Verskil in bankkoste vernou; lojaliteitsbonusse nou deurslaggewend

(Argieffoto)

Solidariteit het Donderdag met die vrystelling van die jongste Bankkosteverslag aangekondig dat banke in 2020 met hul kostestrukture al hoe nader aan mekaar beweeg het. Solidariteit het voorts bevind dat daar tans slegs bitter klein verskille tussen banke se koste is, met mededinging wat eerder na hul beloningsprogramme skuif.

“Banke het begin om eerder te fokus op hul beloningsprogramme omdat dit amper onmoontlik begin word het om op koste mee te ding. Daarom het ons vanjaar ’n veel groter fokus op beloningsprogramme, waar ons hulle vir die eerste keer aan die hand van ’n vasgestelde lys transaksies vergelyk,” verduidelik Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Solidariteit verduidelik dat sodra transaksies begin toeneem, Capitec, sonder om rente in ag te neem, verreweg die goedkoopste bly. Vir hierdie verbruikers is koste egter nie die enigste oorweging nie, sê Solidariteit. Capitec bied byvoorbeeld geen bykomende waarde soos ’n uitgebreide beloningsprogram nie.

“Wat wel in die nuwe kostestrukture, veral dié van FNB, duidelik is, is dat banke verbruikers so ver as moontlik wil bemagtig om eerder transaksies deur middel van elektroniese metodes te doen, eerder as om takke of kitsbanke te besoek. Dit is tans by alle banke goedkoper om kontant by ’n winkeltoonbank te onttrek as om dit selfs by jou eie bank se kitsbank te trek,” sê Du Buisson.

“In die intreevlakkategorie is Absa Transact tans die goedkoopste rekening –  met ’n paar sent. Sodra ’n mens egter ’n batige saldo van meer as ’n duisend rand handhaaf, steek Capitec Absa verby, omdat dit die enigste bank in hierdie kategorie is wat rente betaal. Verbruikers met selfdissipline sal dus die goedkoopste regkom by Capitec. Wanneer rente buite rekening gelaat word, merk ons op dat die verskil tussen goedkoopste en duurste, vir ’n rekening met 17 transaksies, nie eers R3 is nie,” verduidelik Du Buisson

Solidariteit voer aan dat verbruikers met meer transaksies, en daarmee saam ’n groter inkomste, gewoonlik banke se vlagskiprekeninge verkies, waar baie alledaagse transaksies by die pakket ingesluit word.

“As ons bloot na koste kyk, is Absa se Gold Value Bundle die goedkoopste rekening in hierdie kategorie. Ons moet egter meld dat die prys van die kitsbanktransaksies wat in ons lys van rekeninge ingesluit is, baie verskil van bank tot bank. Sou ons dit met transaksies oor ’n winkeltoonbank vervang, sal FNB met die louere wegstap. Verbruikers moet dus mooi kyk wat by hul pakkette ingesluit is en watter metodes om byvoorbeeld geld te trek deur hul banke verkies word,” sê Du Buisson.

Een opwindende insluiting in vanjaar se bankkosteverslag is ’n ontleding van die banke se lojaliteitsprogamme. Volgens Solidariteit kan ʼn mens nie meer banke se vlagskiprekeninge beoordeel bloot op wat verbruikers betaal nie.

“Ons moet ook kyk na wat verbruikers kan terugkry. Hiervoor het ons die beskikbare inligting op banke se webwerwe gebruik. Absa, Standard Bank en FNB het funksies op hul webwerwe waarmee ’n mens eerstens kan kyk in watter ‘vlak’ ’n verbruiker sou val, en daarna hoeveel die verbruiker se transaksies hulle in die sak sou bring.”

bankkaart-banke-transaksie

Foto: Rawpixel/Unsplash.com

Du Buisson verduidelik verder: “Ons het ’n lys transaksies saamgestel om te kyk hoeveel beloningspunte ’n verbruiker daarmee sou kon verdien. Hier is FNB los voor in die wedloop. Volgens ons lysie transaksies sou ’n verbruiker wat alledaagse aankope by die voorgeskrewe winkels doen, ’n allemintige R463,20 terugkry. Met dieselfde lys transaksies sou die verbruiker by Standard Bank, wat die tweede plek beklee, R174,30 terugkry.”

Wat rekeninge vir die hoër middelklas betref, meen Du Buisson dit is bykans onmoontlik om slegs na koste te kyk wanneer die vergelyking gedoen word.

“Al die banke het in hul duurder bondelrekeninge die lys van ingeslote gratis transaksies uitgebrei, met die uitsondering van kitsbankonttrekkings, wat veral by FNB duurder geword het. In hierdie kategorie moet verbruikers seker maak dat hulle die meeste uit hul pakkette kry. Die ingeslote ekstras sluit enigiets van lewensversekering tot toegang tot lughawesitkamers in. Bloot op grond van koste sal FNB se Premier Cheque Bundle volgens ons ontleding die duurste wees en Absa se Premium Banking die goedkoopste.

“Die hoogtepunt van vanjaar se verslag is waarskynlik die ontleding van lojaliteitsprogramme. Dit is verblydend om te sien dat al die banke, met die uitsondering van Nedbank, tans volkome deursigtig is oor hoe punte verdien en toegeken word.

“Ek hoop verbruikers kan uitsien na veel groter mededinging tussen banke, veral in toegevoegde waarde soos beloningsprogramme,” sluit Du Buisson af.

Om die volledige verslag te besigtig, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Petrus Klipkop ·

Dis net ‘n jammerte dat FNB tans besig is om hulle kliënte met One Account- rekeninge (sonder enige voorafkonsultasie), te forseer om hulle One Account te wysig na ‘n gewone tjekrekening en ‘n afsonderlike huisverband te open. Dit het my redelik warm onder die kraag, aangesien die One Account met sy dekkingsverband my in staat gestel het om my volle inkomste in die rekening te deponeer en nogsteeds volle toegang te hê tot enige ekwiteit in die rekening. Ek hou maar duimvas dat FNB vir my die opsie gee om ‘n flexi-lening te open, sodat ek toegang kan hê tot enige addisionele bedrae wat ek in die lening deponeer. Die One Account was ‘n fantastiese rekening wat mens in staat gestel het om jou langtermynskuld baie koste-effektief te bestuur. Ek voel dit moes nie net ‘n eensydige besluit van die bank se kant af wees nie, maar dat daar met die kliënte oorleg gepleeg moes word.

Stof ·

Nie alleen is Capitec se koste die mees bekostigbare nie, maar diskrimineer hulle nie tussen klante met allerlei verskillende rekeningpakkette ooreenkomstig inkomste en adres nie. Capitec se personeel is ook deur die bank deeglik opgelei en kan ter enige tyd, hulle wat eens op ‘n tyd geroem het dat hulle die reuse in die bankbedryf sou wees, gaan mentor in ware klantediens.
Baie dankie Capitec.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.