Verslag bevestig US onderdruk Afrikaans – DA

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die DA meen dat die Universiteit Stellenbosch (US) nie heeltemal deursigtig was oor die inhoud van ʼn verslag oor die beweerde onderdrukking van Afrikaans op die universiteit se kampus nie.

Die party het ingevolge die Wet op Toegang tot Inligting (Paia) ʼn afskrif van ʼn forensiese ondersoekverslag deur die ouditfirma Deloitte bekom en sê dat dié verslag as bewys dien dat Afrikaanssprekende studente van die reg om hul moedertaal te praat ontneem word.

Prof. Deresh Ramjugernath, viserektor: leer en onderrig, het die bevindings in die verslag in Junie vanjaar in ʼn brief bekendgemaak, waarin hy ook die versekering gee dat die universiteit tot inklusiewe meertaligheid verbind sal bly. Die volledige verslag is egter nie tóé bekendgestel nie en die DA meen die US was nie heeltemal deursigtig wat die inhoud van dié verslag betref nie.

Deloitte se ondersoek het gevolg nadat klagte in Maart aanhangig gemaak is dat die universiteit se bestuur of koshuisleiers die gebruik van Afrikaans verbied.

Deloitte het wel bevind dat daar geen opdrag van die US-bestuur of koshuisleiers was om Afrikaans tydens die universiteit se verwelkomingstydperk te verbied nie, maar getuienis wat in die verslag gelewer word, dui daarop dat huiskomiteeleiers van die Minerva-koshuis wel die gebruik van Afrikaans verbied het. Eerstejaarstudente van dié koshuis is glo gedreig dat hulle “uit die verwelkomingsprogram geskop sou word, sou hulle ʼn uitsluitende taal praat”.

Luidens getuienis wat in die verslag gelewer word, het Pieter Kloppers, direkteur van studentesake aan die US, boonop vir huiskomiteelede gesê dat hulle “niks verkeerd doen” deur ʼn Engelse taalbeleid af te dwing nie.

“Dit is duidelik dat dit wat die US in die openbaar sê, nie strook met dit wat agter geslote deure plaasvind nie,” het dr. Leon Schreiber, DA-parlementslid, aan Maroela Media gesê.

Getuienis in die verslag

Huiskomiteelede van die Minerva-vrouekoshuis het wel volgens die verslag gevra dat studente slegs Engels tydens die verwelkomingstydperk praat om inklusiwiteit te bevorder.

Daar is bevind dat verskeie huiskomiteelede weens taal uitgesluit gevoel het toe hulle destyds eerstejaars in dié koshuis was.

Hulle wou dus vanjaar die verwelkomingstydperk meer inklusief maak.

Luidens Deloitte se bevindings blyk dit dat daar egter grys gebiede met die toepassing van dié reëling was, wat tot onsekerheid, bespiegeling en onduidelikheid onder sommige Afrikaanssprekende studente gelei het.

Getuienis wat in die verslag vervat is, dui aan dat Kloppers op 9 Maart vanjaar met Minerva se huiskomitee vergader het nadat eerstejaarstudente oor ʼn verbod op Afrikaans gekla het.

Die studente is glo deur die koshuisleiers verbied om Afrikaans in die koshuis, hul kamers en selfs op parkiebanke op die kampus te praat.

Volgens getuienis het Kloppers die huiskomitee glo by dié vergadering verseker dat hulle “niks verkeerd doen” deur ʼn slegs-Engels-taalbeleid af te dwing nie.

“Na aanleiding van hierdie erkenning was lede van die komitee hewig ontsteld dat die US-bestuur nie openlik hul steun aan die verbod op Afrikaans wou toesê nie, ten spyte daarvan dat hulle [self] geglo het Minerva doen niks verkeerd nie,” sê Leon Schreiber.

“Op dieselfde dag is eerstejaars ingelig dat daar tydens die sogenaamde ‘verwelkomingstydperk’ ʼn verwagting is dat slegs Engels gepraat sou word.”

Nog getuienis onthul dat studenteleiers van Minerva reeds op 4 Maart vanjaar besluit het om eerstejaarstudente in te lig dat hulle “uit die koshuis se verwelkomingsprogram geskop sou word, sou hulle ʼn uitsluitende taal praat”.

Die dreigement dat Afrikaanssprekende eerstejaars uitgesluit sou word “om inklusiwiteit te bevorder” is glo herhaaldelik aan nuwelingstudente gemaak.

“Ook opvallend is dat die Deloitte-verslag uitdruklik aanbeveel dat studente ingelig moet word oor die taalregte soos in Suid-Afrika se Grondwet vervat, waaronder dat alle amptelike tale geregtig is op gelykheid en gelyke aansien.

