan n mens dwing om geënt te word nie. N Men’s mag oor sy eie ligaam besluit en geen ander mens nie

Danie ·

100%, dit bly jou keuse. Daar moet dan ook nie kwaad geraak word as plekke soos die UK hulle keuse uitoefen nie.

Rooikopheks ·

Wow, vir ń 2de keer het Maroelamedia my kommentaar nie geplaas nie. Polio is ń slukstof en babas kry ń paar weke na mekaar inentings teen (MMR) masels, pampoentjies en duitsemasels, hulle word nie met immuniteit gebore nie. Volwassenes kry elke jaar soos klokslag ń inspuiting teen griep, en dan word hulle nogtans siek. Meeste mense wat Covid-19 opdoen is nie ingeent daarteen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.