Verseker jou kind se veiligheid só op Kaapse strande

Argieffoto

Die Stad Kaapstad doen ’n beroep op ouers om hul kinders hierdie feestyd met hul aankoms by ’n strand deur middel van sy Identikidz-program te laat registreer.

Die program behels dat ’n armbandjie met ’n verwysingsnommer wat ooreenkom met die kontakbesonderhede van ’n familielid of voog aan ’n kind uitgereik word. Indien ’n kind wegdwaal, kan hy of sy sodoende weer met sy geliefdes herenig word.

Meer as 100 000 kinders is verlede jaar geregistreer van wie meer as 500 met behulp van dié armbandjie met hul gesinne herenig is.

“Ons wil besoekers vanjaar aanspoor om sosiale afstand te handhaaf en hul kinders se veiligheid eerste te stel deur hulle te alle tye binne sig te hou,” sê Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid van gemeenskapsdienste en gesondheid.

Die Stad Kaapstad se Identikidz-program word vanjaar by 16 strande in die metro op besige dae gedurende Desember en Januarie ingestel. Dit sluit onder meer in Muizenberg, Vishoek, Seepunt, Kampsbaai, Melkbosstrand, Gordonsbaai en die Strand.

“Ouers en voogde word daaraan herinner dat dit nie ’n kinderoppasdiens is nie en nie die verantwoordelikheid van ouers vervang om toesig te hou oor hul kinders terwyl hulle op die strand is nie.

“Dit beteken eenvoudig dat ons ’n kind se gesin kan opspoor indien hy of sy wegdwaal,” sê Badroodien.

Altesaam 535 kinders is verlede jaar met behulp van die program met hul ouers of voogde herenig terwyl 15 aan die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling oorhandig is toe hulle nie met hul gesinne herenig kon word nie.

“Dit is traumaties vir jong kinders as hulle nie hul geliefdes kan vind nie en ek versoek ouers en voogde om waaksaam te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Moet maar die vraag vra….gaan enige iemand naby ‘n strand kom in December in getalle?

Sênet ·

Daar sal nog altyd mense wees wat strand toe sal gaan. En dit is aan hulle wat gedink word. Daar sal altyd mense wees wat dinge anders gaan doen

Mallie ·

Die kindersoet erens gedamp word en waar is n beter plek as die strand.

Snowball ·

Kyk ma’s nie meer na hulle kinders nie? Word dit nou ook iemand anders se verantwoordelikheid? As ‘n kind so klein is dat hy sal afdwaal of verdwaal is hy te KLEIN om alleen te wees, te klein om uit sy ma of pa se oog of arm te wees . Of besef die ‘Woke’ generasie nie daar is ‘Child trafficking ‘ sindikate en perverte waarmee ons die wêreld moet deel nie?

Blomme ·

Versoek van sosiale afstand? Dit het dan tot op hede nie gebeur?

Mad Mike die Rhodesiër ·

Die stelsel kom van Durban af. Tog glo ek daar gaan nie baie mense op die strande waar ook al in SA wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.