Verskeie sterf tydens taxi-geweld in Moederstad

Verskeie mense is Dinsdagoggend dood of beseer nadat skote in Delft en Harare afgevuur is. (Argieffoto: pixabay)

Die polisie in Kaapstad ondersoek drie sake van moord en ses van poging tot moord wat vermoedelik met taxi-geweld Dinsdag in Harare en Delft verband hou.

Volgens adjudantoffisier Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, is twee 39-jarige mans Dinsdagoggend in Bukwayostraat in Harare doodgeskiet.

Nóg ’n man (42) is ernstig beseer nadat hy in Mewweg (Harare) geskiet is terwyl ’n onbekende slagoffer, vermoedelik ’n taxi-bestuurder, ook geskiet en na ’n nabygeleë hospitaal vervoer is.

Die liggaam van ’n 45-jarige man in Symphonyweg naby Blikkiesdorp is in die bestuursitplek van sy motor aangetref. Dit is egter onduidelik wat tot dié man se dood gelei het en of dit ook ’n uitvloeisel van taxi-geweld in die omgewing was.

Die polisie is ook na ’n toneel naby Sarah Baartmanweg in Delft ontbied waar ’n taxi-bestuurder skietwonde aan sy bene opgedoen het.

Nóg drie mense, ’n man en twee vroue, is in Delft gewond ná skote op hulle voertuig afgevuur is.

“Die drywer van ’n kleinhandelonderneming het werknemers afgelaai toe twee onbekende verdagtes probeer het om die motor voor te keer.

“Die bestuurder van die motor het weggejaag terwyl die verdagtes op die voertuig losgebrand het. Die insittendes is na ’n hospitaal geneem vir verdere behandeling.”

Volgens Swartbooi is geen verdagtes nog in verband met dié nege sake in hegtenis geneem nie. Daar word egter vermoed dat die gebeure met taxi-geweld verband hou.

“Die polisie in Harare ondersoek twee sake van moord en twee sake van poging tot moord terwyl die polisie in Delft een moordsaak en vier sake van poging tot moord ondersoek.”

Swartbooi sê voorts bykomende polisiehulpbronne is na gebiede wat tans deur die geweld geraak word, ontplooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
JohanR

Lyk my ALMAL het nog maar ‘n geweer gelisensieer of ongelisensieer?