Verskeie waarskuwings vir donderstorms uitgereik

‘n Tregterwolk wat in Bethulie in die Vrystaat waargeneem is (9 Oktober 2017). Foto: Twitter via ReenvalSA/Vleis Terblanche

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Maandag waarskuwings uitgereik vir hewige donderstorms op verskillende plekke in die land.

Die SAWD het Johannesburgse inwoners gewaarsku dat hewige donderstorms in die gebied kan voorkom wat moontlike skade kan veroorsaak. Madimetsha Thema, ʼn voorspeller by die SAWD, het gesê donderstorms kom gewoonlik voor voordat ʼn kouefront die gebied tref en dit kan met hewige winde gepaardgaan.

Thema het egter gesê mooi weer word vir die res van die week in Johannesburg verwag. “Ons voorspel nie enige reën in die gebied vir die res van die week nie.”

Die weerdiens het verder gewaarsku dat donderstorms ook oor die oostelike dele van Noordwes, die oostelike dele van die Vrystaat, die noordelike en sentrale dele van KwaZulu-Natal en plekke in Limpopo en Mpumalanga verwag word.

Die SAWD het Maandag teen 15:30 gewaarsku dat ʼn hewige donderstorm oor Randfontein waargeneem is wat in die rigting van Soweto beweeg. Die weerdiens het gesê die storm kan met verwoestende winde, hael en swaar reënval gepaardgaan. Daar is ook ʼn waarskuwing uitgereik vir ʼn donderstorm noordoos van Thabazimbi in Limpopo wat in die rigting van Bela-Bela en Mookgopong beweeg.

Hael wat in Harrismith in die Vrystaat geval het (9 Oktober 2017). Foto: Facebook via Vrystaatse departement van gesondheid

Donderstorms is ook op verskeie plekke in KwaZulu-Natal, insluitend die eThekwini-dsitrik, waargeneem.

Reënval SA het Maandagmiddag foto’s gedeel van ʼn tregterwolk wat oor Bethulie in die Vrystaat waargeneem is. Foto’s van hael in dié gebied is ook op sosiale media gedeel. Die Vrystaatse departement van gesondheid het op sy amptelike Facebook-blad motoriste gewaarsku om versigtig te wees nadat reusehaelkorrels in die Harrismith-gebied geval het.

Volgens ReënvalSA het hael ook in die Pilanesberg-gebied, op die N1 tussen Johannesburg en Kroonstad en buite Colesberg in die rigting van Bloemfontein geval.

Thema het gesê die weerdiens sal voortdurend sy waarskuwings opdateer en dat die inligting op die SAWD se amptelike sosialemediaplatforms beskikbaar sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dafer ·

Kan die oorstromings van die aansluitings van die snelwee net nie verstaan nie! Sekerlik het die ontwerpers geweet daar gaan water wees. Iets moes intussen downstream gebeur het dat die water nie dreineer nie, of gebeur dit al al die jare?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.