Verslag oor Riah Phiyega bekend gemaak

Riah Phiyega. Foto: GCIS

Riah Phiyega. Foto: GCIS

Die uitslag van die ondersoek of geskorste nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega geskik was om haar amp te beklee, is Sondag bekend gemaak.

Volgens die verslag is Phiyega nie geskik om haar amp te beklee nie en sy moet afgedank word.

Zakhele Mbhele, woordvoerder van die Demokratiese Alliansie, het intussen gesê Francois Beukman, voorsitter van die polisie se portefeuljekomitee, moet versoek dat die gefinaliseerde verslag van die Claassen-kommissie van Ondersoek aan die parlement voorgehou moet word.

Volgens Mbhele wil dit voorkom of die finale verslag reeds op 13 November beskikbaar was. Artikel 8(6) van die Polisiewet lui soos volg: “Teen die einde van die ondersoek moet die raad die verslag by (i) die president; (ii) die betrokke kommissaris; en (iii) die parlementêre komitees ingedien word”.

“Alhoewel die DA die bevinding, dat Phiyega nie bevoeg is nie, verwelkom, soos ons al lank aanvoer, hou ons vol dat die ondersoek vergroot moet word om al Phiyega se mislukkings tydens haar diensperiode in te sluit, sodat die gevolgtrekking omvattend kan wees. Die DA het verlede jaar reeds pres. Zuma in dié verband hieroor genader.”

Volgens die DA was Phiyega aan die stuur tydens die SAPD se “aanhoudende en chroniese agteruitgang” en sy het die polisie se vermoë, om seker te maak dat gewone Suid-Afrikaners veilig in hul huise, by die werk en op straat is, benadeel.

“Totdat Suid-Afrikaners nie meer in vrees lewe nie, kan hulle nie hul volle potensiaal bereik en voordeel trek uit die geleenthede wat vir hulle beskikbaar is nie. Dit is nou tyd dat die polisiediens gelei word deur ervare en bevoegde senior bestuur met integriteit wat die veiligheid van alle Suid-Afrikaners sal verseker deur seker te maak elke polisiestasie het die personeel, voertuie, fasiliteite, toerusting en opleiding wat hulle benodig om misdaad doeltreffend te bekamp.”

Die openbare verhore in die ondersoek, onder leiding van regter Neels Claassen, en bygestaan deur advokate Bernard Khuzwayo en Anusha Rawjee, is reeds in Junie vanjaar afgehandel.

Adv. William Mokhari, vir Phiyega, het in daardie stadium die kommissie versoek om sy kliënt vry te spreek wanneer hulle ʼn finale aanbeveling aan Zuma maak. “Daar is ʼn hele aantal opsies: julle kan sê geen stappe hoef teen haar gedoen word nie; of julle kan voorstel dat haar salaris verminder word; of dat sy na ʼn ander departement oorgeplaas moet word,” het hy gesê. “Maar gegewe die bewyse wat ons voorgehou het, versoek ons dat julle haar eintlik moet vryspreek op alle aanklagte.”

Pres. Jacob Zuma het die kommissie van ondersoek in September 2015 op die been gebring op aanbeveling van die Farlam kommissie van ondersoek, wat die Marikana-sterftes ondersoek het. Die Farlam-kommissie se verslag het aangedui dat Phiyega die grootste deel van die blaam moet dra vir operasionele flaters wat uiteindelik tot die dood van 34 mynwerkers op 16 Augustus 2012 gelei het.

Zuma het die nasionale polisiehoof in Oktober verlede jaar geskors hangende die bevinding van die ondersoek.

Die kommissie moes onder meer ondersoek of Phiyega, in samewerking met ander lede in die SAPD se leierskapstruktuur, die kommissie “mislei” het deur die feit te verberg dat hulle die taktiese operasie gedurende ʼn bestuursvergadering goedgekeur het ʼn dag voor die skietery. Die raad sal ook ondersoek of Phiyega, toe sy besluit het om die taktiese roete te volg, die “tragiese en katastrofiese gevolge” kon voorsien.

Lees alle vorige berigte oor Riah Phiyega op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Max ·

Ek kan nie glo dat n kommissie aangestel moet word om dit te bepaal. Dan neem dit hulle nog n jaar om dit te ontdek nie. Wat het die oefening ons gekos? Sekerlik nie net die 34 mense lewe said nie !

Cherokee ·

Die moordenaar van Magoo’s Bar by name robert mcbride, is na sy afdanking net keer op keer ander werk aangebied. Elke keer senior posisies. Waarskynlik sal dieselfde gebeur met die antie.

