Verslag bevind Maties ‘verbied nie’ Afrikaans

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

“Daar was geen opdrag van die universiteit se bestuur of koshuisleiers om die gebruik van Afrikaans te verbied nie.”

Só het die Universiteit Stellenbosch (US) se ouditeurs, Deloitte, bevind nadat klagte in Maart aanhangig gemaak is oor talle aantygings dat studente in koshuise, op die kampus en selfs op WhatsApp-groepe verbied is om in Afrikaans te kommunikeer en met boetes gedreig is indien hulle Afrikaans sou praat.

Die klagte hou met die Minerva-, Irene- en Francie van Zijl-koshuis, asook die Capri private studenteorganisasie (PSO) verband.

Die US het die saak na Deloitte verwys vir ʼn onafhanklike forensiese ondersoek, gegewe die erns van die klagte. Die US het intussen self ook ʼn interne ondersoek van stapel gestuur.

Die Menseregtekommissie (MRK) het ná die gebeure ʼn ondersoek geloods nadat onder meer die VF Plus en DA klagte by die MRK aanhangig gemaak het. ʼn Verhoor is reeds op 10 Mei in Stellenbosch gehou. Die tweede ronde verhore is vir vandag (Maandag) en Dinsdag geskeduleer.

Deloitte-verslag

Prof. Deresh Ramjugernath, viserektor: leer en onderrig, het Maandag in ’n skrywe aan personeel en studente die Deloitte-ondersoek se bevindings en aanbevelings bekendgemaak.

Luidens die brief het Deloitte bevind dat verskeie huiskomiteelede weens taal uitgesluit gevoel het toe hulle destyds eerstejaars in Minerva was. Hulle wou dus vanjaar die verwelkomingstydperk meer inklusief maak.

“Die meeste eerstejaars het die idee aanvaar om Engels ter wille van inklusiwiteit tydens die verwelkomingstydperk te gebruik, maar die omvang van implementering is nie aanvanklik duidelik gedefinieer en gekommunikeer nie. Dit het gelei tot bespiegeling dat die verwelkomingsprogram gebruik is om Afrikaanse taalregte weg te neem,” lui die brief.

Volgens die ondersoek blyk dit ook dat ʼn amptelike klag by die US se eenheid vir gelykwaardigheid aanhangig gemaak is oor ʼn beweerde verbod op die gebruik van Afrikaans in Huis Francie van Zijl op die Tygerberg-kampus. Dié klag dateer van ʼn tydperk tussen 2018 en verlede jaar.

“Die eenheid het ʼn anonieme opname aanbeveel, waartoe koshuisleiers ingestem het, maar ʼn gebrek aan kommunikasie kon daartoe kon gelei het dat die student wat die klag ingedien het, gevoel het pogings om die saak by te lê, was futiel.”

Volgens die skrywe kon Deloitte geen bewyse vind wat ʼn beweerde verbod op die gebruik van Afrikaans in die Irene- en Capri-koshuis tydens die verwelkomingstydperk staaf nie.

Die Deloitte-verslag het ook aanbevelings ingesluit wat breedweg by die US in werking gestel kan word. Dit sluit in dat koshuisleiers oor die US se taalbeleid en die implementering daarvan in koshuise opgevoed moet word, asook oor klagteprosedures met betrekking tot die gebruik van taal.

Volgens Ramjugernath neem die US-rektoraat kennis van die bevindings en aanbevelings en het die rektoraat onder meer onderneem om opleidingsprogramme oor meertaligheid te ontwikkel.

“Inligting oor die taalbeleid in die US se institusionele verwelkomingsboekie sal uitgebrei word en meer gereelde verslagdoening uit die studentegemeenskappe sal geïnisieer word. Die Sentrum vir Studentegemeenskappe het ook dadelik begin om met studenteleiers en studente in koshuise te skakel om te werk aan ’n gedeelde begrip van die taalbeleid,” sê Ramjugernath.

