Verskeie ongerymdhede tydens NGV-openbare verhore – AfriForum

Argieffoto

Openbare verhore oor die implementering van die nasionale gesondheidsversekering het slegs in Zoeloe plaasgevind en is sonder kennisgewing rondgeskuif. Só sê die burgerregte-organisasie AfriForum, wat van dié vergaderings bygewoon het.

Die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid het van 25 tot 28 Oktober openbare verhore oor die wetsontwerp op NGV in Mpumalanga gehou. AfriForum se verteenwoordigers het dié openbare verhore onderskeidelik in Nelspruit, Secunda, Ermelo en Middelburg bygewoon en verskeie ongerymdhede opgemerk. “Die ongerymdhede het ingesluit dat verrigtinge slegs in Zoeloe plaasgevind het en daar geen tolke beskikbaar was nie. Die pamflette was ook net in Zoeloe gedruk,” sê Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder oor die NGV.

Sy sê die verhoor in Secunda is boonop na dieselfde dag as die verhoor in Ermelo geskuif, sonder om die verandering aan die publiek te kommunikeer. Een van die vergaderings het ook ’n uur en ’n half voor die geskeduleerde tyd daarvoor geëindig, nadat die komitee aangedui het dat hulle na Johannesburg moes terugkeer om vir die verhore in die Noord-Kaap voor die berei. Dit het daartoe gelei dat AfriForum nie ’n spreekbeurt gekry het nie.

Venter vertel dat die verhore in Springbok en Kimberley in die Noord-Kaap vroeër vandeesmaand weer nie juis aftrek gekry het nie.

Volgens Venter blyk dit dat die openbare proses om die publiek se insette te kry van die begin af gemanipuleer word om ’n uitkoms te kry wat die implementering van die NGV bevorder.

AfriForum het in ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa, Tito Mboweni, minister van finansies, en Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gerig waarin hy waarsku dat die inwerkingstelling van die NGV tot die afgradering van die land se kredietgradering tot rommelstatus kan lei.

Venter verduidelik die skrywe volg nadat die kredietgraderingsagentskap Moody’s die land se kredietgradering onlangs van ’n stabiele na ’n negatiewe vooruitsig afgegradeer het. Moody’s het aangevoer die rede vir die afgradering is somber groeivooruitsigte en groeiende openbare skuld.

AfriForum sê in die brief dat ʼn onbekostigbare en ideologiese beleid soos die NGV daartoe gaan lei dat die land na rommelstatus afgegradeer gaan word, aangesien die land dit eenvoudig nie kan bekostig nie.

“Om met die inwerkingstelling van die NGV voort te stu, sal nie net rampspoedig vir die Suid-Afrikaanse ekonomie wees nie; dit sal ook staatskuld opblaas tot vlakke wat dit onmoontlik sal maak om die afgradering na rommelstatus in die voorsienbare toekoms vry te spring,” sê Venter.

Volgens AfriForum gaan die NGV die land R446,8 miljard per jaar kos. Die organisasie wys verder daarop dat die totale inkomste van inkomstebelastinginvorderings, die land se hoofbron van inkomste en finansiering vir die NGV, in 2017 net meer as R425 miljard beloop het.

“NGV se ideologiese doel is om mense toegang tot gesondheidsorg te gee. Die afgradering tot rommelstatus, waartoe die implementering van die NGV kan lei, sal trouens mense se kanse op ekonomiese sukses ondermyn deur salarisse te verminder of tot verdere werksverliese te lei. In kort het die inwerkingstelling van die NGV die potensiaal om die land se reeds swak ekonomie totaal te verwoes.”

AfriForum doen daarom ’n beroep op Ramaphosa, Mboweni en Mkhize om die regering se planne rakende die NGV ernstig te heroorweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Die ANC sal elke slenter probeer, en gebruik om hierdie ding deur te druk! Het nog nooit lus gevoel om die land van my geboorte te verlaat nie, maar kom ons se maar in Engels “I am making inquiries” Ek will soe 75% reg wees waaneer die paw paw rerig die waaier slaan! Die ander 25% moet net wees om my tas, vlieg kaartjie en paspoort op te tel, en die ANC en Eskom ‘n laaste middel vinger te gooi!

Chris ·

Laat hulle begaan. Dankie vir die goeie werk wat Afriforum doen, maar helaas, te min mense verstaan en besef wat dit behels. Daar is nie veel wat gedoen kan word om die ANC tot besinning te roep nie. Ten beste kan Afriforum die reels ter instelling effe temper

Kraaibakke ·

Onse land spog dan met 11 tale wat dan van die ander tale jy hoor dan net sekeres ,Die N VG is myns insiens n kapitale wit olifant wat maak hulle?

Lewis ·

Hoeveel lede van AfriForm is Zoeloe magtig. Konsulteer hulle om by hierdie vergaderings by te sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.