Versengende hitte in drie provinsies nog nie verby

Die brande in die Vermaaklikheid omgewing op 24 Oktober. Foto: Twitter via @wo_fire.

Dit blyk dat die ergste van die hittegolf in die Wes-Kaap en Noord-Kaap nog voorlê.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Woensdag dié nuus bevestig. Die weerdiens het ʼn spesiale waarskuwing uitgereik vir verhoogde gunstige toestande vir brande oor die Namakwadistrik van die Noord-Kaap, dele van die Oos-Kaap asook die Wes-Kaap – veral langs die kusgebiede van die Tuinroete-distrik tot en met Donderdag.

Hulle het verder melding gemaak dat die hittegolf in die Namakwadistrik tot Sondag sal duur.

Die weerdiens het gesê die weer in die Wes-Kaap sal vandag warm tot baie warm en uiters warm in die noordwestelike dele van die provinsie en die suidkus wees.

Storm Report SA het gesê hul voorspelling is dat die temperature in die Wes-Kaap die naweek ʼn toppunt sal bereik met Vredendal wat Saterdag temperature van 42°C of selfs meer sal trotseer.

Oudtshoorn sal Saterdag ʼn maksimum van 42°C bereik, terwyl Kaapstad Sondag by 32 °C sal piek. Stellenbosch sal ook Sondag ʼn maksimum van 36 °C beleef.

Mthatha in die Oos-Kaap is vandag ʼn allemintige 35°C, Grahamstad 34°C en Oos‑Londen 33°C.

Wes-Kaapse inwoners moet egter nie die truie té ver wegbêre nie. Luidens Storm Report SA sal daar na verwagting Dinsdag ʼn kouefront aanland kom in die Wes-Kaap wat uiteraard met koeler temperature gepaard sal gaan.

Groot dele van die Wes-Kaap gaan die afgelope paar dae gebuk onder verwoestende veldbrande. Die tuinroete-munisipaliteit het gesê ʼn brand in die Vermaaklikheid-omgewing waar ʼn brandbestryder-vlieënier van Working on Fire (WOF) gister gesterf het, is nou sowat 60% onder beheer.

Agt strukture is reeds verwoes en groot stukke volhoubare oesfynbos en weiding, asook erge skade aan heinings, is aangemeld.

WOF het op Twitter gesê dat 30 brandbestryders van Tsitsikamma en Lottering‑pas na die Lottering‑woud gestuur is om te help om die brand daar onder bedwang te bring.

In die Oos-Kaap is die WOF-spanne van Mhlanhlane, Ugie, Langeni en Elliot vanoggend gestuur na die brand in Singisi-woud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Genieve ·

Die brand woed nog steets hier by Vermaaklikheid want die wind maak dit baie moeilik vir WOF om ts blus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.