Verslag skets donker prentjie oor SAPD-poste

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto: SAPD

Die vakbond Solidariteit het ʼn kommerwekkende prentjie geskets in sy verslag oor die gebrekkige loopbaanvooruitsigte van offisiere sowel as onderoffisiere in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Volgens die verslag, wat Donderdag in Centurion bekendgestel is, is “die onregverdige en ondeursigtige aanstellings” wat die SAPD maak selfvernietigend, en gaan dit die landsburgers duur te staan kom.

Schalk de Bruin, hoof van Spesiale Projekte by Solidariteit, het gesê die verslag volg nadat dit aan die lig gekom het dat aanstellings in die SAPD glad nie deursigtig, regverdig en rasioneel hanteer word nie. “Die SAPD ondervind ook ʼn gebrek aan prosesse om institusionele kennis te ontwikkel en te behou. Alhoewel ons nie die gevolge daarvan dadelik gaan sien nie, het dit ʼn direkte impak op dienslewering. Die agteruitgang van die SAPD raak by die dag meer sigbaar,” het De Bruin gesê.

Volgens De Bruin gaan Solidariteit volgehoue druk op die SAPD sowel as op POPCRU (The Police and Prisons Civil Rights Union) toepas om die swak loopbaanvereistes aan te spreek. “Indien die SAPD voortgaan met hul besluit om lede van die niestatutêre magte te bevorder, sal Solidariteit voortgaan met sy regsaksie om die wettigheid van dié bevorderings te bevraagteken,” het hy gesê.

“Solidariteit sal nie skroom om beide die SAPD en POPCRU aan te spreek oor die negatiewe diensvoorwaardewysigings wat hulle vir alle polisielede by die onderhandelingstafel beding nie. Ons sal nie twee keer dink om enige irrasionele of onwettige besluite van die SAPD-bestuur of minister in die howe te takel nie.”

Volgens De Bruin word poste onregmatig verkoop aan lede wat nie oor die nodige bekwaamheid en ervaring beskik om die noodsaaklike pligte van ʼn offisier uit te voer nie. Hy het ʼn beroep op SAPD-lede gedoen wat oor bewyse beskik dat poste verkoop is, om dit aan die vakbond voor te lê sodat die vakbond die nodige stappe kan doen.

“Solidariteit staan op vir loopbaan-georiënteerde polisielede wat hard werk, gekwalifiseerd is en oor die nodige ervaring beskik, maar wie se loopbane weens politieke affiliasie beperk word,” het De Bruin gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Janee ·

Daar is geen vooruitsig vir blanke man in die SAPD. My man nou al 27 jaar in die SAPD en 17 jaar in sy rang. Blanke mans word nie bevorder nie. Sy bevel voerder weet amper nooit wat om op n toeneel gedoen moet word nie en vra hom dan om toeneel oorteneem. Wat hy doen want dit is in sy bloed. Sal altyd Polisie man wees.

Lizelle ·

Nie net wit mans nie. Ek is amper 27 jaar in die SAP waarvan ek 21 jaar in dieselfde rang is.

Gys ·

Dit moet ook vir polisie reserviste gedoen word. Daar is baie mense wat baie geoei ervaring kan bring as n polisie reservis.

Ja-Nè ·

Gaan doen sommer so ondersoek by die Departement van Korrektiewe Dienste ook waar onbevoegde “offisiere” aangestel word met geen vorige ondervinding nie en slegs ‘n diploma wat ‘n RWK7 vlak het. Kan sommer met ‘n landbou diploma werk verrig wat administratief is en 90% op die rekenaar gedoen word, terwyl die persoon nie eers weet hoe om ‘n rekenaar aan te sit nie.

m.d.r ·

Weereens die gevolg van Regstellende Aksie.
Dis lankal tyd dat Solidariteit ophou om die GEVOLGE van hierdie bose stelsel te beveg, maar die wettigheid van Regstellende aksie self.
Ek bly sedert 1994 in koerantskrywes vra waar het die NP die mandaat gekry om in te stem tot hierdie stelsel wat ingesluit was in wet 200/93 ook bekend as die oorgangs-of interim grondwet.

Hierdie stelsel is blote Minderheids onderdrukking–maak nie saak watse rok jy daaroor wil hang nie.
Verwyder art 9.2 van die huidige grondwet en dan is daar geen regverdiging (vals soos dit is) vir swart bevoordeling nie.

Frikkie Geld en huis ·

As Solidariteit regtig iets goeds vir die blankes in SA wil doen, help hul om te emigreer.

JJ KEYSER ·

Werk al ongeveer 22 jaar by motorhawe as n motorwerktuigkundige. Daagliks moet ons hoor wat se swak werk ons lewer maar ons kry nie produk opleiding op voertuie nie . Staat sal liewer daai geld mors om agente te betaal om voertuie te herstel ten duurste. Hoe kan SAPD lede n diens lewer sonder hulle belangrikste hulp bron VOERTUIE. Kom aan SAPD gee ons die nodige kennis en gereedskap om ons werk te doen . Ag ons ook belangrik genoeg om ons te bevorder. Daar is swart kontstabels wat harder werk as die bestuur in die SAPD. Ons het net nodig dat die SAPD ons met waardigheid en respek behandel. Blykbaar ontgaan daai SKILL ons bestuur. Stel asb die regte mense met die regte vaardighede aan om ons te bestuur. Kom ons dink aan ons land en ons mense en bevorder die mense wat reg is vir die poste en wat vir dit verdien. Kom ons los nou die POLITIEK

Johannes Meintjes ·

Staatsdienskorrupsie, hetsy deur jarelange aksie of versuim, het toenemende gevolge vir ons mense se beveiliging en die ekonomie op grondvlak in SA. Dit is tans my beskeie belewenis dat hierdie probleme in die SAPD begin deurwys in GPF en “Cluster” strukture, wat op die beurt die effektiwiteit, maar ook die intgeriteit, van buurtwagte en plaaswagte begin benadeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.