Verskerping van SEB bring groter benadeling – Solidariteit

Rob Davies

Rob Davies

Die eersdaagse verskerping van die Wet op Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging en die gepaardgaande SEB-kodes sal Suid-Afrikaners in die algemeen benadeel, het die vakbond Solidariteit vandag in lig van die BBSEB-beraad wat tans in Midrand plaasvind, gesê. Dit is nie net huidige eienaars van ondernemings en ware entrepreneurs wat benadeel sal word nie, maar veral ook Suid-Afrikaanse verbruikers. Solidariteit betreur die voortgesette politieke toedeling van kapitaal eerder as ʼn verbruikersgeleide toedeling in die Suid-Afrikaanse ekonomie, waarteen die vakbond vroeër vanjaar in die parlement gewaarsku het.

Volgens Piet le Roux, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het die wet ʼn ironiese nagevolg. “Die ironie is dat die parlement se onlangse goedkeuring van die verskerpte wet oënskynlik die bedoeling het om ekonomiese voordele vir swart mense in te hou, maar dit sal tot gevolg hê dat alle Suid-Afrikaners, insluitend vele van diegene wat veronderstel is om by SEB te baat, benadeel gaan word. Dit sal daartoe lei dat selfs meer hulpbronne aan relatief minder goeie entrepreneurs – swart, bruin, Indiër én wit – verskaf word; entrepreneurs wat nie sonder regeringshulp die mas sou opkom nie. Dit beteken dat minder verbruikersgoedere vir alle Suid-Afrikaners beskikbaar gestel sal word. Die koste van hierdie projek word dus uiteindelik deur gewone verbruikers, wat nou duurder vir lewensmiddele moet betaal, gedra.”

Le Roux sê benewens wat as goeie bedoelinge met die wet beskou kan word, het Rob Davies, minister van handel en nywerheid, ongelukkig ook ʼn agenda met die wet. “Black economic empowerment is not just a social and political imperative. We need to make sure that in the country’s economy, control, ownership and leadership are reflective of the demographics of the society in the same way the political space does,” het Davies in Oktober verlede jaar gesê. Volgens Le Roux word die beginsel van private eienaarskap deur hierdie benadering onderwerp aan die mate waartoe dit politieke beheer bevorder en is dit in pas met minister Davies se senior rol in die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party. “Die enigste wesenlike voordeel van SEB gaan aan die sogenaamde swart elite en daardie wit persone met die regte konneksies. Dit geskied ten koste van die oorgrote meerderheid verbruikers in Suid-Afrika, wat swart, bruin en Indiër-mense insluit.”

Om meer te lees oor die SNI se beskouing van SEB, sien hoofstuk 2 van die April-uitgawe van die SNI arbeidsmarkrapport: klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H J Bester ·

Die beste van goeie argumente kan teen hierdie sotlike “manipulering” van die ekonomiese toneel in Suid-Afrika deur die ANC-regering aangevoer word maar die wetmaker sal nooit enige teen-argument aanvaar nie. Die rede is maar eenvoudig dat die wetmaker nie die werkinge van ‘n vrye ekonomiese stelsel begryp en verstaan nie – al wat hy op die oog het is om soveel mag moontlik in die hande van die swartman te plaas – en so word meer skade as goed gedoen aan die ekonomie van die land. En die prys wat daarvoor betaal moet word, is weereens maar net weer die swartman.

Vas Vat ·

Eenogige besluite, is gewoonlik n goeie resep vir totale ondergang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.