Verslag oor vakansieklubs bekend

Foto ter illustrasie: Pixabay

Die Nasionale Verbruikerskommissie se langverwagte verslag oor die vakansieklub- en tyddeelbedryf is uiteindelik vandag in Pretoria uitgereik. Die omvattende verslag, wat verbruikers se ervarings soos hulle dit gedeel het by openbare verhore landwyd insluit, maak verskeie aanbevelings oor hoe om verbruikers te beskerm. Ina Opperman verduidelik wat nou sal gebeur.

Op die korttermyn gaan daar nie eintlik veel gebeur nie, maar die verslag dui die rigting aan waarheen verbruikersbeskerming in die bedryf op pad moet wees.

Die kommissie het in Mei verlede jaar ’n ondersoek gelas na die vakansieklubbedryf nadat die kommissie lank gesukkel het om verbruikersklagtes daaroor op te los en verskeie opsies in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming oorweeg het. Die verslag is egter nie die resultaat van ’n ondersoek in terme van die wet nie, maar volgens die verbruikerskommissaris is dit eerder die resultaat van ’n ondersoek om sin te maak van die ingewikkeldheid van die bedryf en dit te verstaan.

Die verslag het ook in ag geneem hoe groot die struikelblokke vir verbruikers is en al hierdie inligting gebalanseer met navorsing om op die ou end aanbevelings te maak oor hoe verbruikers beter beskerm kan word in die bedryf. Geskrewe voorleggings is ook ingesluit en verbruikers, rolspelers in die bedryf en reguleerders kon hul menings lug.

Dit het geblyk die grootste probleme wat verbruikers ervaar het, was met die puntestelsel en nie konvensionele tyddeel nie. Die meeste klagtes is ontvang oor:

  • Mense wat nie hul kontrakte kon kanselleer nie;
  • Punte wat prysgegee is;
  • Verblyf wat nie beskikbaar is nie;
  • Onaanvaarbare alternatiewe verblyf wat aangebied is;
  • Wanvoorstellings gedurende verkoopsessies;
  • Die waarde van punte wat die bedryf aan verbruikers verkoop;
  • Die lidmaatskapfooie en heffings en die onvoorspelbare jaarlikse verhoging daarvan;
  • Ontoeganklikheid van die klubs se jaarvergaderings;
  • Die hantering van verbruikers se klagtes.

Aanbevelings

Foto ter illustrasie: Pixabay

Die paneel wat die ondersoek gelei het, het aanbeveel dat die minister van handel en nywerheid in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming voorskryf dat:

  • Verkopers van vakansieklublidmaatskap of tyddeel sekere inligting aan verbruikers moet verskaf voordat ’n transaksie gesluit word;
  • Alle tyddeelkontrakte, wat punte en lidmaatskap insluit, gedefinieer word as vastetermynkontrakte; (dit kan redelik vinnig geskied deur ’n nuwe regulasie uit te vaardig)
  • Die regte van verbruikers in terme van artikel 14 van die wet outomaties van toepassing is wanneer verbruikers die kontrak kanselleer.

Daar is ook aanbeveel dat die Wet op Beheer van Eiendomstyddeel gewysig word sodat:

  • ’n Regulasie uitgevaardig kan word wat voorsiening maak vir ’n vereenvoudigde proses om te verseker verbruikers kry al die nodige inligting van die ontwikkelaar voordat hulle teken;
  • Regulasies uitgevaardig kan word wat die inligting beskryf wat verbruikers moet kry;
  • ’n Regulasie uitgevaardig kan word wat voorskryf dat verbruikers ’n epos-adres moet kry waarheen kennisgewings vir kansellasie gestuur kan word, wat sal dien as erkenning van ontvangs.
  • ’n Onafhanklike platform gestig kan word waar verbruikers hul punte in kontant kan omsit, ruil of herverkoop, wat onderhewig is aan riglyne en ’n openbare manier om die waarde van punte te bereken.
  • Die minister dit kan oorweeg om die administrasie van hierdie wet te delegeer aan ’n bepaalde reguleringsowerheid wanneer die veranderings aangebring is.

Die kommissie het oor die middel tot langtermyn aanvaar dat:

  • ’n Moderne, industriespesifieke omvattende wet gemaak moet word oor die regulering van die tyddeelbedryf in Suid-Afrika om verbruikersbeskerming in die bedryf op dieselfde vlak te bring as in die res van die wê
  • ’n Nuwe reguleerder geskep moet word wat verantwoordelik is vir die toepassing van bestaande en toekomstige wetgewing.

Die minister het in beginsel ingestem dat daar ’n ware behoefte is omdie reguleringsnetwerk te verander om verbruikers te beskerm. Die departement van handel en nywerheid het reeds hieraan begin werk.

Ander aanbevelings was dat klagtes verwys word na ander reguleerders as die volgende wette oortree word:

  • Die Nasionale Kredietwet;
  • Die Wet op Mededinging;
  • Die Maatskappyewet.

