Verskeie vas vir dwelms in Wes-Kaap, KZN

Die polisie het ook op selfone en ander toerusting beslag gelê. (Foto: SA Polisie)

Die Wes-Kaapse polisie het beslag gelê op dwelms soos Mandrax en tik ná ʼn gemeenskapswenk oor dwelms wat uit ʼn huis in Harare verkoop word.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het gesê die dwelms het ʼn beduidende straatwaarde.

“Tydens verdere deursoeking is 21 selfone, ʼn skaal en masjiene om elektrisiteit te verkoop, asook ʼn kontantbedrag in die huis gekry,” het hy gesê.

ʼn Twee-en-dertigjarige man is in hegtenis geneem en sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Khayelitsha verskyn.

In ʼn afsonderlike voorval is ʼn 43-jarige man in hegtenis geneem nadat die polisie 33 pakke dagga in sy bakkie gevind het. Hy sal môre in die Athlone-landdroshof verskyn.

En in Phoenix in Durban het die KwaZulu-Natalse polisie beslag gelê op heroïen van nagenoeg R90 000 nadat hulle op ʼn vermeende dwelmsmous toegeslaan het waar dié in sy motor gesit het.

Brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het tydens die intelligensiegedrewe operasie heroïenkapsules en -poeier in die 27-jarige man se besit gevind. Hy verskyn later in die Verulam-landdroshof.

“Hierdie is ʼn groot deurbraak in ons oorlog teen dwelms en die Phoenix-polisielede moet geloof word omdat hulle ook ʼn verdagte in die proses aangekeer het,” het lt.genl. Khombinkosi Jula, KwaZulu-Natalse polisiehoof, gesê.

Hy het ʼn beroep op gemeenskappe gedoen om saam met die polisie, staatsdepartemente en nie-regeringsorganisasies te werk om die vlaag van dwelmmisbruik te help stuit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

poppie ·

jy kan di polisie alles vertel en hulle doen niks !! van karre name adresse tellefoon nrs .. het n famili lid gehad wat dit gebruik het .. wa kry mens iemand wat rerig iets sal doen ?? dis n plaag in ons dorpi

andre ·

STOP eers die alkohol en dwelms dan stop die MISDAAD vanself!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.