‘Versigtig optimisties’ oor omkeerplan vir Denel

Denel is steeds strategies van groot belang vir die land en kenners meen alle pogings moet aangewend word om die onderneming te red. (Foto: Maroela Media)

Denel het ʼn nuwe blaadjie omgeslaan en ʼn grootskaalse omkeerplan word in werking gestel om die staatsbeheerde onderneming van algehele ineenstorting te red. Solidariteit het dié plan verwelkom, maar sê hy sal die implementering daarvan met valkoë dophou.

Aan stuur van die plan om Denel reg te ruk is Riaz Saloojee, hoofherstruktureringsbeampte by Denel.

Saloojee was van 2011 tot 2015 uitvoerende hoof van die wapenvervaardiger en Denel het in daardie stadium ʼn gesonde balansstaat gehandhaaf. Die onderneming het ʼn netto wins van R200 miljoen getoon met ʼn bestelboek van meer as R35 miljard – die hoogste in sy geskiedenis.

Die wapenvervaardiger het die afgelope maand alle werkers se uitstaande salarisse betaal en Gloria Serobe, voorsitter van die Denel-raad, het vandeesweek die onderneming gegee dat alles moontlik gedoen word om te verseker dat die maatskappy hom nie weer in so ʼn situasie bevind nie.

Serobe sê daar kan nou begin word met die proses om Denel weer op sy voete te kry en die goeie naam wat die vervaardiger wêreldwyd gehad het, in ere te herstel.

Derek Mans, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit, sê enige plan om Denel weer aan die gang te kry, is in hierdie stadium ʼn goeie plan.

“Ons sal ʼn plan ondersteun wat werkbaar lyk.”

Solidariteit was die afgelope ruk in ʼn titaniese stryd met Denel gewikkel oor die betaling van die uitstaande salarisse. Dit het selfs ʼn punt bereik waar sommige van Denel se bates opgeveil is om agterstallige salarisse te betaal. Solidariteit het hierdie proses opgeskort nadat werkers betaal is.

Hoewel hulle die omkeerplan “versigtig maar optimisties” dophou, sê Mans ʼn herstruktureringsplan kan moontlik tot afleggings lei.

“Dit is natuurlik nie goed vir ons lede nie, maar ons sal dit hanteer soos dit gebeur.

“Ons moet egter die plan ʼn kans gee om in werking gestel te word,” sê hy.

Denel het ʼn bestelboek van R12 miljard en ʼn inkomstestroom van nog R30 miljard wat ontsluit kan word mits die wapenvervaardiger genoeg geld kan bymekaar skraap om sy bedrywighede weer ten volle te hervat.

ʼn Oorskot van R992 miljoen uit die maatskappy se na-aftrede-mediesevoorsorgfonds is gebruik om salarisse van R318 miljoen te betaal. Nog sowat R600 miljoen is dus beskikbaar vir ander bedryfsuitgawes en Denel hoop om met die verkoop van sommige van sy nie-kernbates, nog sowat R1,2 miljard in te vorder.

Na raming word nóg sowat R3 miljard egter benodig om Denel weer volstoom aan die werk te kry. Die belastingbetaler sal dit na verwagting moet finansier.

Daar was begrotingsgewys die afgelope twee jaar oënskynlik nie veel aptyt vir Denel nie. Alle aanduidings is nou dat die wapenvervaardiger oop is vir sake maar hulp hiervoor benodig.

Mans sê Denel is steeds strategies van groot belang vir die land en alle pogings moet aangewend word om die onderneming te red. Die maatskappy speel ʼn groot rol in die behoud van Suid-Afrika se soewereiniteit, sowel as in sy ondersteuning van die weermag om sy mandaat na te kom.

Inwerkingstelling deurslaggewend

Daar word nou begin om Denel weer op sy voete te kry en die goeie naam wat die vervaardiger wêreldwyd gehad het, in ere te herstel. (Foto: Maroela Media)

Saloojee is tydens sy aanvanklike termyn geloof vir sy uitstekende prestasie en leierskap – tot hy in 2015 deur ʼn nuwe raad uitgeskop is, na bewering omdat hy nie sake ten gunste van Gupta-maatskappye wou bewimpel nie.

Saloojee is oortuig dat Denel sy bestelboek beduidend kan uitbrei, maar sê die maatskappy het bloot nie die likiditeit om dit te doen nie. Denel wil vennootskappe met die plaaslike verdedigingsbedryf aangaan met ʼn beoogde groeikoers wat tot ʼn geraamde duisend direkte werksgeleenthede binne die volgende drie jaar en sowat 5 000 teen 2027 kan lei.

Daar is ook steeds groot belangstelling in Denel se gevegsbewese intellektuele eiendom. ʼn Vinnig veranderende internasionale verdedigingsomgewing gaan geleenthede skep om die maatskappy se produkte te bemark en strategiese verhoudings te bou.

Saloojee is dus vol vertroue dat die wapenvervaardiger kommersieel volhoubaar kan wees.

Mans sê ʼn reuseverantwoordelikheid rus op Saloojee, wat vir drie maande van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se tegniese afdeling (SAAT) na Denel gesekondeer is.

Onder sy bestuur het Denel vantevore bewys hy kan die boeke laat klop en Mans sê daar moenie uit die oog verloor word dat heelwat van Denel se ondergang te make het met grootskaalse staatskaping en swak bestuur nie.

Vakbonde vergader Dinsdag met die topbestuur van die wapenvervaardiger en sal daarna waarskynlik ʼn duideliker prentjie oor die beoogde herstruktureringsplan hê.

Mans sê daar is wel kommer oor Saloojee se voortgesette betrokkenheid by die praktiese inwerkingstelling van die omkeerplan – veral omdat hy net vir ʼn beperkte tydsduur na Denel gesekondeer is. “Indien hy nie betrokke is by die implementeringsfase nie, watter gesag gaan hierdie plan dra?”

Mans sê as vakbond het hulle ʼn verantwoordelikheid teenoor hul lede en belastingbetalers, maar ook om te help verseker die mark werk – en daarom moet Denel suksesvol omgekeer word.

“Daar is vir die eerste keer ʼn plan op die tafel wat ʼn bietjie sin maak. Saloojee fokus op die plekke waar dit nodig is om ʼn verskil te maak – en dit is ʼn goeie ding.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vinny ·

Soveel onsekerheid vir werknemers, kan die ding nou asb tot ‘n punt kom!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.