Verseker vroegtydig jou kind se plek in ’n Afrikaanse skool

Argieffoto

Argieffoto

Ouers in Gauteng sal pro-aktief moet optree as hulle volgende jaar ’n plek vir hul kinders in Afrikaanse skole wil verseker.

Volgens die burgerregte-organisasie AfriForum het hy verneem dat Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in die provinsie, planne het om die aansoektyd vir toelating tot skole reeds op 13 April, wanneer die skole ná die vakansie heropen, te laat begin en twee weke later te sluit. Volgens inligting sal ouers die vorms by skole tussen 13 en 20 April kan kry waarna skole dit op 20 April sal begin inneem.

AfriForum het gesê die toelatingsproses vir veral nuwe leerlinge in gr. R en gr. 8 aan skole in Gauteng is jaar na jaar meer omstrede weens gebrekkige beplanning deur die onderwysdepartement. Weens migrasie van leerlinge uit ander provinsies is daar jaarliks derduisende leerlinge in Gauteng waarvoor daar nie plek in skole is nie.

Volgens AfriForum is een van die benaderings wat die departement volg om sy onbeholpenheid te probeer verdoesel, om Afrikaanse skole te teiken en te forseer om Engelse klasse te begin om in die groeiende vraag na plek te voorsien.

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê Afrikaanse ouers kan nie meer agteroor sit en aanvaar dat hul kind se plek in ’n skool verseker is nie. “Afrikaanse skole wat nie vol is nie, kan verwag om geteiken te word.”

Bailey het gewaarsku ouers moet besef dat as hul kinders nie in die skool van hul keuse plek kry nie, daar ook geen waarborg is dat hul in ander skole geakkommodeer sal kan word om onderrig in Afrikaans te kry nie.

“Ouers moet die aansoekvorms betyds voltooi en indien. Ouers wat nie nou al weet of hulle volgende jaar gaan verhuis of op ’n ander plek nader aan ’n skool van hul keuse gaan werk nie, word aangeraai om by meer as een skool aansoek om toelating te doen.”

Bailey het gesê ouers in ander provinsies moet ook by hul betrokke skole gaan uitvind presies wanneer die aansoektye vir toelating is.

Leerlinge wat reeds by skole ingeskryf is, sal na verwagting ook weer moet registreer. Ouers moet hulle ook van die datums vergewis.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het’n beroep op ouers gedoen om vroegtydig aansoek te doen by skole om te verseker dat hul kinders in Afrikaans sal onderrig kry.

Fedsas het ook daarop gewys dat ouers moet seker maak dat hulle al die nodige dokumente saam met die aansoekvorm indien. Dit is:

  • ’n Amptelike geboortesertifikaat van die leerling. As dié sertifikaat nie beskikbaar is nie, kan ’n leerling voorwaardelik toegelaat word totdat ’n afskrif van die sertifikaat bekom is.
  • Bewys dat ’n leerling teen die gelyste aansteeklike siektes ingeënt is.
  • Die leerling se oorplasingsertifikaat indien hy/sy van een openbare skool na ’n ander verskuif. As ’n oorplasingsertifikaat nie beskikbaar is nie, kan die hoof van die ontvanger-skool die leerling toelaat op grond van die mees onlangse rapport wat die vorige skool uitgereik het.
  • Ander gelykstaande dokumente van die vorige skool en ’n skriftelike beëdigde verklaring van die ouer wat redes verskaf waarom daar nie ’n oorplasingsertifikaat is nie en wat bevestig in watter graad die kind in die vorige skool was, kan ook gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Antoinette ·

In ons moderne eeu besluit al hoe meer ingeligte ouers om nie in te ent nie as gevolg van die newe effekte van inentings en agv die skade wat kinders al gely het vanwee inentings. In Suid Afrika is inentings nie verpligtend nie, aangesien daar nie ‘n fonds is wat kinders kan vergoed wat deur inentings beseer word nie (anders as in die VSA waar teen 2010 al $2 biljoen in eise uitbetaal is). Vir ‘n skool om dus aan te dring op ‘n bewys van inenting en moontlik ‘n kind toelating te weier, sal ‘n onregmatige skending wees van ‘n kind se reg tot onderwys. Ongelukkig dink meeste skole dat hulle geregtig is om aan te dring op bewys van inenting.