Hy het in die brief ook die versekering gegee dat die universiteit tot inklusiewe meertaligheid verbind sal bly, veral met inagneming van die diversiteit van die samelewing en die rykdom inherent aan daardie diversiteit.

“Ons glo dat ons benadering tot taal ons studente meer keuses, breër toegang en ’n beter toekoms bied.”

Kultuur van vyandigheid teenoor Afrikaans

Volgens dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, moet die MRK egter ook die beweerde kultuur van vyandigheid teenoor Afrikaanssprekendes en die universiteitsbestuur se bevordering daarvan ondersoek.

Hy sê daar sal op geen ander manier waarlik vasgestel kan word wat die aard en omvang van die verbod op die gebruik van Afrikaans by dié instelling is nie.

Volgens die VF Plus het die gebeure in Maart op die skending van verskeie grondwetlike regte, waaronder die reg om die taal van hul keuse te gebruik, die reg op gelykheid en die reg op privaatheid van Afrikaanssprekende studente neergekom.

Volgens Groenewald is die VF Plus se standpunt dat die erns van enige stappe wat in die belang van Afrikaanssprekende studente gedoen word, nie tot politiekery gereduseer mag word nie. “Afrikaans behoort nie aan die VF Plus of aan ’n ander politieke party of organisasie nie. Dit behoort aan die mense wat dit praat.”

Dr. Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof vir Stellenbosch, sal ook Dinsdag voor die MRK getuig. Sy getuienis sal onder meer handel oor die wyse waarop die DA die betrokke studente deurlopend bygestaan en ondersteun het nadat hulle die party genader het om hulp.

Schreiber sê hy sal ook die sistemiese gebreke in die huidige US-taalbeleid, wat daartoe gelei het dat Afrikaans binne en buite lesinglokale afgetakel word, aan die kommissie blootlê, en proaktiewe voorstelle doen oor hoe die kommissie se aanbevelings kan help om ’n regverdige taalbedeling tot stand te bring waar Afrikaans ’n gelyke plek naas Engels geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Di ·

Volgens die vorige berigte is studente via WhatsApp-groepe verbied om in Afrikaans te kommunikeer. Nou is dit skielik glad nie die geval nie. Maak geen sin nie, iemand is weer besig om die gemors onder die mat in te vee omdat hulle aangevat word.

JJB ·

Al hoe meer Konsultasiehuise lieg deesdae onbeskaamd na die hand van die betalende kliënt… Maak seker vir hulle sakesin. Kyk maar na die Eskom gemors en PWC se rol daarin…
Dit is tyd dat beginselvaste handeling weer belangriker word as die verdienste op ‘n leuen (of verdraaide waarheid)

Blikkies ·

Hulle lieg nou al net so dom soos die regering. Klein kindertjies kan beter verskonings uitdink.

Tanniepetoors ·

So almal wat voorheen gesê het hulle was aangesê hulle mag nie Afrikaans praat nie het gelieg? Almal wat betoog het het net skinderstories gehoor? Almal wat gaan kla het by die studenteraad het gelieg? Die professore en studenteleiers was almal seker gerook en bedwelmd.

Sarel ·

Dit was voorspel nog voor ondersoek begin het.
MRK nie onafhanklik nie

jzjz05 ·

Jammer ek hat geen vertrou in die MRK nie ,ek dink daar is baie voel dat hulle nie paartydig is nie.,

Malan ·

Natuurlik sal dit wees wat die D-verslag wys. Wie het vir D aangestel en betaal?

Jakes ·

Iewers lieg iemand verskriklik en n mens hoef nie n genie te wees om vas te stel wie dit is nie. As n student nie sy moedertaal mag praat waar en wanneer hy wil nie, dan moet hy of sy onmiddelik die rektor en kanselier van die universiteit daaroor aanvat. Moene dat n sekere groepering jou menseregte aantas nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.