Foto ter illustrasie: Pixabay

Die paneel het ook die volgende belangrike aanbevelings gemaak:

  • Dat verbruikers nie meer met pryse gelok mag word om promosie-aanbiedings by te woon nie;
  • Kontrakte wat gesluit is weens onbillike bemarkingstegnieke moet gekanselleer word;
  • Krapkaarte mag nie meer gebruik word om te bepaal wat jy “wen” nie;
  • Dat verbruikers nie verplig mag word om hul kredietkaarte na ’n promosie te bring nie;
  • Dat verbruikers nie meer on druk geplaas mag word om te teken deur hulle te waarsku dat die aanbieding net vir een dag geldig is nie.

Volgens Ebrahim Mohamed, die kommissaris, het hy sy span opdrag gegee om dadelik in gesprek te tree met die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en –dienste om onder meer vas te stel tot watter mate die bedryf gewillig is om verbruikers toe te laat om hul kontrakte te beëindig sonder ’n boete, veral in die geval van die ewigdurende lewenslange kontrakte.

Die paneel het uit drie lede bestaan, met Diane Terblanche, ’n prokureur wat uitgebreide ondervinding het in verbruikersbeskerming, aan die spits. Die ander twee lede was Aubrey Ngcobo, ook ’n prokureur met meer as 22 jaar se ondervinding in eiendomsreg en Zandile Mpungose, ’n prokureur met uitgebreide ondervinding in kontrakbestuur, beleidsontwikkeling en strategie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

QVCullery ·

Hierdie is ‘n bedryf wat nie meer lank gaan bestaan nie. Die kernaspek van ‘vakansieklubs’
se bedryfsmodel is die uitbuiting van mense. In die verlede kón kopers nie ontslae raak van die verpligting om gelde te betaal nie.

Piet Pompies ·

Was ook amper uitgevang in 1996 en dieselfde Ina Opperman wat die berig geskryf het, het my met die regte raad bedien en ek kon die bemarker op sy plek sit. Goeie werk deur Ina, sy help die verbruikers al vir baie jare.

Daan Erasmus ·

Ek het vakansie klub punte. En dit werk vir my. Ek BEPLAN vooruit. Bespreek vroegtydig. Maar en moet byvoeg dat daar net een Maatskappy is wat reg werk. En hulle is Maatskappye wat op wins ingestel is. Een groot probleem is dat alle lede 5 ster oorde wil hê maar 1 ster pryse wil betaal.

A ·

Ek is dankbaar dat hulle wel iets aan hierdie saak doen. Die jaarlikse heffings is onbehoorlik en dan kry jy nie eens plek waarheen jy wil gaan nie. Ek stem saam met QVCullery – noudat hulle nie meer mense kan uitvang nie gaan hulle nie lank bestaan nie.

Adam ·

Die bedryf moes al saam met Adriaan Niewoudt se kubusse gesneuwel het.

leser ·

en een van die dae / maande gaan die anc,eff,enc., hulle hande daarop ook le, dan help al die opgeboude punte jou in elk geval niks

Leser Twee ·

@Leser: Nee, die EFF sal nie aan die bedryf wil raak nie. Maar dit sou baie interessant wees om te kon sien hoe die EFF met hierdie uitbuiters sou afreken. Die EFF is ‘n opgevoede gedissiplineerde organisasie in vergelyking met vakansieklubs.

Jors ·

Ons het so lank gewag vir hierdie “kommissie” se verslag en dan kry ons so ‘n verslag! Wat van die aanvanklike bedrag wat ons moes betaal vir die “voorreg” om lede van QVC te mag word! Sal dit by kansellasie ook aan my terugbetaal word? En die alewige stryd om die plek van jou keuse te mag kry. Kastig ook gekoppel aan RCI maar selfs dan is daar nie die plek wat jy graag wil besoek te kry nie. Ou Daan, selfs nie as jy ‘n JAAR voor die tyd beplan en vra nie! Ons word OUER en die alewige verhoging in “Management Fees” kan ons nie bybring nie! Cheers, QVC!

Vergeet ·

Vergeet daarvan dat jy jou aanvanklike ‘belegging’ terug gaan ontvang. Maak vrede daarmee. Dis die realiteit van die gevolge van kullery.

Corlia Branders ·

In ‘n berig op Netwerk 24 word melding gemaak van VHI, wat apart ondersoek word nadat vele klagtes ontvang is. Die ironie is, dat van die bemarkers by VHI na en voor ons oor en oor mense bedrieg het. Klagtes klink dieselfde… maar hulle agente is in ons geval nie individueel aanspreeklik gehou nie! Die onskuldige kliēnt kon nie deurdring na die bestuur nie. Kyk op Hello Peter….blatante wanvoorstellings! Geen hulp van Consumer Counsel gekry nie …kwansuis omdat ons prokureur geraadpleg het….wat juis aanbeveel het dat ons CC nader!

Willie van Heerden ·

Ek het holiday punte reeds amper 20 jaar en dit was my nie beskore en daar is baie baklei om bv by Kagga Kamma plek te kry nie, is altyd nie beskikbaar nie. Daar is nie meer verskonings wat hulle kan uitdink, behalwe ons sal jou maak betaal tot na jou dood en my geval my Besigheid tot sy ontbinding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.