Nina ·

Jy is geregtig op jou besluit rakende jou kind. Masels kan ‘n kind se dood veroorsaak as hy/sy nie ingeent is nie. Sonder ente sal ons met epidemies sit wanneer masels, waterpokkies ens uitbreek. (In die VSA dagvaar mense vir enige iets; tot McDonald’s omdat hulle hulle so vervreet aan wegneemkos. )

Dis nog al die jare verpligtend om kliniekkaarte te verskaf. Dis darem ook nie asof dit ‘n nuwe wet is nie.

Antoinette Jurgens ·

Ek is ‘n prokureur, Nina. Daar is geen wet wat inentings verplig nie. En inentings gee nie noodwendig immuniteit nie. Die “Vaccine Court” in Amerika sit nie voor ‘n jurie nie, so jy kan dit nie vergelyk daarmee om McDonalds te dagvaar nie. Dit is nie ‘n “urban legend” dat inentings beserings kan veroorsaak nie – dis ‘n mediese feit wat die dokters nooit behoorlik aan ouers verduidelik nie. Sien gerus die formele statistiek van wat in die afgelope paar jare in Amerika uitbetaal is http://www.hrsa.gov/vaccinecompensation/statisticsreport.pdf

emile ·

“Ouers wat nie nou al weet of hulle volgende jaar gaan verhuis of op ’n ander plek nader aan ’n skool van hul keuse gaan werk nie, word aangeraai om by meer as een skool aansoek om toelating te doen.”

Niemand weet wat more gaan gebeur nie, hoe de dinges moet jy weet waar jy oor 8 maande gaan wees? Ouers moet dus heldersiende wees.

As jy naby jaar-einde hoor jy word in Januarie verplaas is jy geskroef. Jy MOES dit in April/Mei geweet het. My ervaring is skole het geen simpatie met ouers wat jaar-einde mobiel raak nie. Ek het, onmiddelik na skuif-verwittiging, in Oktober aansoek gedoen by nuwe skool in ander dorp waarheen ons in Januarie sou verhuis. Was hulle nou hardegat met my omdat ek nie al reeds in Mei aansoek gedoen het nie, toe daar nie sprake was van skuif nie?

“Ons IS vol, waar’s jou nuwe woning se munisipale rekening? Ek kan dit eers in Januarie kry wanneer ek inttrek. Dis JOU probleem. Ongeag of jy nou direk langs of oorkant die nuwe skool bly, ons het nie vir jou plek nie. Cheers. ”

Eisch.

Ghost ·

Die groot problem kom nie met dat daar nie genoeg plek is vir Afrikaanse kinders nie. Dit kom wanneer die skole wat in die lokasies is, nie meer daar wil skool gaan nie maar eerder na n Afrikaanse skool toe wil kom omdat die onderig daar better is. Dan wil hulle dit verengels. Inplaas die regering kyk na die skole wat so swak is en dit verbetter dan sal die problem nader aan opgelos wees.

emile ·

Elke skool wil graag ‘n veilige omgewing vir sy kinders skep. In SA dink ons meestal aan veiligheid itv fisiese sekuriteit met veiligheidsheinings ens. Vir my beteken veiligheid egter ook beskerming teen blootstelling aan voorkomende siektes soos bv masels en polio wat dmv inenting voorkom kan word.

Ouers wat nie hul kinders inent nie, stel hul eie en die res vd skool leerlinge bloot aan die siektes. En vergeet asb van die gediskrediteerde samesweringsteorie oor inenting wat kwansuis outisme en watookal sou veroorsaak. Daardie “navorsing” is lankal debunk as gedokter en die navorser geskors.

Lees asb
http://www.cbsnews.com/news/andrew-wakefield-autism-vaccine-fraud-or-conspiracy-victim/

en die gevolge van nie-immunisering:
http://www.cbsnews.com/news/doctor-blames-discredited-autism-vaccine-link-research-for-measles-outbreak/

Doen die verantwoordelike ding. Immuniseer jou kinders.

