Versamelaars lek lippe af vir dié motors

‘n Ford Capri Perana wat Saterdag opgeveil word. (Foto verskaf)

Motorentoesiaste se monde water vir die verskeie klassieke en uiters skaars versamelaarsmotors wat dié naweek opgeveil word.

Vanjaar se Legends & Classics-veiling – wat kopers van oor die wêreld se aandag trek – bevat items soos die Ford Capri Perana, ʼn Ford Fairmont GT, Alfa Romeo GTV6 3 liter, asook verskeie ander seldsame voertuie. Dit lyk boonop of die veiling al verlede jaar se rekords gaan laat spat.

Die veiling word in samewerking met Creative Rides en High Street Auctions aangebied. Joff van Reenen, direkteur van High Street Auctions en die hoofafslaer, sê voertuie in die private versameling van wyle Louis Coetzer wat verlede jaar opgeveil is, het elke vorige Suid-Afrikaanse rekord oor versamelmotors oortref.

Een van dié gesogte motors is die gesogte Ford Capri Perana, ʼn legende in Suid-Afrika se motorerfenis.

“Die gehalte van die voertuie wat vanjaar opgeveil word, beteken ons gaan die rekords weer verbeter,” sê Van Reenen.

Verlede jaar se veiling was die grootste nasionale motorveiling vir versamelstukke wat betref die hoeveelheid bieërs wat deelgeneem het en die pryse wat behaal is.

“Ons het ook 140 internasionale geregistreerde kopers onder die 276 bieërs op die dag gehad van so ver as Engeland, Duitsland, die VSA, die Bahamas, Australië, Namibië en Zambië, asook ʼn wêreldwye gehoor van meer as 11 000 mense wat na die verkope gekyk het.

Dié Mercedez Benz W186 Model 300 word ook opgeveil. (Foto verskaf)

“Vanjaar bied ons ʼn selfs meer uitsonderlike versameling klassieke motors wat die ontwerp en bouvernuf van drie vastelande verteenwoordig. Daar is nie ʼn klassieke motorversamelaar ter wêreld wat dit sal wil misloop nie.”

Kevin Derrick, eienaar en hoof van Creative Rides, sê sommige van die voertuie wat Saterdag opgeveil gaan word, bied ʼn een-keer-in-’n-leeftyd-geleentheid vir versamelaars om dit te bekom.

Die Ford V8 Capri is die enigste van sy soort waarvoor Ford ooit toestemming gegee het en eindelik is net tussen 200 en 300 van die motors gebou.

“Vyftig jaar gelede is die ikoniese Capri Perana, een van die legendes in die Suid-Afrikaanse motorerfenis, opgedroom deur meesteringenieur en motorbouer Basil Green. Dit was ʼn homologeringsmodel wat die 302 Windsor-enjins ingespan het wat destyds ook deur die Mustangs gebruik is,” sê Derrick.

“Die gebruik van so ʼn kragtige enjin in so ʼn klein motor het verstommende verrigting gelewer.”

Nog een van die legendariese klassieke motors wat opgeveil gaan word, is ʼn 1970 Ford Fairmont GT.

Dit staan ook bekend as “Big Daddy” en die 1970-model is ʼn aangepaste weergawe van die Australiese XY Falcon GT wat daar vervaardig, maar in Suid-Afrika aanmekaargesit is.

Die “Super Rhino”, soos dit later begin bekend staan het, lewer ʼn ongelooflike vertoning en blits van nul tot 100 km/h in net 6,5 sekondes. Dit het ʼn topspoed van naastenby 210 km/h, wat dit in daardie tyd die vinnigste produksiemotor ter wêreld gemaak het.

“Omdat dit net drie jaar lank geproduseer is, was dit en bly dit steeds ʼn uiters seldsame motor en ʼn droomvonds vir ʼn versamelaar.”

Verskeie Amerikaanse “muscle cars” asook Europese sportmotors en luukse sedans word ook te koop aangebied. Dit sluit in ʼn Mercedez Benz W186 Model 300 Adenauer.

Die veiling begin Saterdag om 11:00 en word ook regstreeks uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Shakespeare ·

Sulke Vintage ( of skildery) “versamelaars” ( jy praat van groot geld) is egosentries om hulle eie luste te dien en dink MEESTAL nie aan wat so ‘n enorme bedrag vir mense wat swaarkry kan beteken nie. Dit gaan oor ‘n menslike waardesisteem wat skeef getrek is.

madels ·

Ag ou Shakespeare gun die mense hul lewe uitleef soos hul wil

Vonkprop ·

Niks verkeerd om jouself te bederf met mooi goed met jou eie geld nie. Dit gaan oor jou hart nie jou beursie nie. Ons het geen bewyse dat hierdie mense vir liefdadigheid gee of nie so los hulle uit om met hulle geld te maak wat hulle wil.

Philip ·

My begeerte was altyd om n FORD MUSTANG te kon besit toe ek jonger was maar ek kon geldelik nie bykom nie. Die beste wat ek kon doen en bekostig was n FORD CORTINA XLE.

Chris dupreez ·

Netso, self die 3 liter GT gehad. Vriend van my die 3 liter Capri.

Vonkprop ·

Ek stem Philip. Nog steeds ‘n baie groot droom van my. Ek het nou die die dag die perfekte een gesien soos ek hom graag sal wil hê, maar teen R750 000 vir daardie klassieke Mustang het ek toe eerder maar by ‘n speelgoed winkel gestop en ‘n Ford Mustang karretjie gekoop.

SomeOne ·

die vellings, “rims”, van die capri en mustang pas glad nie by die motor van daardie jare nie, dit maak dat die motors eintlik lelik is

Johan ·

Ag wie stel tog nou belang in die ou spul vrot karre? Ek wil hulle nie eers verniet hê nie lol.
Grappie

Chris ·

Ek is nie juis ‘n aanhanger of klassieke motor entoesias nie. Daar is egter ‘n paar modelle wat my aandag sal trek. Ek kan onthou in 1976 het ‘n ou saam wie ek gewerk het gespog dat sy Ford Fairmont GT, 198km per uur iewers “geklok” het. Daardie jare was dit ‘n indrukwekkende prestasie. Ek het ook die “voorreg” gehad om een keer so ‘n motor te bestuur. Vandag se dae behaal die meeste karre daardie spoed. Deesdae se karre is ook “veiliger” meer ekonomies en betroubaar. Daar is ‘n paar goed oor wie se skoonheid/mooigeit mens nie stry nie, en karre is een van dit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.