Verskoon maar jou werkers dié Swart Vrydag, sê aanlynwinkel

Inkopiegangers op Swart Vrydag. Foto: ANA

Met aanloklike winskopies in baksteen-en-sement winkels, asook aanlynwinkels, kan werkgewers maar vergeet van produktiewe werkers wanneer Swart Vrydag vanjaar Suid-Afrika se winkels tref.

So sê Matthew Leighton, woordvoerder van OneDayOnly.co.za, ʼn plaaslike aanlynwinkel wat elke dag winskopies aan verbruikers bied. Die winskopie is slegs geldig vir een dag.

“Die dag van massa inkopies gaan sonder twyfel werknemers se aandag by die werk aflei,” sê Leighton.

Hoewel die dag as ʼn tradisie in die VSA begin het, en gewoonlik op die dag na dié land se dankseggingsdag voorkom, het die gier gou in ander lande vlamgevat en is dit nou vir verbruikers en die kleinhandelbedryf wêreldwyd ʼn belangrike datum op hul kalenders.

Volgens OneDayOnly.co.za se jongste syfers was daar verlede jaar sowat 150 000 verbruikers op hul webwerf op Swart Vrydag. Op ʼn gemiddelde dag kry die webwerf sowat 60 000 trefslae en op dae wat hulle bogemiddelde besoeke kry, staan die syfer op sowat 80 000.

Swart Vrydag se winskopies begin al die vorige aand om middernag, maar verbruikers is deurlopend op hierdie dag besig om vir winskopies te snuffel. Op OneDayOnly het die meeste verkeer op dié webwerf op dié dag rondom 6:00, 8:00, 11:00 en 15:00 toegeneem.

Mense het ook drie keer meer tyd op die webwerf bestee as gewoonlik. “Buiten dat verbruikers meer tyd op ons webwerf deurbring, keer baie verbruikers meer as een keer op die dag terug,” sê Leighton.

Hoewel dit gaan veroorsaak dat ʼn paar sperdatums gaan verstryk, glo hy egter dat dié inkopiedag ʼn uitsonderlike positiewe uitwerking op die plaaslike ekonomie het.

Verlede jaar het verbruikers ʼn gemiddeld van R1 300  per indiwidu bestee, terwyl hulle op enige ander dag sowat R970 bestee. Volgens BankServ, ʼn betalingsklaringsonderneming, is R1,3 miljard verlede jaar op dié dag bestee. Dit was 16% meer as wat in 2017 bestee is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Inkopies ·

Dis nou ‘n dag wat ek nie naby die winkels kom nie. En ek wens hulle wil dit net ‘n ander naampie gee.

Tilla ·

As daar meer noodsaaklikhede soos kos en skoonmaak middels was, sou dit nog erger gewees het. Was Saterdag in Makro en daar was dit net aanmekaar luukse artikels wat op die groot “specials” verkoop is en die mense wat noodsaaklikhede nodig het staan soos gewoonlik alweer agter in die ry

boerseun ·

Dit raak elke jaar erger en meer onbeheerbaar, ek verwag dat die jaar daar algemeen geplunder gaan word.

Koos ·

Vat verlof as die werkgewer dit sal toelaat. Anders is dit “no work, no pay” of selfs ontslag as jy net wegbly.

Luciemarie ·

Ek stem. Vat verlof en moet nie my as werkgewer se tyd en geld mors nie.

jaco ·

Waar is die ekonomiese resessie, rommelstatus, toenemende armoede en 35% werkloosheid dan nou?

Adel ·

Ja nee, ek kom ook nie naby enige winkels op die betrokke dag nie. Gaan defnitief nie my siel so versondig nie, die mense stamp, stoot, foeter selfs mekaar vir winskopies.

Hahahaha nee wat ek bly eerder tuis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.