Verskeie foute glip in by Nios-verslag

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash/Vincent Ghilione)

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is vandeesweek op foute in sy weeklikse epidemiologieverslag gewys waarna die instituut die verslag gewysig en om verskoning gevra het.

Tog het daar nou wéér ʼn fout in sy gewysigde verslag ingeglip. ʼn Navorser meen dit doen skade aan die Nios se geloofwaardigheid.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Maandag in ’n brief aan Nios versoek dat sy jongste weeklikse epidemiologieverslag onttrek word om foute in die betrokke verslag te wysig voordat die gewysigde verslag weer gepubliseer word.

Barend Uys, hoof van navorsing en ontwikkeling by AfriForum, verduidelik dat inligting in die aanvanklike verslag van week 25 nie ooreengestem het met berekeninge gebaseer op die verslag van week 24 nie. “So het byvoorbeeld die totale getal mense in die ouderdomsgroep 55-59 jaar oud wat positief getoets het, afgeneem van 4 479 tot 1 246 sedert die week 24- verslag, wat nie moontlik is nie,” sê hy.

Volgens Uys was daar ook foute met die getal en persentasie nuwe gevalle vir meer as die helfte van die ouderdomsgroepe waaroor verslag gedoen is.

Uys het Woensdagoggend aan Maroela Media bevestig dat Nios om verskoning vir die foute gevra en AfriForum daarvoor bedank het dat hulle die foute uitgewys het. Nios het die organisasie daarvan verseker dat hulle poog om akkurate inligting weer te gee hoewel hulle erken het dat foute moontlik mag inglip. ʼn Gewysigde verslag is toe gepubliseer.

Volgens Uys het Nios egter nóg ʼn fout in die gewysigde verslag begaan. Dié keer in dieselfde tabel waar die foute aanvanklik was. AfriForum het hierdie keer egter ʼn fout by die ouderdomsgroep 35 -39 opgemerk.

“Dit is ʼn enkele fout by die syfer wat hulle aandui as die totale hoeveelheid. Ek kon sommer self die som maak en by die regte antwoord kom, maar dit maak ʼn mens steeds ongemaklik,” sê Uys nou.

“ʼn Mens verstaan dat foute kan inglip, maar hulle dra ʼn groot verantwoordelikheid. Hulle het tog ʼn kwaliteitsbeheerproses en ’n interne hersieningsproses voordat dit gepubliseer word. Dit laat ʼn mens vrae vra. As dit met my moes gebeur, sou ek die gewysigde verslag van hoek tot kant deurgaan om seker te maak dat daar geen foute in is nie voordat ek dit weer publiseer.”

AfriForum voer aan korrekte inligting is noodsaaklik vir navorsers en raadgewers om die stand van sake met betrekking tot Covid-19 te ontleed en aanbevelings te maak.

“Nios word deur belastingbetalers gefinansier, en belastingbetalers kan daarom aandring dat dié instituut se werk van hoogstaande gehalte moet wees,” meen Uys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jacobus ·

Eintlik skrikwekkend. Die stats, rapportering en boekhouding gedurende die krisis bekommer want dis mense se welstand is ter sprake. Of is dit die einddoel. Die probleem is, gewigtige besluite word op bollie data geneem.

Pappa Beer ·

Regtig!!!! Is die syfers en statistieke verkeerd!!! Wie sou dit nou kon raai. My magtig, kopdoek, cyril en die res kon mos nooit sulke foute laat deurglip nie. Die cANCer regering is dan op die bol met alles. Ek staan verstom. Enige persoon met graad een wiskunde kon al van die begin af uitwerk dat dit n lot strooi is en dat daar ander onderduimshede aan die gang is. Die regerings narre dink mos hulle is almagtig en niemand kan agter kom dat hulle skille as vrugte probeer verkoop nie.

marius ·

Verstaan asseblief , die batterye is agterstevoor in die sak rekenaar gesit , nou trek hy af in plaas van optel . Die komissie wat dit moet ondersoek sal volgende week ‘n antwoord verskaf ….

Kobus ·

Ek het vir ‘n paar weke die Worldometer se syfers gevolg, en selfs daar is daagliks met die syfers gekonkel, party dae tot en met 1000 ekstra nuwe gevalle wat bygesit word, selfde met die sterftes. Hulle dink seker almal kan nie tel nie.

JohanR ·

Kobus – behalwe dat hulle dink almal kan nie tel nie, dink hierdie ANC lot almal in SA is dom behalwe die ANC! Hulle het eers ‘n soegenaamde krisis in die Wes-Kaap geskep maar nou kan Gauteng syfers nie meer weggesteek word nie want die krisis het gekom, en Gauteng gaan die Wes-Kaap verbysteek.

4ntj13 ·

Ek dink die boodskap is baie duidelik:
Die politieke agendas lyk báie belangriker as enige openbare belang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.