“In ʼn verklaring oor die Deloitte-verslag het die US-bestuur egter verkies om hierdie aanbeveling geheel en al te ignoreer, wat daarop dui dat hulle nie van plan was om dit in te stel nie.”

Die DA meen die US se besluit om hierdie getuienis en aanbeveling te ignoreer dra verder daartoe by dat die US se beoogde nuwe taalbeleid onwettig en irrasioneel is, aangesien dit eenvoudig die praktyke van die 2016-taalbeleid – waaronder ʼn hele reeks vergrype teen Afrikaanse studente gepleeg is – voortsit.

Die US het Woensdag aan Maroela Media gesê hy gaan nie in fyn besonderhede kommentaar op die uitlatings deur die DA lewer nie en dat die bestuur reeds breedvoerig terugvoer oor dié verslag gegee het. Die US sê die verslag is ook met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gedeel.

Volgens Martin Viljoen, US se woordvoerder, word die verklarings in die verslag uit verband geneem en moet die verslag holisties en binne konteks gelees word.

“In hierdie stadium duur die SAMRK-ondersoek nog voort en die US sal wag totdat die ondersoek afgehandel is en die verslag en bevindings bekendgemaak word.”

“Afgesien van die duidelike bevindings van die Deloitte-verslag, het die US-bestuur die aanbevelings van die verslag in ag geneem en ʼn aksieplan opgestel om hierdie aanbevelings in ag te neem en stelselmatig in werking te stel.”

Die universiteit het in Julie die tweede konsep van sy hersiene taalbeleid (2016) vir kommentaar uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nie Verbaas ·

Iemand moet my tog vertel dat ek nie met n mede Afrikaner Afrikaans mag praat nie.

Johnny ·

. . . of met enigiemand anders nie.
Ek sou waarskynlik self die koerante gehaal het en ‘n toetssaak veroorsaak het.
Waarom moet Afrikaners altyd buig en die ander taal praat? Dit is nog ‘n oorblyfsel van 100 jaar gelede, toe ons as bywoners en minderaaardiges deur die Engelse behandel is na die Anglo-Boere oorlog.

Rooikoos ·

Toemaar, Viljoen en Kloppers slaan nou die drom teen hulle eie taal.

miavos ·

Afrikaans mog nie gepraat word nie. Het dit vir die ander amptelike tale ook gegeld? Twee Xhosa-dametjies op n parkiebank mog net Engels met mekaar praat?

Jaco ·

Daar was so ‘n English only taalbeleid by my werk. Ek het die bestuur laat weet dat ek as wit Afrikaanssprekende man met minder regte, my neerlê, MAAR dat hulle probleme gaan optel met swart kollegas wat gereeld Xhosa en Zulu met mekaar praat. Die meestal wit bestuur het my laat weet dat hulle reëls binne die riglyne van SA se grondwet is en dat hulle nie tyd vir my nonsens het nie. 2 maande later het hulle ‘n swart kollega aangekla oor sy Xhosa gepraat het. Dié kollega is reguit na die CCMA én die EFF. Besigheid moes haar skadevergoeding betaal en allerhande mooi beloftes aan die EFF maak om te keer dat hulle by die kantoor kom betoog.

quartus ·

Wel, die oplossing is voor die hand liggend : moenie jou kind na die van universiteit van Stellenbosch stuur nie. Daar is ander universiteite wat nie afrikaans onderdruk nie

Misky ·

En stop ook ALLE skenkings en borge. Ons maatskappy het reeds en sal sien wat gaan gebeur as daai krane toedraai

JM ·

Hierdie studenteleiers se arrogansie skree ten hemele! Afrikaners het Universiteit Stellenbosch tot stand gebring en nou word hulle verbied om Afrikaans te praat!

Jaco ·

Net die volgende:
1. Word Afrikaanssprekende kleurlinge aan die US óók verbied om Afrikaans te praat? Indien wel, is dit darem baie lelik om teen afstammelinge van slagoffers van apartheid te diskrimineer?
2. As Afrikaans dan nou wel “die taal van onderdrukking” is, waarom nou juis oorslaan na Engels? Dit was dwarsoor die British Empire (1 derde van die wêreld in 1921) die taal van onderdrukking. Die Engelse uit Engeland het selfs hulle bure in die aangrensende Wallis, Skotland en Ierland in Engels onderdruk.

Hildegard ·

Die arrogansie! Die US Bestuur begin net so eiegeregtig soos die ANC leierskap raak. Dis ‘n siekte in hierdie land. Kom reels na wat jy wil, en ignoreer blatant die reels wat jy nie wil nie – daar is mos nie gevolge nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.