Verslag onthul korrupsie, wanbestuur by waterrade

Lindiwe Sisulu (Foto: Twitter)

Twee forensiese verslae wat verlede maand aan die minister van menslike hulpbronne, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, oorhandig is, het grootskaalse korrupsie en wanbesteding van miljoene rande by die Lepelle- noordelike waterraad (LNW) in Limpopo en Amatola-waterraad (AW) in die Oos-Kaap blootgelê.

Die inhoud en bevindings van die forensiese verslae is nie openbaar gemaak nie, maar Sisulu het aangevoer dat die verhouding tussen haar departement en die twee waterrade onherstelbaar verbrokkel het. Sy het albei onder administrasie geplaas, Lepelle se direksie ontbind en Amatola se uitvoerende hoof, Vuyo Zitumane, geskors.

Maroela Media het intussen die forensiese verslae onder oë gehad, wat melding maak van tenderbedrog, onsinnige skuldooreenkomste en omkopery.

Die verslag oor LNW het bevind dat die Mopani-distriksmunisipaliteit (Tzaneen, Phalaborwa) die betrokke raad R507 miljoen skuld wat teen R2,3 miljoen per jaar afbetaal word. Die verslag bevraagteken die skuldooreenkoms wat deur Lepelle se raad goedgekeur is omdat daar nie in ag geneem is dat die Mopani-munisipaliteit steeds maandeliks waterskuld aangaan nie en dat die ou skuld dus nie noemenswaardig verminder nie.

Die verslag, wat deur dr. Len Konar van Outsourced Risk & Compliance Assessment (Orca) opgestel is, beskryf die skuldooreenkoms as swak en dubbelsinnig en meld ook dat dit geen klousule bevat oor die finale afbetaling van die skuld nie.

LNW se uitvoerende hoof, Phineas Legodi, word in die verslag van bedrog, korrupsie en omkopery beskuldig. Die bewering is dat die skuldinvorderaar wat aangestel is sowat R40 miljoen verdien het met die tender wat aan hom toegeken is. Dié maatskappy se swartbemagtiging-kwalifikasie is volgens die verslag ook onder verdenking.

“Dit lyk asof die ooreenkoms nooit aan die raad voorgelê is vir goedkeuring nie en die gevolglike afleiding is dat bedrog, korrupsie en omkopery plaasgevind het tussen die maatskappy en LNW se uitvoerende hoof, die regsadviseur en die munisipale bestuur,” aldus die verslag.

(Foto: pixabay)

Die ondersoekers kon verder ook nie bewyse kry vir ʼn bedrag van R156 miljoen wat LNW na bewering aan ’n prominente ouditfirma vir ouditeursdienste betaal het nie. Die firma het die bou van ʼn waterpypleiding tussen die Nandoni- en Nonsamidam in Limpopo geëvalueer, maar volgens die forensiese verslag is geen bewyse van enige tenderproses gevind nie.

Die Amatola-waterraad is deur Open Water Advanced Risk Solutions (Owars) ondersoek en hul bevindings verwys onder meer na droogtehulp van R230 miljoen wat in Februarie vanjaar aan Amatola toegestaan is. Die geld moes ook gebruik word vir Covid-19-voorkomingsinisiatiewe.

ʼn Durbanse maatskappy is deur Amatola aangestel om 500 watertenks, elk met ʼn inhoud van 5 000 ℓ, teen R7 090 per tenk te verskaf. Die forensiese ondersoekers het ʼn vergelykende kwotasie verkry wat wys dat dieselfde tenks teen R3 884 per tenk by ʼn ander goedgekeurde verskaffer aangekoop kon word. Amatola het dus R1 603 000 meer vir die 500 tenks betaal.

Die prys vir die watertenks se staanders is met ʼn verdere sowat R3 miljoen gelaai en boonop het die tenks en die staanders wat afgelewer is nie aan die tenderspesifikasies voldoen nie. Luidens die verslag is dit duidelik dat die aankope gemanipuleer is om die aanstelling van ʼn spesifieke diensverskaffer moontlik te maak.

Die geskorste uitvoerende hoof van Amatola, Vuyo Zitumane, en haar eweknie by Lepelle, Phineas Legodi, het intussen verklarings by die Valke afgelê waarin hulle beweer dat Sisulu se raadgewer, Mphumzi Mdekazi, druk op hulle geplaas het om tenders aan ʼn spesifieke maatskappy toe te ken. Mdekazi ontken dit.

