Verskeie liggame ná vloede gevind

’n Bakkie is Vrydag deur die sterk stroom van die Hennopsrivier in Centurion meegesleur [Foto: Verskaf]

Die dodetal weens grootskaalse oorstromings in Pretoria en Centurion het tot vier gestyg nadat nog drie liggame oor die afgelope paar dae gevind is. Maroela Media het vroeër berig dat swaar reën sedert Vrydag oor die Tshwane-gebied uitgesak het.

Volgens die Tshwane-metroraad het nooddienswerkers die liggaam van ʼn man opgespoor wat glo in sy sinkhuis in Mamelodi, noordoos van Pretoria, verdrink het.

Die soektog na ʼn man wat op ʼn boot was toe dit Saterdag oor die Roodeplaat-damwal gespoel het, het ook tragies geëindig. Die man se liggaam is Dinsdag stroomaf in die dam opgespoor.

Die polisie het Dinsdag ook die liggaam van ʼn motoris in sy Audi-sportnutsvoertuig ontdek. Die motor het glo weggespoel en naby die Centurion Lake-hotel vasgeval.

“Die duikspan het die liggaam Woensdagmiddag onder die hotel gevind,” het die metroraad in ʼn verklaring gesê.

Nog ʼn slagoffer is Sondag in sy motor in die Hennopsrivier in Clubview gevind. Die voertuig, ʼn bakkie, is glo Vrydag meegesleur.

Die name en ouderdomme van die slagoffers is nie in dié stadium bekend nie.

Intussen duur die soektog na ʼn Uber-bestuurder en twee passasiers wat glo deur die Olifantspruit in Midstream (Ekurhuleni) naby Irene meegesleur is, voort.

“Ons doen ʼn beroep op inwoners om paraat en versigtig te wees. Moet nooit probeer om oorstroomde laagwaterbrûe oor te steek nie. Inwoners moet ook seker maak dat hulle hulself en alle waardevolle items na hoër gebiede skuif indien hulle deur oorstromings bedreig word, en om dadelik hulp op ons tolvrye noodnommer (107) te ontbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Althes ·

My innige simpatie aan al die families wie ñ geliefde verloor het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.