Verskeie munisipale bestuurslede vas vir bedrog

Buti Molupi, voormalige waarnemende bestuurder van Nala-munisipaliteit

Die voormalige waarnemende bestuurder van die Nala-munisipaliteit in die Vrystaat is Woensdag deur die Valke in hegtenis geneem weens beweerde tenderbedrog. Die voormalige munisipale bestuurder van die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit (Harrismith) is ook vroeër in verband met dieselfde saak in hegtenis geneem.

Buti Piet Molupi (49) was die waarnemende munisipale bestuurder by die Nala-munisipaliteit (Bothaville en Wesselsbron) van 2016 tot 2018, toe die beweerde onregmatighede plaasgevind het. Die saak hou verband met onreëlmatige aanstellings van sekerheidsbeamptes in Bothaville. Volgens die Valke se ondersoek het dié aanstellings daartoe gelei dat die munisipaliteit ʼn verlies van R205 000 gely het.

“Die ondersoek het ook reeds gelei tot die inhegtenisneming van vier senior beamptes by die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit (Harrismith) en ʼn voormalige bestuurder van die Nala-munisipaliteit, Chris Mokomela,” sê brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder. “Die groep het glo saamgewerk om die maatskappy Zero Tolerance ʼn tender te gee om sekerheidsdienste aan dié munisipaliteite te lewer sonder dat die nodige prosesse gevolg is.”

Robert Tsupa, die voormalige bestuurder van die munisipaliteit in Harrismith, het glo R700 000 van dié munisipaliteit se geld só vermors.

Mothupi het in die landdroshof in Bothaville verskyn en is op borgtog van R5 000 vrygelaat. Sy saak kom weer op 11 Mei in die hof voor om ʼn datum vas te stel vir die verhoor in die handelshof.

Die ander verdagtes sluit in die hoof- finansiële beampte en die direkteur van openbare veiligheid van die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit. Hulle het reeds in die hof verskyn en is op borgtog van R10 000 vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

Munisipale bestuurder gmppfffff….. ek sal hom nie eens vertrou om my trekker te bestuur nie.

Wat nog n munisipaliteit!!

Ronel ·

En van die sake teen Kroonstad se MM wat so lekker saam die perde gehardloop het en toe saam die Valke gevlieg het, word ook niks meer berig nie. Bly seker weer lekker in weelde in sy belastingbetaler meenthuise.

007 ·

Lekker uitgevang, hoop hy kry wat hom toekom. Die hele spul is skelm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.