Sisulu het adv. Terry Motau sedertdien aangestel om alle bewerings van korrupsie in haar departement te ondersoek. Sy het vroeër gesê dat projekte van meer as R16 miljard onreëlmatig deur die departement en die waterrade toegeken is weens korrupsie en bedrog deur amptenare wat tenders aan hulself en hul naasbestaandes uitgereik het.

Die DA se woordvoerder oor water en sanitasie, Emma Powell, het intussen gesê Sisulu se aankondigings oor die waterrade was “ʼn doelbewuste poging van haar beeldpoetsers om ernstige strafregtelike eise wat die minister in die gesig staar, te verduister”. Sy het spesifiek na inmenging met die toestaan van tenders by die Amatola- en Lepelle-waterraad verwys.

Volgens Powell het Legodi en Zitumane in hul beëdigde verklarings vir Sisulu daarvan beskuldig dat sy met verkrygingsprosesse ingemeng het. “Dit maak ʼn bespotting van haar aanstelling van adv. Motau om die direksies te ondersoek,” sê sy.

Maxwell Sirinya is intussen aangestel as die Amatola-waterraad se uitvoerende toesighouer. Die direksie van Lepelle- noordelike waterraad se termyn is beëindig en adv. Joseph Maluleke is as uitvoerende toesighouer aangestel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

marius ·

Waarom word daar nie berig oor Tzaneen dam se wal wat al jare in stukke is , en die biljoene wat verdwyn het nie ?

Alexander ·

Nog ‘n slangnes van korrupsie. En die minister waarskynlik die hoofdirigent in die staatskaaporkes. Van vervolging van hierdie skurke gaan daar ook dadels van kom.

Nie Verbaas ·

En is Sisulu nie uiteindelik verantwoordelik vir die totale wanbestuur en korrupsie nie? Sy blameer almal om haar. Weereens n bewys van ANC se totale onbevoegdheid. Klink my ministers sit net op hulle troontjies en is totaal onbewus van wat om hulle aangaan.

Eerlik ·

Wats nuut…..elke 2de nuusberig gaan deesdae oor korrupsie en diefstal. Die minister wat in die pos sit, sit ook net daar agv die “van”, geensins bekwaam nie!

Pieter ·

Korrupsie in die anc, onmoontlik!!! Ons almal dra dan daai wonderlike maskers wat ons teen alles beskerm, selfs teen korrupsie.

Dries ·

Van 1994 af is daar nog nooit n ANC hooggeplaasde vir bedrog of korupsie in hegtenis geneem of suksesvol vervolg nie van tie af is daar erge tender bedrog gepleeg die man wat homself die president noem sou gese het toe hy verkies was hy gaan dit stop en mense Sal vervolg word maar us self betrokke daar uis absoluut geen wet en orde meer oor in ons land nie en glo my daar Sal ook niemand vervolg word vir enige tender bedrog of korupsie nie Dan wil hy nog die land se ekonomie in Swart hande sit dis klaar daar wat wil hulle nog he al wat oor bly is nou die onteining sonder vergoeding

Sarel ·

Geen optrede nie…hie gaan sy wanbesteding stop en fondse terug kry of gaan hulle soos met Transnet die mense betaal om te loop. DA & VFPLUS maak seker.die dokumente maak ‘n draai by die Valke

Misky ·

Mopani skuld 507 miljoen en betaal 2,3 miljoen per jaar terug. Dus gaan hulle 220 jaar lank terugbetaal en dit is as daar geen rente bygevoeg word nie. Dis mos belaglik man!!!!!!

Objektief ·

Onthou, al hierdie poste word gevul met kaders en die hoof kriteria is hoe die beskikbare fondse versprei gaan word. ” We did not join the struggle to be poor” som alles op

As daar wrywing kom soos in hierdie geval moet jy weet daar is n probleem met die verspreiding van beskikbare fondse. Bevoegdheid is n vloekwoord.

Jacobus ·

Enige aktiviteit het twee bene. Eerstens is verantwoordelikheid en tweedens toerekenings vatbaarheid. Die laaste beteken “the buck stops here” en in die geval die agbare minister. Enige onderneming werk (of behoord) so. In Suid Afrika werk dit anders. ‘n Sondebok word uitgeken. As hy wit is summier afgedank. As hy nie bleek is nie en gekonnekteerd is word hy ge-‘deploy’ en sy vergoeding opwaarts aangepas. Toetekenings vatbaarheid, minister, wat is dit?

Pierreli ·

Amatola se uitvoerende hoof, Vuyo Zitumane is geskors, en na tien jaar kry hy nog steeds elke maand sy salaris. Wat is nuut.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.