Verskeie NRO’s gesluit ná sterftes, dodetal styg

Gwen Ramokgopa en Aaron Motsoaledi tydens Dinsdag se perskonferensie. Foto: ANA

Gwen Ramokgopa en Aaron Motsoaledi tydens Dinsdag se perskonferensie. Foto: ANA

Soveel as 22 van die 27 nieregeringsorganisasies (NRO’s) wat psigiatriese pasiënte gehuisves het nadat die Gautengse gesondheidsdepartement sy kontrak met Life Health Esidimeni beëindig het, gaan gesluit word na aanleiding van die dood van minstens 94 psigiatriese pasiënte.

Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, het dié aankondiging Dinsdag tydens ʼn perskonferensie in Pretoria gemaak.

Motsoaledi was deur die pasaangestelde LUR van die Gautengse gesondheidsdepartement, dr. Gwen Ramokgopa, vergesel.

“Ek het op 4 Februarie ʼn span van 60 professionele en tegniese kenners aangestel. Van 6 tot 9 Februarie is die 27 NRO’s, wat ʼn totaal van 42 instellings bedryf, deur die kenners besoek. Tot op hede is sewe instellings reeds toegemaak en huisves nie meer enige pasiënte nie,” het Motsoaledi gesê.

“Sedert die sluiting van die Life Esidimeni-instellings en die sewe instellings wat deur die betrokke NRO’s bedryf is, is psigiatriese pasiënte na tien hospitale in die provinsie oorgeplaas. Daar word tans nagenoeg 600 psigiatriese pasiënte by dié hospitale gehuisves.”

Hy het gesê die 22 NRO’s is met onmiddellike inwerkstelling gesluit. Motsoaledi het gesê hy is in verbinding met Life Esidimeni en ʼn ander private instelling om die stand van hul gereedheid vas te stel om van die pasiënte daarheen oor te plaas.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder vir gesondheid in die provinsie, het Woensdag die sluiting van die 22 NRO’s verwelkom. Bloom het egter gesê hy het intussen bewus geword van nog ʼn sterfte as deel van die “tragedie”.

“Die man het by die Shammah NRO wat in Cullinan gebaseer is gesterf. Volgens die man se broer is hy vandeesweek dood en was hy in ʼn uitgeteerde toestand,” het Bloom gesê. Hy het gesê die res van die pasiënte moet dringend na doeltreffende instellings oorgeplaas word aangesien vertragings in die proses tot meer vermybare sterftes kan lei.

Bloom het ook gesê die aantal sterftes kan moontlik nog styg aangesien daar nog 19 ongeïdentifiseerde liggame in lykshuise is van Esidimeni-pasiënte wat by die NRO’s gehuisves was. Die polisie is steeds besig met die identifisering en nadoodse ondersoeke van dié mense.

Die gesondheidsombudsman het intussen Woensdag in die parlement bekend gemaak dat die dodetal al op meer as 100 staan.

Maroela Media het vroeër berig die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, Qedani Mahlangu, het aan die einde van Januarie bedank slegs ʼn dag voordat die gesondheidsombudsman ʼn verdoemende verslag bekendgestel het waarin hy aandui dat minstens 94 psigiatriese pasiënte gesterf het nadat hulle uit die Life Esidimeni na NRO’s sonder geldige lisensies verskuif is. Die DA het reeds ʼn aanklag van strafbare manslag teen Mahlangu aanhangig gemaak.

Makgoba het in sy verslag drie sleutelspelers in die verband geïdentifiseer, naamlik Mahlangu, dr. Tiego Selebano, hoof van die Gautengse gesondheidsdepartement, en die departement se direkteur, dr. Makgabo Manamela. Selebano is verlede week op aanbeveling van die gesondheidsombudsman geskors en Manamela het ʼn kennisgewing van voorneme om geskors te word, ontvang.

Solidariteit Helpende Hand het verlede Woensdag aangekondig die organisasie gaan ’n klasaksiegeding teen die departement van gesondheid van begin na aanleiding van die pasiënte se tragiese dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lee ·

Dis nou baie lekker … is geskors … so nou hoef die persoon glad nie te werk nie en kry nog salaris. Lekker in die nuwe SA.

wilma ·

O hell sal die hopelose spul dit dan nooit besef nie. Hul het dit neti om te govern ni. Niemand so blind soos hy wie ni wil sien ni. Strongs aan naasbestaandes. Weet verseker God slaap nie. Dit kom neer op moord dai sterftes

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.