Verrinneweerde jakkals uit dieretroetelpark gered

Die gehawende jakkals is uit ‘n dieretroetelplaas in Bloemfontein gered. (Foto: DBV)

ʼn Jakkals wat volgens die Dierebeskermingsvereniging (DBV) besig was om ʼn stadige en pynlike dood op ʼn dieretroetelplaas in die stad te sterf, is uit die haglike omstandighede gered en sy eienaar van dieremishandeling aangekla.

Charmaine Engelbrecht, ʼn inspekteur van die Bloemfontein-DBV, het gesê die jakkals is in ʼn klein, ongeskikte hok, vuil en met ontlasting, aangehou.

“Die hok het so sleg geruik dat ek dit deur my gesigsmasker kon ruik,” het Engelbrecht gesê.

Die jakkals het geen skuiling in sy hok gehad nie, was ondergewig en het so ʼn slegte veltoestand gehad dat hy plek-plek geen hare op sy bene meer oorgehad het nie. Hy moes ook op sement of op droë, harde modder lê.

Die dier het ook twee druksere op sy agterpote gehad. Dit was so rou dat die been daardeur gesien kon word, het sy gesê.

“Dit is ʼn skande vir die mensdom en uiters wreed,” het Engelbrecht gesê.

Reinet Meyer, bestuurder van die Bloemfontein-DBV, het gesê die “hoofdoel van ʼn troetelplaas is om die publiek op te voed oor hoe om na diere om te sien, maar dié plek wys presies hoe om nié jou diere te versorg nie”.

Die DBV het ʼn lasbrief bekom en op die jakkals beslag gelê ná ʼn anonieme wenk oor die jakkals se toestand.

Die dier ondergaan nou behandeling by ʼn veearts in Johannesburg wat spesialiseer in die versorging van wilde diere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Laat mens wonder. Hoor bitter min goeie nuus van die plek

Plaaskind ·

Sjoe, my hart breek vir die arme jakkals, hoop hy word gou beter – baie wreed.

Misky ·

Wat gaan in Bloem aan deesdae en hulle allewig in die nuus as dit by dieremishandeling kom??? Skandelik en hoop die mense kry die swaarste straf denkbaar!!!

Onnie ·

Dit is n skreiende skande! Dit maak my so kwaad as mense diere wil aanhou, maar nie vir hulle kan of wil sorg nie. Los dan die dier in sy eie habitat, as jy te dom, te sleg of te gevoelloos is om ordentlik na hom om te sien. Ek huil sommer as ek na die foto van die arme jakkalsie kyk.

BABSIE ·

iemand wat so iets aan ‘n onskuldige dier doen het absoluut geen hart nie .. nee man!!!! :(

Vonkprop ·

Sit die eienaars in dieselfde hok sodat ander mense kan sien hoe lyk monsters.

007 ·

Skaapvanger. Dankie MM. Julle is lekker partydig. Wat het van vryheid van spraak geword. Die jakkalsies is n plaag in die Vrystaat. Die selfde skaapvleis wat julle almal eet. Blok my maar.

Deon ·

Skaapvanger… En as hy mis dan sit jy met n ernstig verminkte skaap!!

Plaaskind ·

Dis heeltemal reg, hy vang skape is hy in sy natuurlike habitat is. Maar hy is in ‘n hok aangehou en verhonger en verniel – dis nie reg nie, dis wreed. Mens doen dit nie aan ‘n dier om hom so wrede dood te laat sterf nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.