‘Versekeraars moet uitbetaal vir Covid-19-verliese’ – reguleerder

(Foto: pixabay)

Die finansiëlesektorreguleerder (FSCA) het versekeraars gewaarsku dat sakeondernemings wat besigheid en inkomste verloor het weens die Covid-19-pandemie, se eise nie onnodig vertraag of afgekeur moet word nie. Versekeraars voer glo aan dat dié verliese veroorsaak is deur die afsonderingstydperk, eerder as die pandemie self, en dat polishouers dus nie hiervoor kan eis nie.

Die reguleerder sê hy het klagtes ontvang van polishouers dat hul eise deur sommige versekeraars vertraag of afgekeur word. “Indien ʼn polishouer ʼn sakeversekeringspolis het en kan bewys dat hy ʼn verlies aan besigheid gehad het weens ʼn aansteeklike siekte in die gebied, soos uiteengesit in die polis, het die polishouer ʼn geldige eis,” sê FSCA. Die reguleerder sê hy het versekeraars wat eise afkeur of vertraag op grond van die afsonderingstydperk, asook kliënte onregverdig behandel en afbreuk doen aan die vertroue in die versekeringsbedryf. “Die FSCA het dit aan versekeraars gekommunikeer en sal optree teen instellings wat kliënte onregverdig behandel,” het die reguleerder Donderdag in ʼn verklaring gesê.

(Foto: pixabay)

In ʼn belangrike hofuitspraak die afgelope week het die hooggeregshof in Kaapstad beslis dat Guardrisk Insurance aanspreeklik is vir verliese wat Café Chameleon gely het weens Covid-19 en gelas dat die nodige tussentydse betalings gedoen moet word. Guardrisk moet ook die koste van die aansoek betaal.

Café Chameleon in Plattekloof het Guardrisk Insurance, wat deel is van die versekeringsreus Momentum Metropolitan Holdings, hof toe gesleep om ʼn klousule na te kom in ʼn versekeringspolis wat die restaurant in 2007 uitgeneem en sedertdien jaarliks hernu het. Die klousule verwys na aanmeldbare siektes wat binne ʼn radius van 50 km van die onderneming af mag voorkom.

Insurance Claims Africa, ʼn onderneming wat meer as 500 sakeondernemings verteenwoordig wat sukkel om hul Covid-19-versekeringseise uitbetaal te kry, het FSCA se uitsprake verwelkom. Insurance Claims Africa se uitvoerende hoof, Ryan Woolley, het gesê versekeraars verwerp sakeversekeringseise, al is die polishouer gedek vir aansteeklike siektes. “Versekeraars redeneer dat dié klousule nooit bedoel was om pandemies te dek nie en dat die afsonderingstydperk, eerder as die koronavirus self, tot verliese gelei het,” sê Woolley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willem ·

Dit reg. Assuransie maatskappye kom te maklik weg met al hul kamstige fynskrif. Ek het my werk verloor agv ongeluk en nie een van my eise het uitbetaal want dan dit en dan dat

Cleopatra69 ·

Hulle vinnig om jou geld te vat maar daar altyd stories as hulle moet betaal

Realis Thailand ·

In my oe is daar net een lot wat meer suinig is as n assuransie maatskappy om te betaal en dit is n anc lid as hy verloor in die hof.
Ek hoop Santam moet die volle 4 biljoen wat hulle na bewering nie wil uitbetaal nou betaal aan die arme besighede wat so swaar kry

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.