Verskeie gru-ongelukke in Pretoria aangemeld

Wrakstukke op die N1 in Pretoria. (Foto: Netcare911)

Stad Tshwane se nooddienste het die afgelope naweek op verskeie voorvalle reageer. Paaie moes gesluit word ná van die voorvalle en daar was erge beserings en lewensverlies.

Thabo Charles Mabaso, woordvoerder van Tshwane-nooddienste, het gesê brandbestryders is Saterdagmiddag na die Groenkloof-natuurreservaat ontbied waar ʼn vrou na haar dood geval het. ER24-paramedici het die vrou op die toneel dood verklaar ná hulle tevergeefs gepoog het om haar by te bring. “Sy het glo inmekaargesak toe sy 10 km saam met haar gesin in die natuurreservaat gaan stap het. Brandbestryders, paramedici, polisiebeamptes en personeel van die reservaat het beurte gemaak om haar liggaam teen die helling af te bring,” het Mabaso gesê.

Brandbestryders het Saterdagoggend ook reageer op ʼn voorval op die R25 naby Lynwoodweg waar ʼn trekker omgeslaan het. Die manlike bestuurder is dood verklaar.

Die N1-snelweg is Saterdagaand tot ná middernag gesluit toe 13 motors in ʼn ongeluk betrokke was. Dit het gevolg ná ʼn man van die Atterbury-brug op die snelweg geval het. “Die man het vermoedelik omstreeks 18:10 sy eie lewe geneem deur van die brug af te spring. Dit het ʼn vragmotorongeluk veroorsaak en die snelweg moes gesluit word. Paramedici het die man op die toneel dood verklaar. Minstens 18 persone het verskeie beserings opgedoen.” Nóg ʼn ongeluk het later gebeur en nog ʼn gedeelte van die snelweg moes gesluit word. Verkeer is by die Garsfontein-afrit herlei.

Brandbestryders en paramedici is Saterdag omstreeks 21:00 ook na die N4 naby die R101-brug ontbied waar die onthoofde liggaam van ʼn voetganger aangetref is. Die man is deur ʼn voertuig getref. “Die bestuurder het beheer verloor oor die voertuig ná hy die voetganger getref het, en het ʼn vragmotor getref wat in die teenoorgestelde rigting aangekom het. Die bestuurder van die voertuig is ook dood verklaar op die toneel.” Die vragmotorbestuurder is nie beseer nie.

Vier volwassenes en ʼn vyfjarige kind het Saterdag omstreeks 19:20 verskeie beserings opgedoen toe die twee voertuie, waarin hulle gery het, in ʼn ongeluk op die R631 (Boschkopweg) naby Tiegerpoortweg betrokke was. ʼn Man se been moes geamputeer word en hy is na Life Wilgers-hospitaal geneem in ʼn kritieke toestand.

“Brandbestryders is Sondag ontbied ná diesel van ongeveer 1 000 liter uitgelek het toe ʼn tenkwa in stilstaande voertuie vasgery het in die parkeergebied van Netcare Pretoria-Oos-hospitaal.”

ʼn Man is dood toe hy beheer verloor het oor sy voertuig op die Bushveldpad in Mmakaunyana. Stad Tshwane se brandbestryders is ontbied om paramedici te help om die man se liggaam uit te haal nadat die motor op hom omgerol het.

“Ons doen ʼn beroep op motoriste en voetgangers om uiters versigtig te wees op paaie en aan padverkeersreëls en veiligheidsprotokol te voldoen. Ons neem met kommer kennis van die toename in noodlottige en nienoodlottige ongelukke en ander traumaverwante voorvalle wat tydens Februarie 2021 by Stad Tshwane se nooddienste aangemeld is,” het Mabaso bygevoeg.

ʼn Ondersoek oor die oorsaak van die beweerde selfmoord en die ongelukke wat dit tot gevolg gehad het as ook ander ongelukke en voorvalle duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.