Verslag van Moerane-kommissie ʼn ‘nuwe hoofstuk’ vir ANC in KZN

Mdumiseni Ntuli en woordvoerder Nomagugu Simelane-Zulu (Foto: ANA)

Die ANC in KwaZulu-Natal het die verslag van die Moerane-kommissie oor politieke moorde beskryf as ʼn geleentheid om met ʼn “nuwe hoofstuk” te begin in dié provinsie.

Mdumiseni Ntuli, provinsiale sekretaris, het Woensdag tydens ʼn perskonferensie by die ANC se hoofkantoor in Durban gesê die party sal nie huiwer om vinnig op te tree teen enigiemand in die party wat ʼn rol gespeel het in dié misdrywe nie. “Ons doen ʼn beroep op ander politieke partye om dieselfde te doen.”

Willies Mchunu, premier van KwaZulu-Natal, het in Oktober 2016 die kommissie aangestel om die onderliggende oorsaak van politieke moorde in die provinsie vanaf 2011 te ondersoek.

Die 424 bladsy lange verslag wat verlede week Donderdag vrygestel is, bevat verklarings van meer as 60 getuies voor die kommissie. Die verhoor het langer as ʼn jaar geduur. Die verslag bevat ook sewe bladsye vol aanbevelings van diegene wat getuig het en voorstelle wat die kommissaris gemaak het. Al die aanbevelings is herhaaldelik gemaak deur aktiviste, kommentators, burgerregtegroepe en ANC-lede.

Ntuli het gesê die aanbevelings is nou “wetenskaplik” en “nie gebaseer op persepsies nie”.

Die aanbevelings sluit in dat politieke partye hul lede moet oplei oor demokratiese praktyke en verdraagsaamheid en dat diegene wat in die moorde betrokke was, dadelik by die betrokke owerhede aangemeld moet word. Die kommissie beveel ook aan dat tenderprosesse ondersoek moet word om seker te maak dat dit aan die Grondwet voldoen.

“Ons verbind onsself as die ANC om seker te maak dat alle foute, soos wat dit in die verslag aan die lig gekom het, aangepak sal word sodat alle elemente wat die beeld van ons provinsie benadeel, onthul en uitgeroei sal word.” Ntuli het bygevoeg ʼn provinsiale taakspan is op die been gebring en sal die aksieplan betaal om die aanbevelings te implementeer.

Die polisie het die afgelope paar weke verskeie persone in hegtenis geneem in verband met politieke moorde in die provinsie.

• ʼn ANC-raadslid is in ʼn saak in die hooggeregshof in Pietermaritzburg saam met vier ander verdagtes aangekla oor die sluipmoord van party-aktivis en voormalige raadslid Musawenkosi Mchunu, wat vroeër vanjaar by sy huis in kwaPata vermoor is.
• In nog ʼn voorval is die party se streeksekretaris in KwaDukuza, Musi Zondi, vandeesmaand skuldig bevind op aanklag van moord in verband met ʼn voorval in 2015. Hy wag om gevonnis te word.
• ʼn Verdagte is ook vandeesmaand in hegtenis geneem in verband met die moord op die voormalige sekretaris-generaal van die ANC-jeugliga, Sindiso Magaqa. Nog inhegtenisnemings word in dié verband verwag.

Ntuli het gesê die party wag op die uitslag van dié sake voor hy kommentaar kan lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack Klok ·

Reg. Volgende aan die beurt, ‘n Kommissie vir ‘n in diepte ondersoek na die oorsaak en gevolge van plaasmoorde?

Manie ·

Dit is hoe Afrika politiek werk. As jy nie hou van iemand laat jou hom/haar vermoor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.