Verslag bevestig die bestaansreg van Afrikaanse universiteite

Prof-Fernand-de-Varennes-taalverslag-2015

Professor Fernand de Varennes het in ‘n verslag die bestaansreg van Afrikaanse universiteite onderskryf. Foto: Esté Meyer Jansen.

Professor Fernand de Varennes, ʼn internasionale taalregtekenner, het in ʼn verslag beklemtoon dat ʼn taal met die omvang en ontwikkelingsvlak van Afrikaans as ʼn primêre onderrigmedium aan beide publieke en privaat universiteite gebruik mag word.

Die verslag wat De Varennes op versoek van die burgerregte-organisasie AfriForum en die vakbond Solidariteit opgestel het, is Maandag by ʼn konferensie in Centurion bekendgestel. Leiers van verskeie Afrikaanse organisasies en lede van die burgerlike samelewing het die bekendstelling bygewoon. Die verslag volg op die omstrede debat oor die gebruik van Afrikaans as amptelike onderrigtaal op tersiêre vlak en fokus veral op die gebruik van Afrikaans by die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit.

De Varennes het gesê dat sy verslag handel oor die toeganklikheid en gehalte van onderwys, asook die regverdigheid en redelikheid vir die gebruik van ʼn taal regoor die wêreld. “Dit is ʼn kwessie van menseregte en vanuit die oogpunt van internasionale menseregte word die gebruik van moedertaalonderrig vir solank as moontlik aangemoedig. So presteer studente eenvoudig die beste en dit is ook meer koste-effektief vir ʼn gemeenskap.”

Hy het bygevoeg dat internasionale menseregte-instellings erken dat onderwys nie by elke skool en universiteit in al die land se tale kan plaasvind nie, maar indien daar ʼn omvangryke gemeenskap in ʼn geografiese gebied is wat dieselfde taal gebruik, maak dit eenvoudig sin om onderrig in die gemeenskap se taalvoorkeur te bied, veral as dit reeds ʼn onderrigtaal is.

“Daar is niks vreemds of revolusionêr aan die idee dat ʼn regering meer as een taal as onderrigmedium gebruik nie. Inteendeel, dit word in die meeste lande reeds op tersiêre vlak gedoen. In Brittanje is daar universiteite wat Wallies as onderrigmedium het en in Spanje word soveel as vier tale gebruik, terwyl ʼn land soos Italië oor verskeie universiteit beskik wat drie tale as onderrigmedium gebruik.”

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wil die Afrikaanse gemeenskap Afrikaanse onderrig op tersiêre vlak ontvang, maar ideologiese uitsprake deur onder meer die minster van hoër onderwys en opleiding het twyfel laat ontstaan of hulle mag. “Hierdie verslag en konferensie het die reg tot ʼn Afrikaanse staatsondersteunde en privaat-universiteit bo alle twyfel uit ʼn internasionale en Suid-Afrikaanse grondwetlike perspektief beantwoord,” het Hermann gesê.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, meen die argument wat owerhede dikwels teen die gebruik van Afrikaans as bedryfs- en onderrigtaal aan universiteit aanvoer, is dat dit teen die sprekers van ander tale diskrimineer omdat dit hulle toegang tot onderrig ontsê. “Aan die hand van die verslag is dit duidelik dat dit juis diskriminasie is, wat volgens internasionale menseregtebepaling onaanvaarbaar is, om Afrikaanssprekendes toegang tot onderrig in Afrikaans te ontsê.”

Die meeste van die konferensiegangers wat dit eens dat die taalmodel van die Noordwes-Universiteit ʼn goeie model is wat wys hoe om voorsiening te maak vir studente wat Engels en Setswana verkies, terwyl Afrikaans steeds die primêre onderrigtaal is.

Volgens Johan Zerwick, taalombudsman van die taaldirektoraat van die universiteit, word 58% van die klasse van al die modules, insluitend nagraads, getolk na onder meer Engels, Afrikaans en Tswana. “Hoe meer ons vir ander tale ook doen, hoe meer gaan ons die toekoms van Afrikaans verseker,” het Zerwick gesê.

Hy het Afrikaanssprekende ouers ook aangemoedig om hulle kinders steeds na Afrikaanse universiteite te stuur. “Ons sit met ʼn Afrikaanse gemeenskap wat stadig maar seker vertroue verloor in Afrikaans. Moenie ophou om jul kinders na die Puk toe te stuur nie – hulle vorm deel van die kritiese massa Afrikaanssprekendes wat Afrikaans in stand hou.”

AfriForum en Solidariteit het bevestig dat die Solidariteit Beweging, waarvan die organisasies deel is, alles moontlik sal doen om Afrikaanse moedertaalonderrig op alle vlakke in staatsondersteunende en privaat instellings te bevorder.

Lees prof. De Varennes se volledige verslag. Klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gwen ·

Die vraag is of die minister hom daaraan gaan steur. Ek twyfel sterk. Gelukkig weet ek die VF+ is sedert hulle ontstaan ten gunste van moedertaalonderrig en wil nie soos die DA hê alles in ons land moet Engels wees nie.

Willie Maree ·

Afrikaanse ouers het het die reg en moet aandring op lesse in Afrikaans aan alle voorheen Afrikaanssprekende universiteite. Hierby ingesluit NWU, UV en UP en US. Insgelyks moet studente aangemoedig word om aktief op Afrikaans as onderrigtaal aan te dring. Alhoewel vreemd aan ons groep is aktivistiese optrede moontlik nodig . Hierin kan Afriforum Jeug ‘n leidende rol vervul

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.