Verrassings op beweerde ANC-parlementslys

Baleka Mbete

Speaker Baleka Mbete. Foto: AP Photo/Denis Farrell

Verskeie verrassings kom voor op ’n lys wat in omloop is om stemme te werf sodat sekere ANC-lede tot die parlement verkies kan word.

Hoewel die bokant van die lys, wat as ’n “slate” en dus ’n werwingslys getipeer word, baie naby is aan hoe die bokant van die ANC se kandidatelys behoort te lyk, is die duiwel, soos so dikwels, in die detail laer af in die lys.

Daar is verskeie redes hoekom die aanspraak dat die lys die finale ANC-kandidatelys is, met argwaan bejeën kan word. Die eerste daarvan is dat die streng ANC-voorskrif dat mans en vroue mekaar een-een moet afwissel, nie gevolg is nie: die eerste vyf name op die lys lees Cyril Ramaphosa (ANC-leier), David Mabuza (ANC-onderleier), Gwede Mantashe (nasionale ANC-voorsitter), Nkosazana Dlamini-Zuma (minister in die presidensie) en Baleka Mbete (speaker van die Nasionale Vergadering).

Tweedens het die ANC nog altyd op die nippertjie voordat registrasies sluit, onverwags mense op die lys ingevoeg. In 2014 was dit byvoorbeeld die DA-LP Bev Abrahams en die Cope-LP’s Juli Kilian, Nick Koornhof en Leonard Ramatlakane. Tans is daar volop gerugte dat hulle tweedevlak-LP’s by die EFF probeer afrokkel. Die lys is dus waarskynlik nog nie gefinaliseer nie.

Derdens is die terugvoer wat Maroela Media van ANC-bronne oor die lys ontvang het, heel onafhanklik dat dit inderdaad ’n lys is wat ’n ANC-faksie gebruik om stemme vir sommige individue te werf. Dit het geen amptelike status nie.

Nietemin is dit ’n interessante lys al is dit net as aanduiding dat daar wel ’n poging is om stemme vir daardie individue te werf.

Die volgende vyf name op die lys is die van Lindiwe Sisulu (minister van internasionale betrekkinge), Bathabile Dlamini (minister van vrouesake en leier van die ANC-vroueliga), Naledi Pandor (minister van hoër onderwys), Nomvula Mokonyane (minister van omgewingsake) en Ayanda Dlodlo (minister van staatsdiens en administrasie).

Die name van Dlamini en Mokonyane so hoog op die lys is reeds ’n aanduiding dat hierdie ’n Zuma-gesinde werwingslys is. Daar is ontsettend baie druk op Ramaphosa om albei (veral Mokonyane) uit die kabinet te laat.

Daar is ook verskeie ander verrassings op die lys van 149 name. Dit sluit Mbete in, wat geen respek as speaker afdwing nie, maar ook ander wie se terugkeer na die parlement verrassend sal wees, om dit diplomaties te stel.

Dit sluit in Sisi Ntombela (premier van die Vrystaat) op nommer 14, Malusi Gigaba (voormalige minister van binnelandse sake) op 16, Kebby “The Naked Chef” Maphatsoe (adjunkminister van verdediging) op 32, Alvin Botes (omstrede Noord-Kaapse ANC-leiersfiguur) op 51, Lynne Brown (gewese minister van openbare ondernemings) op 52, Collen “Oros” Maine (leier van die ANC-jeugliga) op 64, Solly Mapaila (SAKP-vuurvreter) op 68, Tony Yengeni (veroordeelde voormalige ANC-hoofsweep) op 99 en Tina Joemat-Pettersson (voormalige minister van energie) op 119.

Die amptelike ANC-nominasielys sal na verwagting eers in Februarie of Maart aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Trol ·

Vooe kersfees het gerigte ook die rondte gedoen dat jacob zuma ook in die paddaman se kabinet gaan dien.

Genoeg gehad ·

Nee regtig? Met hierdie mense kan jy net eenvoudig nie n land regeer nie. Tot stof sal hy terugkeer. SA ook. Niks so waar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.