Antoinette Jurgens ·

Daar is ongelukkig nie logika aan hierdie argument nie. Indien inentings effektief was, dan hoef die ingeente kinders mos nie bang te wees dat die oningeente kinders siektes vir hulle sal gee nie? Die inentings is mos veronderstel om hulle te beskerm, of hoe? Maar die waarheid is ongelukkig dat baie inentings nie effektief is nie, terwyl dit die kind se gestel vol gemors pomp. Doen die verantwoordelike ding – doen goeie en wye navorsing voor jy besluit om jou kind in te ent.

Leendert van Oostrum ·

Fedsas verkondig in hierdie berig dat ouers ‘n inentingsertifikaat vir die kind “moet” indien. Dit impliseer noodwendig dat daar ‘n plig is om die kind in te ent.

Soos Antoinette hierbo aantoon, is daar in Suid-Afrika geen plig om die kind te laat inent nie. Om ‘n kind in te ent sonder die toestemming van sy ouer behels aanranding. (En as die kind ernstige gevolge oorhou, wat bekende newe-effekte van die entstof is, kan dit moontlik selfs aanranding met die doel om ernstig te beseer wees.)

Maar die ouer se toestemming moet INGELIGTE toestemming (“informed consent”) wees. As die ouer die inenting toelaat onder die wanindruk dat dit verpligtend is, is die ouerlike toestemming nie ingeligte toestemming nie. Dan is die inenting steeds aanranding. En skole en ander liggame wat ouers onder so ‘n wanindruk bring kan medepligtig wees aan die gevolglike aanranding.

Antoinette ·

Ek wil graag weet. Ons het ‘n paartjie wat in ‘n karavaan park gewoon het by ons in ‘n kothuis ingeneem. Noudat ek sien dat ons vroegtydig moet registreer ek ek bekommerd oor haar dogtertjie. hulle kom van die Oos Kaap en sy is nou 6 jaar oud. Hulle kon nie bekostig om haar in ‘n skool te sit 10 maande terug nie want die man het nie gewerk nie en hulle was nooit seker van blyplek nie. Ek wil graag met ‘n skool naby ons: Jeugpark – NorkemPark, Kempton Park gaan praat en haar solank in Gr R laat sit. Kan die skool ons weier?

Retha Bremer ·

Inenting is bloot beleid, nie wet nie. Indien U dink dit is wet, is U bloot oningelig. U sal dan ook net so oningelig wees oor wat als saam met die inenting in die kind ingespuit word. Ouers wat hulself beter ingelig het, verkies om dit nie te doen nie, hulle weet ook dat daar geen sodanige wet is nie, daarom kan geen skool of individu hul daaroor intimideer nie. Indien iemand oortuig is dat inenting teen siektes beskerm, hoef hul mos nie bang te wees vir die siektes nie? En van wanneer af is waterpokkies n lewensbedreigende siekte? Selfs masels word slegs n probleem wanneer kinders verwaarloos word. Pampoentjies is net n probleem by volwassenes. Hep B is net n probleem wanneer daar promiskuiteit is en vuil dwelmnaalde, of gaan dit so rof in skole dat kinders nou daarvoor ingeent word? Weereens, oningeligte mense dink hierdie siektes is n moontlike doodsvonnis. In die tyd toe ek skool gegaan het, was masels, waterpokkies en pampoentjies doodnormale kindersiektes wat elke ma kon hanteer. Trouens, ma’s het waterpokkie partytjies gehou sodat kinders dit kon kry en afhandel. Tetanis is mos nie aansteeklik nie? Waarom word dit afgedwing? Slegs oningeligte mense DINK hulle ken die feite. Asb Nina en Emile gaan lig julself in en die Dr. Wakefield verhaal, het n ander kant van die storie….gaan luister gerus SELF na sy kant en die van die ouers van die outistiese kinders met wie hy gewerk het. Besluit dan self waar die samesweringskomplot werklik le. Bloot die feit dat beheerrade dink beleid is wet, wys net hoe oningelig die algemene samelewing is – skokkend!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.