Verslag oor OB gou bekend

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die paneel wat moet besluit of daar meriete is in die pogings om die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, uit haar pos te verwyder, het sy werk voltooi en sy verslag sal volgende week bekend gemaak word.

Regter Bess Nkabinde en senior advokate Dumisa Ntsebeza en Johan de Waal het aanvanklik 30 dae gehad om hul ondersoek af te handel, maar het versoek dat dit verleng word. Die speaker van die Nasionale Vergadering het die paneel ’n verdere 90 dae kans gegee om sy ondersoek af te handel.

Die paneel moes ’n voorlopige ondersoek doen om te evalueer of daar prima facie-getuienis is wat wys dat die OB haar aan wangedrag skuldig gemaak het of onbevoeg is om in haar amp te dien. Die paneel se verslag is by die speaker ingedien en sal volgende week bekend gemaak word.

Mkhwebane is intussen nog tot einde Maart met sabbatsverlof “om te rus”. Oupa Segalwe, die OB se woordvoerder, het vroeër gesê haar verlof het reeds op 15 Januarie begin en eindig op 31 Maart.

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, het verlede jaar ’n mosie om Mkhwebane van haar amp te onthef kragtens die nuwe reëls van die parlement ingedien.

Die DA voer aan Mkhwebane is onbevoeg vir haar pos, onder meer op grond van die groot aantal hofuitsprake wat verskeie van haar bevindings al ongeldig verklaar het.

Mkhwebane moet intussen ook weer volgende maand in die hof verskyn op drie aanklagte van meineed. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) voer aan Mkhwebane het in November 2017 onder eed gelieg toe sy onregmatig en doelbewus ʼn beantwoordende verklaring in ʼn hofsaak afgelê het. Die NVG sê in die verklaring het Mkhwebane aangevoer dat sy net een vergadering met oudpres. Jacob Zuma op 25 April 2017 gehad het, terwyl sy geweet het dit is nie waar nie.

Die NVG voer voorts aan Mkhwebane het op 26 April 2018 ook onder eed verklaar dat sy op 7 Junie 2017 ʼn tweede vergadering met Zuma gehad het. Sy het aangevoer die doel van die vergadering was om Zuma se reaksie op ʼn voorlopige verslag te kry, terwyl sy geweet het dat dit nie so is nie.

Die NVG sê ook Mkhwebane het op 5 Junie 2018 in ʼn beëdigde verklaring aangevoer dat sy nie die finale verslag met Zuma op 7 Junie 2017 bespreek het nie, terwyl sy geweet het dit is nie waar nie.

Die kwessie hou verband met die sogenaamde Absa-Bankorp-saak wat gehandel het oor ʼn lening wat die Reserwebank in die 1980’s aan Absa gemaak het. Die betrokke partye, onder meer Zuma as destydse president, die Reserwebank en Absa, is gevra om insette oor die OB se voorgestelde remediërende opdragte te lewer.

Mkhwebane het in haar finale verslag daaroor onder meer aanbeveel dat die spesiale ondersoekeenheid ʼn bedrag van R3,2 miljard van Bankorp (Absa) moet verhaal. Sy het ook die parlement aangesê om stappe te doen om die Grondwet te wysig om die mandaat van die Reserwebank te verander. Die aanbevelings is tydens ʼn hersieningsaansoek in die hof omgekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie J ·

Kom ons vertrou die verslag bepaal wat meeste van ons glo korrek is.

Grassie ·

Die regering beskik oënskynlik nie oor die vermoë om van hul vrot appels ontslae te raak nie. Ek wonder of hulle dit hierdie keer gaan regkry. Miskien het die meerderheid van die appels in daardie vaatjie iewers ‘n vrot kol, dan is die vrottes mos die norm en nie die uitsondering nie. Die pot kan mos nie die ketel verwyt nie,

JohanR ·

Ek het 40 jaar gewerk, hard gewerk, en nooit sabbatverlof gekry nie. Ek het vel na tien jaar ses weke lang verlof gekry, en toe nog twee weke van my normale verlof gevat en oorsee gaan toer. Maar sabbatverlof omdat jy moeg is! En om te dink die parlement het die een gekies….ANC met oorgawe, EEF met soe paar vra en die DA het haar verwerp!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.