‘Verslag versterk wanvoorstellings oor regstelaksie’

Paul Joubert. Foto: Reint Dykema

Paul Joubert. Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit sê die 14de jaarverslag van die Kommissie vir Billike Indiensneming is soos vorige jare deurmekaar en selfs misleidend.

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die slagspreuk op die voorblad van die jaarverslag “turning over a new leaf against all odds”. “Ongelukkig is dit duidelik dat die kommissie nie ʼn nuwe blaadjie omgeslaan het nie. Die vakbond lewer al sedert 2007 kritiek op die kommissie se verslae, maar die verslae bly deurspek met foute.”

Die SNI het vandag sy kritiese analise van die kommissie se nuutste verslag vrygestel. Joubert sê dit is betreurenswaardig dat die Kommissie vir Billike Indiensneming eerder wanvoorstellings versterk as om die dinamika van die arbeidsmark vir die minister van arbeid en die publiek te verhelder, soos dit veronderstel is om te doen.

“Regstellende aksie is ʼn baie sensitiewe onderwerp in Suid-Afrika. Dit is daarom belangrik dat die beleid en toepassing daarvan nie deur wanvoorstellings beïnvloed moet word nie. Derhalwe is dit die SNI se plig om jaarliks ʼn kritiese analise van die kommissie se verslae saam te stel,” sê Joubert.

Volgens Joubert fokus die kommissie weer sterk op die topbestuursvlak ten spyte daarvan dat die werknemers op hierdie vlak minder as 0,5% van die 5,6 miljoen werknemers wat deur die verslag gedek word, uitmaak. “Die kommissie betreur die hoë persentasie wit mans op hierdie vlak en skryf dit aan ʼn weerstand teen rassetransformasie toe. Daar is egter verskeie objektiewe redes waarom daar steeds ʼn relatief hoë persentasie wit mans op topbestuursvlak is,” verduidelik Joubert.

“Buiten die groot verskille in die akademiese kwalifikasies en verskillende ouderdomsprofiele tussen bevolkingsgroepe, is die klein aantal topbestuurders per firma verder ʼn belangrike faktor wat die relatief hoë persentasie wit mans in hierdie posisies kan verklaar. ʼn Firma wat byvoorbeeld slegs twee topbestuurders het, waarvan een wit is, kan slegs deur die toepassing van ‘n drastiese, onpraktiese en onregverdige maatreël, naamlik die afdanking van die wit persoon, bewerkstellig dat swart verteenwoordiging hoër as 50% styg.”

Joubert sê die kommissie se verkeerde interpretasie van sy syfers oor aanstellings en bevorderings is nog een van die groot foute wat in vanjaar se verslag herhaal word. “Die kommissie verwys byvoorbeeld daarna dat 41,3% van werknemers op seniorbestuursvlak wit mans is en dat 36,2% van die aanstellings en 28,9% van die bevorderings op dieselfde vlak ook wit mans is. Die kommissie vergelyk dan die syfers met wit mans se verteenwoordiging in die ekonomies aktiewe bevolking en kom tot die gevolgtrekking dat wit mans steeds buitengewoon begunstig word. In werklikheid dui die syfers juis daarop dat wit mans se posisie op seniorbestuursvlak en inderdaad op alle vlakke geleidelik afneem,” sê Joubert.

Joubert meen dat hoewel die data in die kommissie se verslae nie totaal onbruikbaar is nie, die SNI se kritiese analises toon dat daar nie op die kommissie se interpretasie van die data staatgemaak kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.