Verrassing-vierling nog lank in hospitaal

Bradley, Daniel, Gabriel en Harvey Emery.

Bradley, Daniel, Gabriel en Harvey Emery.

Dit sal nog meer as twee maande wees voordat die Emery-vierling van Johannesburg uit die hospitaal ontslaan word.

Maroela Media het vroeër berig die babas het hul parapleeg-ma, Chantel Emery, op 28 Junie verras toe drie van hulle onverwags by die huis gebore is. Chantel en haar man, Robert, het ʼn drieling verwag en was verbaas toe ʼn vierde baba later in die hospitaal sy opwagting gemaak het.

Die vier seuntjies is op 27 weke gebore, baie vroeër as hul verwagte datum van 22 September.

“Hulle lyk al soveel beter, maar ek en Chantel mag dalk bevooroordeeld wees omdat hulle ons kinders is,” het Robert Dinsdag geskerts. “Hulle drink al melk en baie van die druppe is al verwyder. Hulle sal seker nog twee en ʼn half maande in die hospitaal wees omdat hulle so vroeg gebore is.”

Die voetafdrukke van die Emery-vierling.

Die voetafdrukke van die Emery-vierling.

Robert het gesê die vierling het wel ʼn bietjie bloeding op die brein, omdat die beskermende laag tussen die brein en skedel nog nie ontwikkel het nie. “Ons wag nog vir die neuroloog om vir ons te sê of dit enige langtermyn effek sal hê, maar dit is glo nie ongewoon by babas wat so vroeg gebore is nie,” het hy gesê.

Die egpaar het ten tyde van die vierling se geboorte nog nie op name vir hul nuwe kroos besluit nie, maar het hulle nou Bradley, Daniel, Gabriel en Harvey gedoop. Die kleingoed het met hul geboorte onderskeidelik 825 g, 805 g, 1 kg en 1,1 kg geweeg.

Chantel is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan en sterk tans by die huis aan. “Sy het nog ʼn bietjie pyn, maar dit gaan baie goed met haar. Ons gaan kuier elke dag vir die vierling in die hospitaal,” het Robert gesê.

Die vierling is Chantel se tweede swangerskap nadat die egpaar hul eersteling in 2012 verwelkom het. Robert het ook nog ʼn seun en twee dogters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Louis ·

Well done baie geluk ek hoop die een se naam gaan Louis wees

Nadia Verster ·

Ag moeder mamma…hierdie fotos bring soveel herinneringe terug! My seuntjie is op 28 weke gebore (870g) en het presies soos hierdie babas gelyk. Was ook 3 maande in die hospitaal. Dis ‘n moeilike pad om te stap. Ek wens mamma en pappa alle sterkte en voorspoed toe en hoop die tyd vlieg sommer verby dat julle hierdie 4 wonderwerkies kan huis toe neem.

Chantal ·

Baie geluk. Bring baie terug vir my ook, my seuntjie is in 2012 gebore op 25w en 6dad en het 680g geweeg en eerste week verloor tot 540g. Hybwas 124dae in NNICU en is vandag n gesonde kind en het in Mei 3jr geword en al sy mylpale behaal. Dit is n lang pad wat vir julle voorlè maar elke oomblik die moeite werd. Weereens baie geluk en baie sterkte

Nadia Verster ·

Sjoe Chantal dit moes vreeslik erg gewees het vir julle! Dis darem maar wonderlik wat die mediese mense kan doen vir hierdie kleintjies en met genade van Bo. So dankbaar.

Rene ·

Sjoe, mens kan net kop skud. Ek is self 27 weke swanger en bid elke dag dat die kleinding sal wag tot heelwat later om sy verskyning te maak. Die arme paartjie, dis ‘n lang pad wat voorlê. Hoop die viertjies sterk goed aan en alles is voorspoedig vir hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.