Versekering van vry, regverdige verkiesing élkeen se plig

(Argieffoto: Henk Kruger/African News Agency)

Om toe te sien dat vanjaar se algemene verkiesing vlot en regverdig verloop, sal eindelik die plig van elke stemgeregtigde burger wees, het dr. Corné Mulder, die Vryheidsfront Plus se hoofsweep en woordvoerder van die Veelpartyhandves, vandeesweek aan Maroela Media gesê.

Dus berus die onus op elkeen met oë wat kan sien, en ʼn slimfoon wat video’s en foto’s kan neem, om enige moontlike ongerymdhede by stembusse onmiddellik aan die groot klok te hang.

“Ons wil die publiek vra om te help kyk vir enige onreëlmatighede – hetsy ʼn stembus wat dalk weggesteek word of briewe wat in ʼn ander stembus gedruk word. Help foto’s neem, help video’s neem.”

Volgens Mulder beplan die Veelpartyhandves om ʼn sentrale kommunikasiepunt beskikbaar te stel waar enige inligting oor enigiets wat ʼn vry en regverdige verkiesing kan belemmer, aangemeld kan word.

Hulp van die publiek vorm deel van die Veelpartyhandves se doelwit en strategie om op stemdag oë en ore reg oor die land te hê.

Dr. Theuns Eloff, politieke kenner, stem saam dat die publiek ook ʼn rol het om te speel om regverdigheid te verseker.

“Ek dink die burgerlike samelewing moet waaksaam wees. Waar mense kan, moet hulle hand opsteek om ʼn vrywilliger te wees. Wanneer daar dan probleme by stempunte is, kan ʼn mens iets daaraan doen en dit in die openbaar aan die partye en media deurgegee word.”

Die Veelpartyhandves het vroeër onderneem om toe te sien dat die nasionale sowel as provinsiale verkiesing regverdig en akkuraat geskied deur ook buitelandse rolspelers te nader.

Die partye het aan verskeie buitelandse ministers, ander verteenwoordigers en toepaslike organisasies geskryf en hulp versoek om te verseker dat die uitslae van die verkiesing die wil van Suid-Afrikaners werklik weerspieël.

Dit kan beteken dat ʼn afvaardiging van die buiteland – op hul eie koste – na Suid-Afrika gestuur word om onder meer by stempunte waar te neem. Dit sal uiteindelik belangrik wees om fyn dop te hou wat met stemme gebeur, en seker te maak dat die tellery ook reg geskied sodat die korrekte syfers aan die sentrale kontrolepunt deurgegee word. Hier word alle stemme aan die einde van die dag bymekaargetel.

Op stemdag self wil die Veelpartyhandves ook seker maak dat daar voldoende toesig by al 23 000 stempunte reg oor die land is.

Dit is bykomend tot die agente wat elke politieke party stuur om namens die party toesig te hou, asook polisiebeamptes wat wet en orde by stempunte moet handhaaf.

So wil die Veelpartyhandves ook hul eie stemtelling byhou om eindelik te vergelyk met die stemtelling wat deur stempunte deurgegee word.

“As ons vroegtydig kan sien ‘maar volgens ons rekords kort hierdie party hier 30 000 stemme’, kan ons vinnig daarop reageer.”

Stemme word tydens die verkiesing in 2019 getel. (Argieffoto: Rajesh Jantilal/AFP)

Onpartydigheid van OVK bevraagteken

ʼn Ander kwessie waaroor dikwels bespiegel word, is of die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) werklik onpartydig kan optree – veral met betrekking tot die ANC en die invloed wat dié party moontlik op die OVK kan hê.

Eloff sê egter die OVK moet die voordeel van die twyfel kry, en dat hy nie in dié stadium enigiets onbillik in aanloop tot stemdag opmerk wat een party bo ʼn ander bevoordeel nie.

Hy verwys onder meer na die skedule wat in aanloop tot die verkiesing vrygestel is en waaraan partye gehoor moet gee.

“Sommige partye het oor die tydlyne gekla, maar ek dink dit lyk goed. Daar was wel ʼn begrotingsbesnoeiing en ek weet nie of dit ʼn invloed gaan hê op die OVK se kapasiteit nie.

“Daar het nog niks gebeur wat ʼn mens met sekerheid kan laat sê daar gaan ʼn kroekery plaasvind nie. Daar is baie stelsels van die OVK sowel as buite-organisasies in plek.”

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Kommer oor elektroniese kapasiteit, waarnemers

Twee goed waaroor Eloff wel bekommerd is, is die OVK se elektroniese kapasiteit, en partydige vrywilligers wat getaak word om by stempunte uit te help.

Na verneem word, is kieserslyste nie elektronies beskikbaar nie. Dit beteken dat meer as 27 miljoen name net op harde kopie by sekere kiespunte of ‑kantore beskikbaar is, wat behoorlike kontrole daaroor baie moeilik maak.

“Dit lyk of die OVK se elektroniese kapasiteit nog nie is waar dit moet wees nie.

“Dis ʼn onmoontlike taak – of jy nou ʼn individu of ʼn party is – indien ʼn kieserslys nie elektronies beskikbaar is om te bestudeer, steekproewe te doen en te toets nie.”

Tweedens sê Eloff kan sommige vrywilligers by bepaalde stempunte moontlik partydig wees.

Hy verwys veral na stempunte wat by skole opgerig word en waar onderwysers van daardie skole dan gevra word om as vrywilligers op stemdag te help.

“Baie van hierdie onderwysers is lede van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysunie (Sadou), wat ʼn alliansielid van die ANC is. Dit kan moontlik ʼn risiko inhou of probleme veroorsaak, en mense bevraagteken hulle onpartydigheid.”

Eloff hoop dat Suid-Afrika ook in die toekoms na deurskynende stembusse sal beweeg sodat ʼn mens presies kan sien wat in elke stembus, oftewel stemboks, ingaan.

(Argieffoto: Arnaud Jaegers/Unsplash)

Aanloop tot verkiesing ook belangrik

Stemdag self en die tellery van stemme is egter net een van die belangrike komponente van die verkiesing.

Mulder sê die aanloop – oftewel resies – tot die verkiesing wat oor net minder as drie maande plaasvind, is ook belangrik.

“Ons het drie maande tyd. Dis soos ʼn 400 meter‑wedloop, waar ons nou om die draai kom en moet sprint vir die wenstreep,” het hy geskerts.

“Dit gaan dalk rof raak. Uit die aard van die saak is die belangrike ding dat die verkiesing onder vreedsame omstandighede plaasvind, waar partye en onafhanklike kandidate die geleentheid het om hul standpunte te stel sodat kiesers oordeelkundige besluite kan neem.

“Daar is allerhande gedragskodes wat politieke partye by die OVK moet onderteken oor hoe veldtogte gevoer gaan word, onder meer sonder geweld en intimidasie. Indien hulle versuim, kan ʼn klagte by die OVK ingedien word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.