Verslag oor Enock Mpianzi glo Woensdag beskikbaar

Enock Mpianzi (13).

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, sal na verwagting Woensdagaand die forensiese verslag rakende die dood van Enock Mpianzi (13) bekendmaak. Dít nadat die uitreiking van die verslag sowat twee weke gelede op kort kennisgewing uitgestel is.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, sê die departement sal na verwagting deur die loop van die dag met die Mpianzi-familie vergader, waarna die verslag omstreeks 18:00 tydens ʼn ouervergadering by die Parktown Boys’ High School in Johannesburg bekend gestel sal word.

Die bekendmaking is aanvanklik uitgestel toe die departement besluit het om eerder nie die verslag sonder die familie se goedkeuring uit te reik nie.

Dit is egter nie in dié stadium duidelik of die uitreiking van die verslag die familie se goedkeuring nou wegdra nie. Mabona sê wel die departement is gemaklik met sy besluit om vanaand die verslag bekend te stel. “Dit sal lig werp op wat daardie betrokke dag gebeur het,” sê hy.

Maroela Media het vroeër berig Enock, ʼn graad 8-leerder aan Parktown Boys’ High School, het in Januarie tydens ʼn skoolkamp in Noordwes verdrink. ʼn Onafhanklike regsfirma is ná sy dood aangestel om die ondersoek te doen.

Polisieduikers het Enock se liggaam in ‘n rivier gevind. (Foto: Panyaza Lesufi/Twitter)

Enock se liggaam is op 17 Januarie in die Krokodilrivier gevind nadat hy twee dae vantevore tydens ʼn aktiwiteit in die rivier vermis geraak het. Die leerders moes tydens die aktiwiteite skuite bou en daarmee oor die rivier vaar. Onderwysers het egter eers die volgende dag besef Enock word vermis. Sy liggaam is sowat 3 km stroomaf gevind van waar die vlotbou-aktiwiteit plaasgevind het en Enock die laaste keer lewend gesien is.

Vriende van Enock wat saam met hom op die kamp was, het ná sy dood vertel dat hulle herhaaldelik aan kamppersoneel gesê het dat hy vermis word. Hulle is egter telkemale weggewys sonder verdere ondersoek na waar Enock hom bevind.

Die skool is ná die voorval wyd gekritiseer en Lesufi het Malcolm Williams, die skoolhoof, tydelik geskors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chantel ·

Ek dink gereëld aan hierdie ouers en sy klasmaats wat daai dag sekerlik elke dag herleef. Hoe “betaal” mens vir ‘n kind se lewe, omdat jy onverskillig was. Die wat veranwoordelik is daarvoor, moet swaar gestraf word.

Pampoen ·

Ek verstaan nie hoe dit werk nie. As iemand doodgaan dan is daar ‘n moord-dossier of ‘n GO (geregtelike ondersoek). Dit word deur kundiges ondersoek, deur ‘n aanklaer gelei in ‘n hof en dan maak ‘n landdros ‘n bevinding. Hoe loods lesufi ‘n ondersoek en maak dit bekend asof hy die wet bedryf? Moet hy nie maar wag vir die SAP en die hof voordat hy tot alerhande gevolgtrekkings kom nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.