Verskeie vas wat motoriste glo terroriseer

Kort ná ʼn video wyd op sosiale media versprei is wat wys hoe motoriste in spitsverkeer op die M1-hoofweg naby die Crown-wisselaar beroof word, het die Johannesburgse metropolisie (JMPD) agt verdagtes in hegtenis geneem.

Dit is nog onduidelik hoeveel mense die slagoffers van die vermeende bende was.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, kon Woensdag nie dadelik bevestig hoeveel aanklagte van roof by die polisie aanhangig gemaak is nie.

Die video is Dinsdag versprei. Daarin kan gesien word hoe vyf mense ʼn verkeersopeenhoping uitbuit om motoriste van stilstaande motors te beroof. Sommige van die vermeende rowers was glo ook gewapen met 9 mm-pistole.

Xolani Fihla, woordvoerder van die JMPD, het in ʼn verklaring bevestig agt verdagtes is Dinsdagmiddag laat in hegtenis geneem. Een van die verdagtes is gewond nadat hulle in ʼn skietery met die JMPD-lede betrokke geraak het.

“In die departement se strewe om die vlaag onwettige mynbedrywighede te bekamp, is ʼn klag van gewapende onwettige mynwerkers by die aansluiting van Main- en Reefweg opgevolg,” sê Fihla.

Daar is ook volgens Fihla klagte ontvang van onwettige myners naby Shamrockstraat.

Teen die tyd dat wetstoepassers by die toneel opgedaag het, het twee groepe mense op mekaar losgebrand. Dit was sommige van dié mense wat motoriste glo beroof het.

“Hulle [verdagtes] het op die beamptes begin vuur,” sê Fihla.

Die beamptes het teruggevuur en een van die verdagtes is gewond.

Die hulp van polisielede verbonde aan die Primrose-polisiekantoor, die blitspatrollie en lugvleuel is ook ingeroep. Danksy hul hulp is die gewonde verdagte gevind. Dié het glo ʼn vuurwapen by hom gehad waarop die polisie beslag gelê het.

Hierna is nog sewe verdagtes in hegtenis geneem.

Die gewonde verdagte is na die Germiston-hospitaal geneem waar hy tans onder polisiebewaking behandel word.

Al agt sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Karoo ·

Knap gedaan, die vinige aksie en hoopelik erge straf sal toekomstige situasie hoopelik hok slaan.

Pierre ·

R50 borg, more oor die grens en n week later terug met n nuwe naam

lodewyk ·

Kan julle wet,dat die meeste van hulle nie SA burgers is nie en onwettig in SA is,Julius se maatjies…

Christine ·

Die 5 verdagtes sal binnekort in die hof verskyn en vrygelaat word hoe klink dit

Koen ·

Goeie genade, maar julle kan kla. Klafrikerns, landgenote. Wees getrou aan kla, kla, kla.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.