Verskerpte veiligheid bepleit ná moord by Buffelspoort-oord

Johannes en Linda Brits (Foto: Verskaf)

Fanie du Toit, woordvoerder van die VF Plus in Noordwes, sê die moord op Johannes Brits by die Buffelspoort-vakansieoord naby Rustenburg beklemtoon opnuut die vlak van wetteloosheid waarmee landelike inwoners van Noordwes te kampe het.

“Dit is tragies dat ʼn gesin en familie in die veiligheid van ʼn bekende vakansieoord hierdie geweld en trauma moes ervaar tydens ʼn familievakansie. Dit sou jammer wees indien die toerismesektor nou ook geteiken word deur misdadigers wat die provinsie se landbousektor in die provinsie teister.”

Du Toit sê dit moet in die kiem gesmoor word deur onder meer verskerpte veiligheidsmaatreëls.

Toerisme is een van die grootste werkskeppers in Noordwes en vorm deel van die ruggraat van die provinsie se ekonomie. Die bedryf moet beskerm word.

“Indien natuurliefhebbers en ander besoekers die provinsie weens veiligheidsoorwegings begin vermy, kan dit ʼn ekonomiese ramp vir die provinsie veroorsaak waarvan daar moeilik herstel sal word,” meen Du Toit. “Die voorkoming van hierdie tipe misdade behoort prioriteit te geniet en met intelligensie-gedrewe optrede doeltreffend bekamp word.”

Die VF Plus sal voortgaan om gemeenskappe by te staan in die bekamping van misdaad en die ondersteuning van plaaslike veiligheidstrukture.

Maroela Media het vroeër berig die bestuur van die ATKV-Buffelspoort sê die oord se omheining is ná die onlangse moord op Brits opnuut nagegaan en geen skade is opgemerk nie. “Geen drade is geknip nie en elektrifisering van alle sones by die oord is in ʼn goeie werkende toestand.” Bykomende sekerheidswagte sal nietemin aangestel word om die oord te patrolleer terwyl die veiligheidsmaatreëls van ATKV-oorde landswyd nagegaan sal word indien nodig.

Brits is Donderdag in die vroeë oggendure in ’n chalet by die ATKV-Buffelspoort doodgeskiet. Die familie het in een van die chalets by die oord tuisgegaan toe drie verdagtes by die chalet ingebreek het. Maroela Media het vroeër berig Brits het uit die bed opgestaan toe sy suster by sy kamer instorm nadat rowers by die chalet ingebars het. Hy is toe verskeie kere raakgeskiet.

Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie en die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.