Versekeraars gaan glo nie betaal vir aardbewingskade nie

Skade wat tydens die aardbewing in Orkney aangerig is. Foto: ER24

Skade wat tydens die aardbewing in Orkney aangerig is. Foto: ER24

Minstens vyf versekeraars gaan glo nie vir die skade wat tydens die afgelope aardbewing aan huise aangerig is betaal nie.

“Ons het van die grootste versekeraars wat geboueversekering verskaf genader en gevind dat vyf van 17 versekeraars eise in verband met die Orkney-aardbewing kan weier indien daar bevind word dat dit deur mynbedrywighede veroorsaak is,” het Angelique Ruzicka, redakteur van Justmoney, gesê.

Die vyf versekeraars is drie van die vier groot handelsbanke naamlik Standard Bank, Absa en Nedbank. Die ander twee versekeraars is MUA en Addsure.

“Nedbank voorsien dekking vir mynverwante skade maar nie as die aardbewing deur suur mynwater [acid mine drainage] veroorsaak is nie.”

Sy sê MUA verskaf standaard aardbewingdekking maar kan die eis weier indien die aardbewing deur mynverwante aktiwiteite veroorsaak is.

Ruzicka sê Standard Bank se beleid is dat die eiser moet bewys dat die skade nie deur mynverwante aktiwiteite veroorsaak is nie en die eerste R2 500 of 1% van die verlies of skade moet betaal indien dit wel deur mynverwante aktiwiteite veroorsaak is.

Justmoney is ‘n webtuiste wat finansiële advies aan verbruikers verskaf. Telesure, Santam en Hollard is ook by die opname betrek.

Mandy Barret van Aon SA sê talle Suid-Afrikaners is onderverseker.

“Talle huishoudings trek finansieel swaar en verminder hul versekerde bedrae in ‘n poging om by te hou met stygende lewenskostes. Meeste mense vergeet egter om daaraan te dink dat hulle waarskynlik alle huisinhoud en moontlik die hele struktuur sal moet vervang in die geval van ‘n katastrofiese gebeurtenis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andre Stols ·

kry asseblief die mening van die groot leidende versekeraars soos Santa, Mutual en Federal, Hollard en Zurich- Beide Nedbank sowel as Standard bank is NIE versekeraars nie en kan dus geen mening gee nie.

Henry ·

Ek hou van die versekeraars se maniere om aanspreeklikheid te ontglip. Indien daar ‘n aardbewing plaasvind moet die versekerde bewys dat dit nie deur mynbedrywighede veroorsaak is nie… hoe en op wie se koste? Dit maak meer sin dat die versekeraars eerder moet bewys dat die aardbewing wel deur mynbedrywighede veroorsaak is as andersom.

Juanita ·

Nou wonder ek maar net van die mense soos ek wat my huis gekoop het lank voor al die mynbedrywighede in ons dorp. Voorheen was die naaste myn seker 40 km van die dorp en nou is daar groot mynbedrywighede binne ‘n 5 km radius. Dit klink vir my of die versekeraars maar maak soos die regering en ons geld steel.

Griet ·

Male sonder tal is daar deur KENNERS bevestig dat die aarbewing nie te wyte was aan mynbedrywighede nie!! 10 km onder die oppervlak??? geeneen van die myne in daardie area is so diep nie. Maar dit is versekeraars vir jou – vat jou geld en as jy hulle werklik nodig het, verdwyn hulle soos die naskokke van ‘n aardbewing………..grommend en knorrend.

Paul ·

Die opskrif stem nie met dit wat in die berig staan, ooreen nie. Al wat JustMoney bevind het, is dat sommige versekeraars se polisse spesifiseer dat hulle nie vir aardbewingskade betaal indien die aardbewing deur mynboubedrywighede veroorsaak is nie.

Het die Raad vir Geowetenskappe nie in elk geval alreeds bevestig dat die Orkney-aardbewing nie weens mynboubedrywighede plaasgevind het nie?

Dave ·

Geen van die myne in dààrdie area is so diep?
Griet, die diepste myn in die wêreld (WDL) is nie eens ‘n ⅓ so diep.

Griet ·

Dis presies was ek gesê het…? Seismologiese metings het die diepte van die aardbewing aangegee as ± 10km onder die oppervlak, die diepste myn volgens koerantberigte in daardie area is ± 4 km.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.