Johann Marx ·

Wat ek nie verstaan nie is dit: Toe sy aansoek gedoen het vir die pos, wat was die proses om haar gekeur te kry daarvoor? Ek het ‘n klein besigheid. As ek ‘n pos adverteer dan ontvang ek aansoeke. Daardie aansoeke bevat mense se inligting asook hulle kwalifikasies, asook ‘n motivering waarom hulle aansoek doen vir die pos. Dan word onderhoude gevoer om te bepaal wie die beste kandidaat sal wees. Na daardie kort-lys opgestel is, volg ‘n volgende rondte onderhoude, en uiteindelik ‘n aanstelling. Hierdie aanstelling bevat gewoonlik ‘n voorwaarde dat die persoon aangestel word vir ‘n proeftydperk, en nadat hy homself bewys het, sal onderhandelinge plaasvind vir ‘n vaste betrekking, weereens met sekere diensvoorwaardes waar elke rolspeler se verpligtinge teenoor mekaar uitgestipuleer word. Wie het hierdie dame aangestel in hierdie pos?

Piet Snot ·

Johann, daar’s een groot verskil: jy stel mense op meriete aan.
Dit gesê, sou ek self Ria se aanstelproses wou sien.

Piet Snot ·

Maroela: kan julle nie dalk ‘n opsomming vd Kommissaris se aanstelproses publiseer nie? Dit behoort mos openbare rekord te wees.

johan ·

Hoeveel jaar polisie ondervinding het sy? Dis waar die ondersoek al moes begin het. Het sy wel elke medalje wat op haar uniform pronk … verdien?

Raai Raai ·

Kom ons wees eerlik wie van hulle is gekwalifiseerd vir die poste wat hul beklee…..van bo tot onder……NIE EEN NIE

Liewe heksie ·

Ag hulle koop daai medaljes op die vlooimark regtig en onthou sy is deel van die gezooooooooooom van die brommers

Lance ·

Wel zuma het darem n std 3 hehe …ek dink sy moet ook gedoom word en net verdwyn want haar storie is nou al so lank en uitgerek en n regte ou pyn

Cherokee ·

Zuma is gegradueerd en hy is ‘n pronker met meer as een graad… graad 1 sowel as graad 2.

Chris ·

Ek het in ‘n vorige brief genoem dat daar nie ‘n keuringsproses vir party mense bestaan nie. Dit werk so by SAL ook. Die psigometriese toetse, keuring en evaluasie bestaan nie meer nie. Die mense word deesdae net in geweeg en jy het die jop. Die polieste deesdae werk so. As jy ‘n sersant is (drie strepe) kan jy lees en skryf. Hoofkonstabel kan jy lees of skryf. Konstabel ken jy iemand wat kan lees of skryf. In die ou dae het Rommel of Wagter in die “van” gesit en die poeliesman het uitgeklim om die saak te ondersoek. Deesdae sit poeliesman in die “van” en Rommel of Wagter klim uit om die saak te ondersoek.

callie ·

Dit is nie net sy wat onbevoeg is nie maar seker 70% van die polisie. Daar is dan polisie beamptes wat deur die goedkeurings proses is wat sake van moord en bedrog teen hulle het. Verder ook net bewys dat die lede wat daardie dag geskiet het ook glad nie opgelei was vir sulke situsasies nie. Dus moet die minister van polisie ook pa staan vir die swak polisie diens van die land. Een ander feit, die optrede van die stakers het net so groot bygedra. Gaan kyk na selfs studente betogers se geweldadige optredes. Daardie kultuur is deur die ANC geskep.

Frederik ·

Dit is maar Zuma se ANC se manier van doen ( steel ). NVG, SAPD,……Oral. ‘n Kader word aangestel vir ‘n 5 jaar periode. Na sê 1 jaar word hy/sy onbevoeg bevind, kry ‘n vet goue handdruk, wat hy/sy omskep in ‘n belegging en so is die kader goed versorg tot en met hy/haar dood.
Dan kom die volgende onbevoegde een..en nog een…en nog een. Die NVG byvoorbeeld het in 5 jaar so iets soos 4 “hoofde” gehad en almal is vandag goed versorg, danksy ons belastingbetalers.

Alida ·

Hierdie arme vrou is deur JZ aangestel wel wetend dat sy geen maar geen ondervnding het nie. Aan die ander kant kon sy die pos geweier het. Zuma gebruik mense en as die moeilikheid kom los hy hulle in die koue. Dit is al oor en oor bewys.

John ·

Soos regdeur die geskiedenis moet die sondebok ly. Enige polisiehoof hoe goed ookal se kop sou rol. Die engeltjies wat die oorlogsituasie veroorsaak het dra geen skuld nie. Waarom het die unie sy lede so opgesweep. Die unie-leiers moet voor die hof gedaag word. Hulle het die situasie plofbaar laat raak.

Paul ·

Ek het eenkeer gelees met S.A. staatsinstansies en departemente is dit deploy en en nie employ nie – som dit nogal goed op…

johan ·

Kyk maar na al hierdie tipe aanstellings; ja, watse ondervinding in die polisie het Ria gehad…boggerol…geen basiese opleing, geen stasie ondervinding geen niks…NIKS…en dan word hulle aangestel in sulke belangrike poste net omdat hulle n regsgraad of so het.
Iemand hierbo het iets genoem van Mcbride…Payega gan net oorgeskuif word in n ander staatsdepartement met net so massive salaris. En wag…sy gan eers n goue handdruk kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.