Verslag toon SA se ‘huurmoord-hoofstad’

Die berugte Glebelands Hostel in Durban. Foto: ANA

ʼn Aktivis vir sosiale geregtigheid wat bekend is vir haar ontbloting van polisiemarteling en huurmoorde in uMlazi se berugte Glebelands Hostel, het gesê ʼn verslag wat vandeesmaand bekendgestel is, is verdere bewyse dat die Durbanse metro die land se huurmoord-hoofstad is.

“Die feit dat eThekwini die kern van die [beweerde huurmoorde] geword het, is nie verrassend nie gegewe sy giftige leierskap,” het Vanessa Burger aan African News Agency (ANA) gesê.

Burger, wat met die slagoffers van die Glebelands-geweld werk, het gereageer op die verslag “The Rule of the Gun” wat ondersoek ingestel het na kontrakmoorde en gepoogde huurmoorde in Suid-Afrika tussen 2000 en 2017.

Die gesamentlike verslag van 36 bladsye is deel van die “Assassination Witness”-projek en is uitgereik deur die Universiteit Kaapstad se sentrum vir kriminologie en die Global Initiative Against Transnational Organised Crime (GITOC).

“Volgens hierdie data – en ek glo dat die getal huurmoorde in KwaZulu-Natal aansienlik onder-aangeteken word – oorvleuel plaaslike regeringskorrupsie, die gebiede waar die ANC ʼn hegemonie handhaaf, en die hoë voorkoms van kontrakmoorde in die eThekwini-munisipaliteit, wat verreweg die hoogste sluipmoordkoers in Suid-Afrika het,” het Burger gesê.

Die verslag toon van 2012 tot 2016 het die eThekwini-munisipaliteit die hoogste getal politieke huurmoorde in die land gehad en dié moorde het plaasgevind in plaaslike munisipaliteite waar daar nie ʼn verandering in regering was sedert die 2016 plaaslike regerings- verkiesings nie.

“Die politieke sluipmoord- gebiede het nie ʼn verandering in mag beleef nie wat die moontlikheid skep dat dit dalk die gevolg van interne magstruwelinge binne die ANC kan wees,” lui die verslag.

In die verslag is daar ook melding van ʼn moontlike korrelasie tussen korrupsie en die sluipmoorde in die provinsie van 2012 tot 2016, maar die gevolgtrekking is gemaak dat die data nie voldoende was om enige “beduidende verhoudings of bedreigings” vas te stel nie.

Volgens die verslag lê die gebreke in die data juis waar daar staatgemaak word op mediese verslae of data van nie-winsgewende organisasies soos Corruption Watch. Corruption Watch het aan navorsers gesê dat hul data grootliks op Gauteng gefokus is aangesien hulle in Johannesburg gesetel is en meer uitreikprogramme in dié provinsie doen.

Ondanks dié feit stel die verslag dit dat hoewel Gauteng die hoogste getal korrupsieverslae het, KwaZulu-Natal “die hoogste voorkoms van potensieel korrupsie-verwante sluipmoorde” het.

Die verslag sê toe daar gekyk is na korrupsie-gevalle by die distriks- en plaaslike munisipaliteite oor die tydperk van 2012 tot 2016, het sluipmoorde voorgekom op tye toe munisipaliteite “ʼn beduiende aantal korrupsiegevalle gehad het”.

Die verslag, wat sluipmoord en sluipmoordpogings in vier kategorieë verdeel, dui daarop dat het die meeste sluipmoorde landswyd in die taxibedryf voorgekom (43%), gevolg deur politieke redes (22%), georganiseerde misdaad (22%) en laastens persoonlike redes (13%).

Die voorkeurmetode vir huurmoorde was vuurwapens (83%) gevolg deur steekwonde, verwurging, vergiftiging, aanranding en “voertuigongelukke”. Die voorkeurplek vir huurmoorde was binne of buite die slagoffer se huis.

KwaZulu-Natal het die hoogste aantal huurmoorde wat in dié tydperk aangeteken is (522 gevalle of 40%).

Dit het ook aan die lig gekom dat Gautengse taxibase dikwels KwaZulu-Natalse huurmoordenaars (izinkabi) huur om sluipmoorde tydens taxi-konflikte uit te voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

bgj van der westhuizen ·

ja en wie moet bedank word net die anc regering

Durbs ·

JAnee nou is HUURMOORDE weer op die voorgrond . solank dit net nie PLAASMOORDE is nie, daaroor word geswyg.

Vermeendes ·

Skryf eerder in Afrikaans, waar op aarde is eThekweni????

Cherokee ·

Nie waar op aarde nie maar wat op aarde;
eThekweni is die naam van die Durban Metro oftewel Durban se munisipaliteit soos die van Pretoria s’n Tswane heet sonder dat enige iemand weet wie of wat Tswane is. Jy sal egter verbaas wees om e weet waar die naam eThekweni vandaan is.

Geweldskultuur ·

Vra vir enige mense in die mediese bedryf, KZN is die geweldadigste plek, onmenslik, die kultuur daar is van haat en agressie.

CHRISTA ·

As die geskiednis nageslaan word sal julle oplet dat die Zoeloes van die begin af die mees geweldadige mense van ons land was. Hulle het altyd oorlog teen die ander stamme gemaak (nog voordat ons op die toneel was)! Moenie dat dit julle nou verras nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.