Verskeie hoës by Zuma-verhoor

Oudpres. Jacob Zuma voor die aanvang van Maandag se hofverrigtinge. (Foto: Rogan Ward/AFP)

Oudpres. Jacob Zuma sal volgens sy regsverteenwoordiger onskuldig pleit op die aanklagte teen hom wanneer die saak op 26 Mei in die Pietermaritzburg-hooggeregshof begin.

Die saak is Maandag weer uitgestel nadat Zuma se regspan gevra het dat adv. Billy Downer SC hom as aanklaer aan die saak onttrek. Die saak is uitgestel sodat die staat eers na die betrokke verklaring daaroor kan kyk.

Zuma staan tereg op 16 aanklagte, waaronder bedrog en rampokkery, wat verband hou met die 1999-aankoop van vegvliegtuie, patrolliebote en weermagtoerusting van vyf Europese wapenvervaardigers – destyds ten bedrae van sowat R30 miljard.

Die 79-jarige Zuma was destyds pres. Thabo Mbeki se adjunk en word daarvan beskuldig dat hy omkoopgeld van nagenoeg R4 miljoen van een van die maatskappye, die Franse wapenvervaardiger Thales, ontvang het. Thales is ook ʼn beskuldigde in die saak.

Oor die afgelope 20 jaar is die saak al tallose kere uitgestel terwyl Zuma ʼn string aansoeke ingedien het om die aanklagte teen hom te laat vaar.

Sowat drie weke gelede het al sy regsverteenwoordigers hulle onttrek sonder om enige redes te verskaf en daar was vanoggend kommer daaroor of ʼn gebrek aan verteenwoordiging tot nog ʼn vertraging in die saak sou lei.

Zuma, wat die verhoor vantevore as ʼn “politieke heksejag” bestempel het, is wel verteenwoordig deur adv. Thabani Masuku.

Masuku het aan die hof gesê hulle is gereed om met die verhoor voort te gaan en dat Zuma “nog altyd gereed was”.

Bykans almal in die hofsaak het opgestaan toe die oudpresident, geklee in ʼn donkerblou pak, die vertrek binnegekom het. Zuma het in reaksie sy hande voor sy bors vasgeklem.

In die openbare galery het ʼn man gesing “long live Jacob Zuma, long live”.

Die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, sou na verwagting die eerste persoon wees om te getuig. De Lille was in die hof, maar is verskoon.

Talle polisielede is ontplooi en heelparty Zuma-ondersteuners het buite die hof saamgedrom.

Ook die ANC se geskorste sekretaris-generaal Ace Magashule het die verrigtinge bygewoon. “Ek is hier om my steun vir pres. Zuma te wys,” het Magashule gesê, terwyl hy die verhoor terselfdertyd as “so polities” afgemaak het.

ʼn Skare ondersteuners, geklee in geel T-hemde van die regerende party en met wapperende ANC-vlae, het buite die hof gedreunsing.

“Ons moet pres. Zuma toelaat om met grasie en waardigheid tuis te rus,” het Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, gesê. Mahumapelo het ook die saak bygewoon.

Hy sê Zuma het “deurlopend volgehou niemand is verhewe bo die reg nie. Hy het hom nog altyd aan die reg onderwerp. Op sy gevorderde ouderdom moet hy egter toegelaat word om in die vergetelheid te verdwyn  terwyl ons as samelewing aanbeweeg”.

Ook Tony Yengeni, ʼn lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, Duduzane Zuma, Zuma se seun, en Carl Niehaus, woordvoerder van die uMkhonto we Sizwe- militêre vereniging, het die verrigtinge bygewoon.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gert K

Klink of dit ‘n lekker rampokker reunie was daar by die hof.

Michal

en die konsert gaan voort, lekker man lekker

Robert

Plaas hulle een groot hofsaak gemaak het want daar is so baie kriminele in een hof bymekaar. Duidelik verstaan die hoipeloi nie wat is die verskil tussen reg en verkeerd nie. As jy baie verkeerd gedoen het maar jy is oud dan word jy sommer outomaties onskuldig bevind. Daar word gedurig gehammer oor die kere wat die saak uitgestel word maar wie is die rede daarvoor.

Manie

Ek lees elders dat Zuma dreig dat hy die ANC se “diep geheime” op die lappe sal bring indien daar voortgegaan word om hom te vervolg.

Sambok

Ga,dit gaan nog 20 jaar vat om hom te probeer bere